FW de Klerk, die geostrategiese nar

Die polemiek rondom FW de Klerk se oorgawe in die vroeë negentigerjare woed steeds voort. De Klerk se ondersteuners raak al hoe groter absurditeite kwyt, soos byvoorbeeld: al is die gevolge van die De Klerk-Meyer-oorgawe aan die ANC sleg, was die daad op sigself ‘n goeie ding. Ekskuus? Dis soos om te sê: o wel, die pasiënt is op die operasietafel dood, maar die operasie self was “geslaag”.

In die gange van die Nasperskoerante moet daar konsternasie heers, want vir twintig jaar of langer is die Afrikaner se denke vanuit Heerengracht, Kaapstad beheer. Ons Afrikaners het Beeld, Rapport en Die Huisgenoot gelees, alles vir soetkoek opgevreet en soos skape vir die Nasionale Party gestem, denkende dat die Broederbond, NP en Naspersredakteurs ons toekoms op die hart dra en “weet wat hulle doen”.

Vir die eerste keer in dekades besef die gemiddelde Afrikaner waarskynlik vandag dat hy liederlik vir die gek gehou is en wemel koerantbriewe en internetkommentare van ontnugtering, selfs wanhoop. Tim du Plessis probeer in vandag se Beeld wal gooi teen dié golf van ontnugtering wat oor die Afrikaanse media spoel deur De Klerk se kritici as “‘n klompie suur, wit regses” af te maak.

De Klerk is die liefling van Naspers en die steeds deur Afrikanerhaat besete Britse media. In hulle oë is FW ‘n held omdat hy ‘n einde gemaak het aan die Afrikaner se vryheidsideaal wat vanaf 1790 geduur het en ons finaal “geïntegreer” het by die Engelse “reënboognasie” wat hulle so graag in Suid-Afrika wou sien.

Ongelukkig is ek van mening dat die openbare beeld en reputasie van FW de Klerk ná die spontane volksuiting van die afgelope paar dae soveel skade gely het dat hy soos ‘n dronk geslane bokser in die kryt waggel. In die gehoor juig al sy joernalistieke ondersteuners nog, maar ek voorspel dat hy binnekort soos ‘n os gaan neerslaan.

Die Franse beskik oor ‘n mooi uitdrukking vir die finale slag of uitklophou: die coup de grâce, om iemand uit sy lyding te verlos deur hom die genadeskoot te gee.

Ek wil vandag hier vir Tim du Plessis en Max du Preez en die Naspersdireksie en al FW de Klerk se lojale media-ondersteuners sê dat hulle held nou liefs sy handskoene moet ophang en van die toneel moet verdwyn. Hulle moet ook ophou om hom op te hemel, want die foute wat hy begaan het, is onverdedigbaar, krimineel. Die geskiedenis oordeel reeds baie hard oor hom en gaan vorentoe nog meer ongenaakbaar wees.

Oor een ding sal ek met De Klerk se juigkommando saamstem: dié man is ‘n historiese fenomeen. Nie net omdat hy waarskynlik die grootste Afrikanerverraaier van alle tye is nie, maar ook omdat hy ‘n geostrategiese hanswors is.

Toe die Berlynse muur val en die Oos-Berlyners oor die Glienickebrug stroom, het die geskiedenis aan De Klerk ‘n sonderlinge geleentheid gebied om sowel sy land as die hele subkontinent van die kommunisme en ander radikale, sosialistiese ideologieë te verlos. Dis tog waaroor ons die Angolese oorlog geveg het en waaroor ons miljoene rande aan die tuislande en aan UNITA bestee het, in ‘n poging om gematigde swart bondgenote in dié wêrelddeel te ondersteun ten einde ons te vrywaar van die rooi verskrikking wat in Oos-Europa, China, Kuba en elders tot die dood van 100 miljoen mense in die twintigste eeu gely het.

Kortom: De Klerk het ‘n geostrategiese geleentheid in ‘n ramp omskep. Pleks daarvan dat hy die slag wat die radikales in 1989 ontvang het, gebruik het om van die hele Suider-Afrika ‘n veiliger en meer welvarende plek te maak, het hy soos ‘n harlekyn voor die TV-kameras aan die radikale ANC-SAKP oorgegee.

Op 2 Februarie 1990 het De Klerk oor ses atoombomme en die magtigste weermag in Afrika beskik. Met die ineenstorting van die kommunisme in Oos-Europa en die ANC se gepaardgaande verlies aan bondgenote, wapens en ondersteuning, was dié organisasie soos ‘n bobbejaan op ‘n tak wat so pas afgesaag is. Binne enkele maande sou die ANC tesame met die Kommunistiese partye van Oos-Europa permanent van die toneel af verdwyn.

Kuba, wat deur die Sowjetunie met wapens en energie gesubsidieer is, sou binnekort op sy knieë wees, sonder petrol of valuta om enigiets in te voer. Dat Kuba se militêre avontuur in Angola, wat die Marxistiese MPLA in daardie land aan bewind gehou het, op ‘n einde was, sou selfs ‘n blinde kon raaksien.

Indien Suid-Afrika maar net oor ‘n middelmatige staatsman as president in 1990 beskik het, sou hy ingesien het dat hier nou ‘n ongekende geleentheid was om ‘n nuwe orde van konserwatiewe wit en swart bondgenote te skep met die Afrikaners in Suid-Afrika, asook die tuislandleiers en hul volgelinge, die DTA in Suidwes, die gematigde Tswanas van Botswana, UNITA in Angola en moontlik ‘n nuwe party soos Morgan Tsvangirai se Beweging vir Demokratiese Verandering in Zimbabwe wat beheer in daardie land kon oorneem.

PW Botha se “konstellasie van state” of selfs ‘n Suider-Afrikaanse konfederasie was ‘n sterk moontlikheid.

Wêreldkommunisme was op sy sterfbed en daarmee saam die kommunistiese of radikale linkse bewegings in Suider-Afrika. Maar wat doen De Klerk, Pik Botha en Roelf Meyer? Hulle werp ‘n lewensboei na die “comrades”! Benewens al die rampspoedige binnelandse gevolge van De Klerk se oorgawe, verdoem hy die hele Suider-Afrika tot ‘n kommunistiese hegemonie met al die radikale bewegings aan bewind in die volgende lande:

Angola – MPLA

Suidwes/Namibië – SWAPO

Zimbabwe – ZANU-PF

Mosambiek – Frelimo

Suid-Afrika – ANC-SAKP

As gevolg van De Klerk se geostrategiese sotterny, woed ‘n burgeroorlog in Angola waardeur die land jare lank verwoes word. Jonas Savimbi, die dapper en charismatiese leier van die Ovimbundu, die grootste etniese groep in Angola wat feitlik op sigself die meerderheid van die land se bevolking verteenwoordig, word uiteindelik soos ‘n hond deur ‘n sluipmoordenaar doodgeskiet. Onder Frelimo se radikale, linkse regering is Mosambiek op ‘n stadium tot die armste land ter wêreld gereduseer. In Namibië kom SWAPO met fanfare aan bewind, verbied Afrikaans en stel grondhervorming in.

In Zimbabwe verdryf ZANU-PF met Robert Mugabe aan die stuur al die blankes uit die land, verwoes die ekonomie en veroorsaak dat vier miljoen ekonomiese vlugtelinge in Suid-Afrika beland.

Sonder die volgehoue steun van die ANC in Suid-Afrika, wat aan hom valuta, voedsel en elektrisiteit verskaf, sou Robert Mugabe nie drie maande gehou het nie.

Terwyl De Klerk die 240 miljoen mense wat in die lidlande van SAOG (die Suider-Afrikaanse ontwikkelingsgemeenskap) woon tot ‘n vorm van kommunistiese oorheersing verdoem, steek hy in Suid-Afrika sy generaals in die pad, laat die atoombomme afbou en oorhandig sonder slag of stoot die sleutels van die Uniegebou aan die ANC!

Ongelooflik! Afgesien van Don Quijote wat sy windmeulens bestorm het, was daar nog nie so ‘n groot gekheid in die wêreldgeskiedenis nie.

Wat sou die ekwivalent in Europa gewees het? ‘n Mens moet regtig rondsoek in jou verbeelding en allerlei kinderlike moontlikhede oorweeg. Maar gestel De Klerk was president van Frankryk in 1990. Hy sien hoe Duitsland herenig word onder kapitalisme en Rusland wat insgelyks van kommunisme afstand doen onder Gorbatsjof se perestroika, met die volksoewereiniteit van Pole, Tsjeggië, Hongarye, ens. wat herstel word.

Hierop roep De Klerk die kwynende Franse Kommunistiese Party, met sommer daarby ‘n paar uitgeweke Italiaanse terroriste van die Rooi Brigade en ander bomplanters in en sê: “Man, ek sien julle kommuniste kry deesdae swaar in die wêreld. Maar vat hierso, hier is ‘n dokument wat ek geteken het. Van nou af aan is julle in bevel van die vloot, die weermag, die lugmag. Die staatsradio en -televisie is ook julle s’n. Gebruik dit goed: saai al die propaganda uit wat julle wil; oortuig die bevolking daarbuite dat kommunisme en sosialisme iets wonderliks is. Ons sal julle help.”

Natuurlik is so iets belaglik en onvoorstelbaar, dat die ineenstorting van kommunisme in Oos-Duitsland en Rusland tot ‘n kommunistiese oorname in Frankryk kon lei, maar dit is presies wat De Klerk en sy “onderhandelingspan” in Suid-Afrika en Suider-Afrika reggekry het. Hulle het die ANC en SAKP in 1990 van die hartlongmasjien afgehaal en nuwe lewe in die kommunistiese Frankenstein geblaas, met die rampspoedige gevolge wat ons vandag ervaar.

Soos hulle sê: die werklikheid is vreemder as fiksie.

As ‘n mens bietjie terugstaan van die onmiddellike situasie en na die groter prentjie kyk, dan gaan De Klerk se sotlikheid die verstand te bowe!

Pleks daarvan dat hy in 1990 enkele maande gewag het dat die ANC se bankrekening in Londen opdroog, dat Umkhonto we Sizwe se Oos-Duitse en Russiese instrukteurs na Berlyn en Moskou teruggeroep word en die organisasie, in Trotski se gevleuelde sinsnede uit 1917, “in die asblik van die geskiedenis, waar hulle hoort” verdwyn, oorhandig hy die Uniegebou, die SAUK, die weermag, Eskom, Transnet, die Landbank, ons munisipaliteite, skole, universiteite, de lot, aan die terroristebende wat besig was om hul finansiële en militêre steun uit Oos-Europa te verloor.

Aan die ANC sê hy by implikasie: voer jule oorlog teen die Afrikaner met die middele van die Afrikaner!

Selfs Zimbabwe kan op De Klerk se brood gesmeer word, want was dit nie vir sy gekke oorgawe nie, sou ‘n Suid-Afrikaanse president by sy volle positiewe lankal ons weermag in Zimbabwe ingestuur, Mugabe afgesit en vir oorlogsmisdade verhoor het en die land weer tot sy voormalige glorie en voorspoed herstel het.

Met al die wapens wat die Arikaneringenieurs van Krygkor besig was om in 1990 te ontwikkel – onder andere die Rooivalk-aanvalshelikopter – en met die Kubane en Oos-Duitsers op pad huis toe, sou ons die oorlog in Angola lag-lag gewen het en waarskynlik ‘n gemagtigde, demokratiese bewind in daardie land gevestig het.

Die sosialisme het in November 1989, moontlik vir altyd, ‘n geweldige knou gekry. Wêreldwyd het sosialistiese partye gekwyn en kommunistiese partye verdwyn. Daarom, net soos wat die meeste lidlande van die Europese Unie vandag deur sentrumregse of Christelik-Demokratiese partye geregeer word, sou Suider-Afrika ná die rooi aanslag deur gematigde regerings gelei gewees het.

Die Kaap sou weer Hollands gewees het.

Pleks van die geopolitieke geleentheid van 1990, soos soveel ander leiers ter wêreld, met albei hande aan te gryp en hul volke van kommunisme te bevry, het FW egter presies die teenoorgestelde keuse gemaak. Met sy handjie wat in Mandela s’n vasgeklem word, het hy vír radikalisme, revolusie, transformasie en die res van Marx, Engels en Lenin se drekkige idees gekies.

Vandag ly ons, die Zimbabwiërs en die 200 miljoen mense van Suider-Afrika daaronder.

As FW soos Bram Fischer ‘n oortuigde kommunis was, sou ek nog respek vir hom gehad het. Maar hy is net ‘n Dopper van Potchefstroom wat goedgelowiges met naïewe sêgoed en clichés oor “demokrasie” vermaak.

Geostrategies is De Klerk veel meer as ‘n amateur. Nie net in die Afrikanergeskiedenis nie, maar in die wêreldgeskiedenis, moet hy as die grootste gek van alle tye gereken word.

Dat hy hom tans met ‘n verdere hansworsery oor Afrikaans besig hou, asof die taal nie die doodskoot gekry het die dag toe hy die ANC carte blanche gegee het om hulle revolusie oor ons te kom voer nie, bewys eintlik net dat hy ongeneeslik is. Hy kan nie eens sy nuwe vrou kry om Afrikaans te praat nie, wat nog te sê die taal red.

Suid-Afrika het, soos meer en meer mense besef, ‘n volslae sirkus geword. Ons moet egter net onthou wie die hoofnar was wat die bende makabare grapmakers uit hul hok op ons losgelaat het: Frederik Willem de Klerk.

play ikДанильченко Юрий Брониславович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.