Bied weerstand teen misdaad!

ImageBurgers van enige staat het die reg om van die owerheid te verwag om te sorg vir ‘n veilige omgewing, maar in Suid-Afrika gebeur dit nie meer nie en word ons nog daarby deur hierdie land se Wetgewer aanbeveel om geen weerstand te bied nie en ‘n aanvaller eerder sy sin te gee.  Die rede daarvoor is omdat dit tot voordeel van die staat strek, net soos dit in kommunistiese Rusland gebeur het. Maar ons moet juis veg met alles tot ons beskikking. Ons kans op oorlewing is veel beter wanneer ons met weerstand reageer. Vir ‘n groter lafaard as hyself het die aanvaller geen genade nie, maar aggressiewe weerstand is ‘n verrassende reaksie waarop hy meestal nie voorbereid is nie.  Dit is moontlik net dié aarseling by hom wat vir u die uitkomsgeleentheid gee.

Om te kapituleer is om plek te maak vir die vyand wat ons leefruimte en ons land inneem waarna die wenner se voorkeure geld. Soos Alexander Solsjinitsin sê: “Om ‘n dief kwyt te skeld, is om ‘n goeie man dood te maak.” Geen weerstand bevorder dus misdaad!

Ons moet ook leer om geen empatie en begrip vir die aanvaller te koester nie. Wat in hierdie land gepropageer word oor verdraagsaamheid teenoor misdadigers en oor fatalisme, strook nie met God se voorskrifte nie. Christene word verwar oor die reg om hulle eie lewens te verdedig. Dit is nie u Christelike plig om vir hom simpatie te toon nie! Wanneer hy u lewe bedreig, is dit wel u Christelike plig om dit ten alle koste te beskerm.

Oefen potensiële aanvalle met visualisering in u daaglikse situasies deur uself te vra: Wat doen ek nou as ek hier aangeval word?” Dit moet tweede natuur by u word.  Daarom moet u goed op hoogte wees van wat die beste reaksie vir elke situasie sal wees, dit wil sê u moet vertroud wees met ‘n paar wetsaspekte, en u moet  weerbaarheidstrategie inoefen vir alle denkbare omstandighede. Die ingeligte word die sterkere.

Daar is baie wapens tot ons beskikking in ons nabye omgewing, ons besef dit net nie altyd nie. Wanneer ons die slagoffer word van roof, verkragting, aanranding of kaping, moet ons reeds bewus wees van wat in ons omgewing bruikbaar is as beste wapen, hetsy dit ‘n vuurwapen is, ‘n skêr, ‘n mes, ‘n sweep, ‘n besemstok, ‘n ysterpyp, sleutels of selfs ‘n pen. Wanneer u aangeval word, is dit te laat om te beplan waarmee u uself wil verdedig. Waar u ook al sit, staan, lê, ry of werk, besluit vroegtydig wat die beste wapen binne u bereik sal wees indien u aangeval word. Maak dus vroegtydig voorsiening om die beste wapen moontlik, te alle tye byderhand te hou. En ken u wapen, hoe dit in u hand voel, sy vermoë, byvoorbeeld hoe sekuur u vuurwapen skiet. Oefen gereeld en maak seker dat u ten volle daarmee vertroud is.

Ten spyte daarvan dat wetgewing by implikasie van die slagoffer verwag om nie gewelddadig weerstand te bied nie, mag ‘n persoon wetlik darem steeds geweld gebruik wanneer hy “wederregtelik” aangeval word en sy lewe, liggaam of eiendom bedreig word, en mag hy homself verdedig teen hierdie bedreiging. Dit word genoem “noodweer” of “selfverdediging”. In hierdie verband is artikels 42 en 49 van die Strafproseswet 51 van 1977 van belang wat onderskeidelik handel met die inhegtenisneming van ‘n vermeende misdadiger deur ‘n privaat persoon (art 42) en die gebruik van geweld in sodanige gevalle (art 49).

Noodweer sluit egter in dat selfverdediging nie skadeliker of dodeliker mag wees as wat nodig is om die gevaar af te weer nie, bv. wanneer ‘n persoon iemand ‘n klap gee, mag hy nie die persoon doodskiet nie, dit sou onredelik wees. Maar dit is byvoorbeeld baie redelik om onmiddellike doodskote te vuur wanneer vyf persone gewapen met swaaiende pangas, byle of vuurwapens in die nag op ‘n mens afstorm. Dan is dit defnitief nie die tyd vir waarskuwingskrete of -skote nie en is dit regverdig om te skiet om te dood. Dus moet u blitsvinnig oordeelkundigheid aan die dag lê en op daardie besluit handel. Wat ons ook moet weet is dat die meeste aanvalle deesdae as ‘n gewapende roof klassifiseer en dat u lewe feitlik altyd tydens so ‘n roof in gevaar is, wat meebring dat u eerder moet skiet om te dood as om self gedood te word.

Dit mag ook gebeur dat u byvoorbeeld ‘n inbreker in u huis betrap wat besluit om te vlug. U mag hom nie van agter skiet nie want volgens wetgewing mag mens nie meer skiet om eiendom te beskerm nie en behoort hy gearresteer te word. Oor arrestasie moet ons ook weet wat die wet voorskryf:

Daar moet eers gekyk word na die Eerste Bylaag tot die Strafproseswet No 51 van 1977.  Enigiemand het die reg om iemand te arresteer indien hy ‘n goeie rede het om te glo dat daardie persoon betrokke is by die pleging van ‘n Eerste Bylaag-misdryfIn die Eerste Bylaag word verwys na verskeie misdrywe waaronder diefstal en dan ook “… inbraak by of betreding van ‘n perseel met die opset om ‘n misdryf te pleeg…”. Persone wat sulke misdrywe pleeg of probeer pleeg mag deur ‘n privaat persoon gearresteer word en indien die verdagte hom verset mag geweld gebruik word wat redelikerwys nodig is en proporsioneel in die omstandighede is om die verset te bowe te kom. So ‘n verdagte kan selfs gedood word in sulke omstandighede as dit onmiddellik noodsaaklik is of daar ‘n wesenlike lewensrisiko bestaan vir die persoon wat die arrestasie uitvoer.  

As u lewe nie in gevaar is op daardie oomblik nie, mag dit wys wees om hom eerder te laat gaan. Indien u wel besluit om hom te arresteer en hy hom verset, mag u hom met geweld “redelikerwys” onder bedwang bring al sou daar ernstige beserings of selfs sy dood ontstaan, maar weer eens met in agneming oor watter wapen hy beskik het. Dra egter sorg dat alle getuienis van ‘n geweldadige arrestasie onomwonde strook met die erns van die misdaad. 

Dus het u wel nog die reg om op te tree teen ‘n verdagte persoon wat in u teenwoordigheid ‘n ernstige misdryf pleeg of poog om te pleeg. Moenie toegee nie, veg ten alle koste. En wees elke oomblik gereed om self u lewe te verdedig!

воронеж техноФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.