‘n Land mét mense

Deel op

Ongelooflike geskiedkundige tonnelvisie, noem Volksblad vanoggend ‘n siening dat mnr. F.W. de Klerk 20 jaar gelede die land se lot ondergeskik moes stel aan die regte van minderhede.

Die grondslagfase van Politieke Wetenskap en ander staatswetenskappe leer egter dat geen grondgebied ‘n land kan wees sonder mense nie. Wanneer in landsbelang opgetree word, kan dit dus nie geskei word van die belang van die inwoners nie. Minderhede geniet ook volkeregtelike regte om hul belange te verskans.

Ook oor die opsies wat tot ‘n land se beskikking is om die realiteite en aspirasies te versoen, is ‘n magdom beproefde modelle beskikbaar, terwyl niks die betrokke land verhinder om uit ervaring van ander en eiesoortige omstandighede ‘n nuwe model saam te stel nie.

Om dan uit pas met al hierdie opsies op te tree en te verwag dat alles sal regkom dui op “ongelooflike geskiedkundige tonnelvisie.”

Die pot kan die ketel dus met gemak verwyt.

Trouens, uit die harde nuusberigte wat met die Rubiconvieringe saamgeval het, is dit duidelik dat die skeptici oor hoe sake aangepreek is, ‘n besliste voordeel het omdat hulle die huidige realiteit kan kritiseer sonder dat die feesgangers met harde feite kan bewys dat ‘n meer politiek-wetenskaplike oplossingsbenadering ook sou faal.

Die politieke wetenskaplikes kan wel put uit die voordele wat meer wetenskaplike opsies elders in die wêreld ingehou het waar ook staatkundige opsies gevolg is wat dan staatsregtelik en in pas met die volkereg neerslag vind.

Daar word gereeld gewag gemaak daarvan dat Suid-Afrika se grondwet op die Indiese geskoei is. In werklikheid is dit hoogstens ten opsigte van die hoofstuk oor menseregte waar.

Die eerste verskil kom reeds in by die spesiale verskanste setels wat Indië se oorspronklike inheemse bevolking, die sowat 30 miljoen Adivasi, in die sentrale parlement het. Verder maak die grondwet voorsiening dat die deelnemende state se grense volgens die woonverspreiding van groepe getrek word, en word nog etniese deelstate gevorm wanneer die behoefte ontstaan.

Net oorkant ‘n nou seestraat, in Sri Lanka, het ‘n etniese burgeroorlog 26 jaar lank gewoed, voor die Singalees-oorheersde regering deur militêre mag die Tamil-opstand onderdruk het. Wat Sri Lanka nou beleef, is geen model vir vrede nie. Die pas-afgelope verkiesing is deur geweld gekenmerk, en die president, as kandidaat met ‘n hardvogtige houding teenoor die Tamilaspirasies, is oorweldigend herkies. Dit verhoog die polarisasie. In die buiteland het die Tamils in diaspora ‘n sambreelliggaam gevorm om te besin oor hoe om die stryd verder te voer. Voor die einde van die burgeroorlog het hulp ter waarde van sowat $300 miljoen per jaar die Tamil-opstandelinge bereik.

Die land hou, volgens die opposisie, nog derduisende Tamils in interneringskampe aan, en beweer dat die president self agter die bevel tot die pleeg van oorlogsmisdade staan. Sri Lanka beklee die 162ste posisie uit ‘n moontlike 175 op die persvryheidsindeks, en volgens Verslaggewers sonder Grense het onverdraagsaamheid jeens die media na die verkiesing nog verder toegeneem.

Maak die politieke wetenskaplikes hulself skuldig aan dieselfde soort oppervlakkigheid as die media se kundigheidsvlak op hierdie terrein, is dit eenvoudig om te sê Suid-Afrika se grondwet het meer ooreenkomste met dié van Sri Lanka as met dié van Indië. Op die staatkundige terrein is niks egter so eenvoudig nie, en baie van die vertolkings wat nou gelees en gehoor word het meer te make met ideologiese oogklappe as politiek-wetenskaplike suiwerheid.

Net omdat ter aanvang die fout gemaak is om teen alle staatkundige en staatsregtelike logika in die liberale opsie te volg, beteken nie dat die saak nie later meer wetenskaplik suiwer beoordeel kan word nie.

Begrawe ego’s en tree vir ‘n slag in belang van die land én sy mense, ál sy mense, op

online casino freeтопкарго

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.