FW se toespraak: dit kon anders gewees het

Deel op

Die nuusblaaie is deesdae vol van FW de Klerk se 2 Februarie 1990 toespraak en vandag is dit presies 20 jaar gelede dat hierdie historiese oomblik plaasgevind het. Die toespraak opsig self het natuurlik nie dadelik die hele politieke bestel in Suid-Afrika omgekeer nie, maar die aanloop tot die 1994-verkiesing ingelui. Dit het natuurlik ‘n einde aan blank-oorheersde Suid-Afrika gemaak en die land in ‘n veelrassige een-mens-een-stem demokrasie omskep is. Die ANC slaan natuurlik die kitaar sedert daardie verkiesing en ten spyte van swak regering, nepotisme, korrupsie ens lyk dit nie of sy volstrekte meerderheid in die volgende paar verkiesings bedreig word nie. Om die waarheid te sê, dit blyk dat die nuwe SA “demokrasie” gesetel is in faksies in die ANC wat soos politieke partye regeringsverandering inlei.

Om terug te keer na FW se 1990 toespraak. Is dit waar soos wat koerantredakteurs, joernaliste en eertydse politici beweer dat FW die beste van ’n slegte saak gemaak het? Dat daar geen alternatief was nie en dat die “beste grondwet ter wêreld” nie anders sou lyk nie?  Of is die voormalige “regses” korrek deur te sê dat FW die wittes en die Afrikaners uitverkoop het vir ’n pot lensiesop (die Nobelprys vir vrede)? Is dit waar dat wittes in duisende vermoor word en teen ons gediskrimineer word omdat ons wit is, terwyl FW en sy mede-leiers van die tyd soos popsterre lewe – in wynlandgoedere woon, oorsee rondswerf terwyl die res van die Afrikaners die ANC se magsbehebtheid en disfunksionele regering moet opvreet?

Eerstens moet ek erken dat FW se ontbanning van die ANC/SAKP en die nuwe orde wat dit geskep het onwillekeurig onder enige NP-bewind sou gebeur het. Die skrif was reeds aan die muur en sedert 1976 het internasionale reaksie teen die apartheid-regering ’n NP of selfs ’n DP-regering geen keuse gelaat nie. PW Botha het reeds enorme toegewings gemaak, maar geweier om die politieke gesag prys te gee. Hy wou eerder ’n veelrassige staat regeer deur wittes sien as ’n volle demokrasie. Maar wat sou na FW gebeur het? Ek dink nie die KP het ’n realistiese kans gehad om die regering oor te neem nie. (Ek wil tog later bespiegel wat sou gebeur het as ’n KP-regering oorgeneem het). Daarvoor het hulle net te min ekonomiese invloed gehad en die massa-media is deur die NP beheer (amper soos die TV media vandag deur die ANC beheer word). Dit laat ons met opvolgende NP regerings wat moontlik deur die DP ondersteun sou word om verder te “hervorm” totdat die onvermydelik sou gebeur het. Dink net wat se toegewings ’n NP-regering onder Kortbroek van Schalkwyk aan die ANC sou doen.

Die vraag is wat sou alternatiewe vir FW in die onderhandelings gewees het. Daar was natuurlik die opsie van ’n staatsgreep gelei deur Gen. Constand Viljoen. Viljoen het egter vroeg in 1994 tot die besef gekom dat duisende Afrikaners in so ’n staatsgreep sou sterf aangesien dit nie ’n swart teen wit burgeroorlog sou wees nie, maar ’n Afrikaner teen Afrikaner burgeroorlog. Die een groep sou natuurlik gesteun word deur die internasionale gemeenskap, die swart massas en die lojale polisie/weermag. Teen daardie agtergrond het Viljoen (wat terloops ook as verraaier uitgekryt word) sy opsies oorweeg  en besluit die prys is net te hoog om te betaal.

Hoe sou die regering onder die KP gelyk het (hoewel redelik onwaarskynlik). Ek dink daar is konsensus dat so ’n regering onder enorme druk sou verkeer het van die internasionale gemeenskap, onder sanksies sou ly, die ekonomie sou gekrimp het en die swart bevolking ongekende geweld sou gebruik om aan hul frustrasies uiting te gee. Ek twyfel egter of so ’n situasie tot ’n interne wit-swart oorlog sou aanleiding gee soos gereeld deur FW, Pik Botha en ander gepropageer word. Die staat sou funksioneer soos baie ander outoritêre regerings tans regeer, insluitend die meeste Afrika regerings, Noord-Korea, Iran, Sjina en Myanmar. Ons sou buitelandse valuta ontvang deur die verkoop van minerale – selfs met sanksies in plek. Dit kon geskied deur eenvoudig sanksies te omseil soos Suid-Afrikaners reeds meer as ’n dekade gedoen het. Die swart massas sou deur geweld onderdruk moes word en die verwydering van ringleiers sou tydelik selfs tot vreedsame jare kon lei soos na 1976 die geval was. Die ekonomie sou sonder twyfel ’n geweldige knou gekry het, maar ek twyfel of dit sou ineen stort soos De Klerk onlangs in die pers aangedui het. Dit sou nietemin ’n tydperk van ekonomiese swaarkry en negatiewe groeikoerse gelei het.

Wittes sou veilig wees in hul eie woongebiede, geen instroming van plattelandse swartes sou stede in reuse plakkerskampe verander het nie, die grense sou veilig gewees het, apartheid sou gehandhaaf word, Nelson Mandela en ander ANC leiers sou in die tronk gebly het, wit Suid-Afrikaners sou nie in baie lande toegelaat word nie, daar sou natuurlik geen sprake wees van sportspanne wat internasionaal deelneem nie en sanksie omseilers sou stinkryk word as middelmanne. Nog meer geld sou in die swart tuislande gestort word en die KP-regering sou wou wys dat swart woongebiede dienste verkry en nie verdruk word nie. Die polisie en weermag sou met ’n ysterhand regeer het. Internasionaal sou Suid-Afrika nog verder geïsoleer word, maar geen land sou dit waag om militêr teen ons op te tree nie. Eerstens sou die SA weermag sy selfvoorsiening nog selfs verder verbeter het, terwyl ons ook oor die magtige kernbom beskik het. Hierdie is egter nie ’n baie rooskleurige prentjie nie. Ek glo die meeste wittes sou in hierdie omstandighede weer glo in die utopia van ’n veelrassige demokrasie wat deur FW/Pik/Kortbroek verkondig sou word en ‘n NP/DP alliansie sou weer oorneem.

Die laat die vraag oor hoe kon FW en Roelf Meyer en ander hulle onderhandelings gebruik het om ’n Suid-Afrika te skep waarin die blankes en meer spesifiek Afrikaners meer tuis sou voel. Om dit in perspektief te sit, moet ons gaan kyk na die posisie van mag waarvan die NP-regering en die ANC as hoofspelers en enige werklike partye wat die onderhandelingsproses destyds kon deurvoer. Die ANC het in Nelson Mandela die verpersoonliking van ’n swart god gehad. Hy is deur jare deur die internasionale media opgebou as die verpersoonliking van die onderdrukte swarte in SA, die swart messias wat SA moes red. Ek twyfel of Mandela so vergewingsgesind teenoor wittes sou wees as die onderhandelings anders verloop het. Ja, hy was ’n nugter denker in die ANC teenoor die heethoofde soos Chris Hani en ander, maar sy legende is eintlik gebou op FW en ander se toegewings teenoor die ANC. Dit was nie vir hom nodig om ’n harde politikus te wees nie. ‘n Ander, militante Mandela sou verrys het as die NP hul ruggrate styf gemaak het. Die ANC het die morele hoe grond gehad as die bevryders van die onderdrukte swart massas en die werklike “verteenwoordigers” van die veelrassige samelewing. (Dit het natuurlik later geblyk om slegs lippetaal te wees vir ’n meer rasbehebte en rassistiese regime as die vorige). Verder het hulle die mensemassa gehad wat massa-optogte kon lei, geweld aanblaas en opponente soos Inkatha ondersteuners intimideer. Hulle het ’n terugkeer na die gewapende stryd as troefkaart gehad, wat in militêre terme egter nie veel meer beteken het as ’n bom hier en daar in winkelsentrums nie. Sielkundige impak dus. Hul groter mag het gelê in die swart massas se opstand teen “onaanvaarbare” NP eise in die onderhandelingsproses en hulle sou dit gebruik.

Die NP aan die ander kant het as regering al die staatsmag gehad. Dis ironies dat hierdie gebrek aan staatsmag die wittes vandag so weerloos laat teen die ANC se disfunksionele regering. Die polisie en die weermag kon tot ’n mindere of meerdere mate optree teen enige onwettigheid. Die staat het al die finansiële mag van die land tot hul beskikking gehad, hulle het simpatie van Westerse regerings gehad omdat hulle apartheid wou verwyder en ’n nuwe orde skep, hulle het nie meer die vrees gehad dat die Sowjet kommuniste die ANC befonds en beheer het nie.

In hierdie omstandighede het die balans miskien eerder aan die NP-regering behoort as aan die ANC. Die probleem was dat dit nooit benut is nie. Ek glo dat De Klerk en Roelf Meyer wel werklik gepoog het om die beste vir die land en sy mense daar te stel met die uiteindelike onderhandelde skikking. Hulle was egter naïef genoeg om te aanvaar dat die duisend jaar vrede dan gaan aanbreek en die ANC ’n verantwoordelike regering sou wees. Hulle het gedink Mandela se vredesgesindheid sou aan alle opvolgers van die bejaarde leiers afsmeer. Hulle het nie die realiteit van Afrika magspolitiek besef nie. Dit is natuurlik ondenkend dat na 50 jaar van onafhanklikheid vir Afrika state die NP regering steeds geglo het die ANC gaan ’n demokratiese, veelrassige, werkbare en verantwoordelike regering wees. Intussen het gebeur wat maar in alle Afrika state gebeur – swak of geen dienslewering, verryking van die elite, wanbestuur, korrupsie ens.

Myns insiens moes die NP die volgende beginsels onderhandel het en uit ’n posisie van mag geweier het om van hierdie beginsels afstand te doen. Dit kon gedoen word terwyl van apartheid ontslae geraak word om aan almal te wys dat hulle ernstig is ’n verandering te bewerkstellig:

  • Witmense en/of Afrikaners sou ’n blok setels in die parlement en provinsies kon verkies. Hierdie Afrikanerblok sou ’n veto oor sekere veranderde of nuwe wetgewing hê wat minderheidsregte bedreig.
  • Afrikaans en Engels sou die enigste twee amptelike tale wees. Ander tale kon in streek of provinsies amptelik wees bv Tshwana in Noordwes en Zoeloe in Natal. Engels mag nie voorkeur kry in enige staatsinstelling bo Afrikaans nie.
  • Afrikaanse skole en tersiêre instellings sou gevestig word naas tweetalige en Engelse skole en instellings. Geen skool of universiteit se status sou verander word sonder die toestemming van die Afrikaner blok in die parlement nie.
  • Stadsraadsafbakening sou nie verander word om die ANC se bevoordeel soos wat die ANC in Pretoria gedoen het nie.
  • Dorps- en straatname kon slegs met konsensus van minderhede verander.
  • Regstellende aksie sou deur wetgewing beperk word en gedryf word en uitnemende nie-blankes in reeds werkende staats- en ander instellings te inkorporeer.
  • Staatskorporasies moes verkoop word aan Suid-Afrikaners (geen buitelanders) en hoofde moes deur praktiese ekonomiese beginsels verkies word deur aandeelhouers.
  • Regstellende aksie sou binne 15 jaar geheel en al uitgefaseer word.
  • Onwettighede sou nie geduld word nie. Die polisie en geregshowe wat deur kundige wittes bestuur word, sou nie toelaat dat plakkerskampe soos paddastoele verrys nie, miljoene oor landsgrense stroom ens nie.
  • ’n Afrikanervolkstaat sou geïdentifiseer word en met staatsgeld gefinansier word om daardie Afrikaners te akkommodeer wat nie deel van die multikulturele demokrasie wil wees nie. Soos met die Bantoe tuislande, sal die staat jaarliks miljarde rande beskikbaar stel om hier selfregering te bevorder. ’n Enkele stuk grond soos bv die Noord-Kaap word hiervoor opsy gesit. Geen apartheid of uitsetting van swartes word toegelaat nie, maar die grondgebied het sekere konfederale regte insluitend grensbeheer wat oor ’n tydperk van 10 jaar ontwikkel moes word.

Ek hoor baie skeptici wat hierdie voorstelle weglag en verwerp. Die ANC sou dit nooit aanvaar het nie, hoor ek. Party van hierdie eise kon dalk nie slaag nie, maar as 4 of 5 hiervan ingebou is in ’n onderhandelsooreenkoms sou die wittes en Afrikaners nie so neerslagtig, bevrees en ontmagtig gewees het soos vandag nie. Indien die NP-leiers meer ruggraat getoon het, sou die ANC dit moes aanvaar. Ek glo die meeste regerings in die Westerse wêreld sou so ’n kompromis aanvaar het. Dis tog duisend keer beter as apartheid en ’n wit minderheidsregering.

Natuurlik is hierdie argumente nie vandag regtig relevant nie. Die NP het mag oorhandig en die wittes is soos tweederangse burgers in hul eie staat. Die ANC sal vandag nooit enige van hierdie voorstelle oorweeg nie en hulle hoef nie eens nie. Hulle gaan hulself net verder bevoordeel, die magspolitiek gaan verder seëvier soos in ander Afrika state gaan die minderhede onderdruk word. Die enigste werklike krag waaroor die oorblywende wittes beskik is sy geldelike mag met gevolglike druk op die staat en die geregshowe (hoewel hierdie moontlik op die lange duur maar ook ’n rubberstempel vir die regerende party sal word soos in Zimbabwe).

Afrikaners is op hulself aangewese om hulself te organiseer in selfverdedigingseenhede (plaasboere het reeds begin) en die speel van die magspolitiek. Dit beteken dat ons Afrika se magspolitiek moet speel en nie terugstaan en die minste probeer wees nie. Om moet die lui, slegte staatsamptenare moeg maak om diens te kry, ons moet die howe gebruik (solank ons kan), ons moet ons Afrikaner pers en sakemanne ompraat om iets groots vir die Afrikaner te doen bv die stig van uitnemende private skole oor die land of ’n Afrikaanse universiteit in Oudtshoorn. Ons moet die bruin mense (ongelukkig tans ’n minderheid van hulle) wat Afrikaners wil wees met ons saamneem om te wys ons is nie rassiste nie. Ons moet die regering wys Orania kan werk deur hulle te ondersteun en te maak werk eerder as om vir daardie mense te lag of belaglik te maak soos baie Afrikaners wat nog nie daar was nie doen. Begin met die bou van ’n reuse uitnemende kosskool vir Afrikaners daar en rig ’n groot ouetehuis daar op met Afrikanergeld. Is dit nie beter as om ons ou mense wat in Sunnyside/Arcadia rondloop tussen Nigeriese druglords te los nie?

Kom ons wees kreatief.

mobile roulette free bonustopcargo отзывы сотрудников

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.