Volksgenote in diaspora

Deel op

‘n Oppervlakkige analise van beduidende bevolkings in diaspora is dat hulle in die lande waarheen hulle of hul voorouers uitgewyk het, geneig is om radikaler te wees as hul volksgenote op die tuisfront.

Hierdie siening kan gevorm word aan die hand van die wapens en morele ondersteuning wat die Ierse Republikeinse Leër uit veral die VSA gekry het, die jongste verwikkelinge rondom Sri Lanka en die Tamils, en Armeniërs in diaspora ten opsigte van onder meer die bedrywighede in die 70’ger en 80’ger jare van ASALA.

Wat dan, met bykans ‘n miljoen Afrikaners in diaspora?

Maar alvorens ‘n mens hierdie verskynsel ontleed, is dit nodig om te kyk of dit altyd so geldig is.

Word na Israel en die Jode in diaspora gekyk, is die boodskap baie gemeng. Jode dra wel baie tot Israel se ontwikkeling by, en via hul stemkrag in onder meer die VSA, ook op regerings om minstens verdraagsamer teenoor die Israelse saak te staan.

‘n Gemengde boodskap kom uit die geledere van Palestyne in diaspora. Terwyl niemand kan betwis dat sogenaamde vlugtelingkampe in onder andere Libanon niks meer as Hamas-teelaardes is nie, is die Palestynse lobby in die VSA meer afgerond en beredeneerd.

Verskeie faktore bepaal die georganiseerde aard van volksgenote in diaspora, en nog te meer hoe radikaal hulle is.

Maar selfs dan verskil hulle. So het Suid-Afrikaners hulle in ‘n stadium om elke hoek en draai in winkelassitente en ander mense vasgeloop wat nie Afrikaans magtig is nie, en flink aanvoer: “I come from Rhodesia.” Hierdie Rhodesiërs in diaspora het hulle gou teen die hele politieke spektrum hier bevind, soos Clive Derby-Lewis in die KP en daarna die gevangenis, Cherryllyn Dudley in die ACDP as parlementslid, en Mary Metcalfe binne die ANC. Metcalfe se bande met Rhodesié staan ook meer in die dampkring van ‘n vlaag Zimbabwiese vlugtelinge.

Dit is moeilik om die dinamika te verstaan wat onderliggend was aan die Amerikaanse Iere se fiksasie met die IRL se stryd. In Ierland self was die IRL verbied, maar die Amerikaanse Iere het wapens, geld en ander hulp na dié organisasie en die meer radikale INLA aangestuur asof dit uit die mode raak.

Die Iere in die VSA is ook ongeveer vier keer meer as die Iere in Ierland self. (‘n Tikkie ironie in die lig van ou Keltiese verwysings na die mistieke land in die Weste as “groot Ierland.)”

In die VSA kon hierdie groep, as Rooms Katoliek in ‘n oorwegend Protestantse omgewing, hul identiteit betreklik goed behou. In Ierland, veral Noord-Ierland, is die “inheemse” Iere minderwaardig geag deur Protestantse immigrante uit veral Skotland. Dit is hierdie Skotse nasate wat op bande met Brittanje bly aandring het.

Die Armeniërs in ballingskap is hoofsaaklik afstammelinge van die kernbevolking wie se hartland in die huidige Turkye was. So volledig is hulle vroeg in die 20ste eeu deur die Turke uitgemoor dat min ensiklopedieë eens Armeens as ‘n taal noem wat in Turkye gepraat word. Die Armeniërs was die oudste Christenvolk in die wêreld, en het eeue lank as Christenbolwerk teen Mosleminvalle gedien. Hulle het in die proses dikwels erg die spit afgebyt.

Danksy noue bande tussen ‘n ‘n Armeense ekskalwe aan die Turks-Meditireense kus en die Franse koningshuis, het baie van hierdie Armeniërs na onderdrukking begin het hulle in Frankryk gevestig, maar ook elders in Europa en ‘n beduidende groep in die VSA. In hierdie lande moes hulle toesien hoe dié lande via NAVO in ‘n bondgenootskap met Turkye tree.

‘n Groep wat hulle in Libanon gevestig het, het ten spyte daarvan dat hulle aansluiting by die Libanese Christene gekry het, in noue aanraking met die radikale Palestynse groepe gekom en ASALA (Armenian Secret Army for the Liberation of Armenia) gevorm.

Om die Tamil Tiere se stryd in Sri Lanka in isolasie te sien, is ‘n fout. In Indië maak die Tamils met sowat 65 miljoen sprekers ‘n groot deel van die bevolking uit, en is ‘n belangrike komponent van die land se Drawadiese bevolking wat grootliks deur Indo-Germaanse taalgroepe oorheers word. Trouens, Indië se amptelike taal, Hindi, is ‘n Indo-Germaanse taal en bykans dieselfde as Oerdoe, die amptelike taal van Pakistan. Wêreldwyd is die getal Tamilsprekers sowat 70 miljoen, wat dit getallegewys bo van die wêreld se gerekende tale plaas. Dit het ‘n ou, opgetekende literêre geskiedenis waarop die Tamils baie trots is.

Maar In Sri Lanka is die Tamils ‘n minderheid, nie net in taal nie, maar ook in die Hindoe-godsdiens teenoor die meerderheid Singalese wat hoofsaaklik Boeddhisties is. Buite Sri Lanka en Indië is sowat ‘n miljoen Tamils in diaspora – met ander woorde Tamils wat in die lande waar hulle nou woon, steeds met die Tamilsaak in Sri Lanka identifiseer. Veel meer praat nog Tamil as oorblyfsel uit die koloniale tydperk toe hulle wêreldwyd “uitgevoer” is as arbeid op suikerplantasies soos in Suid-Afrika, Guyana en eilande in die Stille Oseaan.

Na raming het sowat $300 miljoen aan geld en wapens die Tamil Tiere jaarliks in hul 26 jaar lange stryd teen die Singalese bereik.

Van baie bevolkings in diaspora word bykans nooit gehoor nie. ‘n Interessante voorbeeld is die Assiriërs wat nie net in Sirië ‘n Christen-minderheid vorm nie, maar ook in Australië ‘n beduidende gemeenskap in stand hou.

Oor hoe die meerderheid Suid-Afrikaners in diaspora, die sogenaamde eksas, voel, is daar nie eenvormige duidelikheid nie. ‘n Groot groep het duidelik geëmigreer met die doel om burgers van hul nuwe vaderlande te word, ander werk tydelik daar met die idee om terug te keer, en ander bekyk die kat uit die boom.

Hierdie saak sal waarskynlik eers behoorlik onder die loep geneem kan word wanneer ‘n volgende algemene verkiesing gehou word. Met die vorige is op kort kennis via ‘n hofbevel magtiging verkry om te mag stem, maar tyd om die nodige dokumentasie te bekom en as kiesers te registreer was te min, en die logistiek om te stem was dikwels ontoereikend. Wat egter duidelik is, is dat die ANC weinig steun onder die “eksas” geniet. Wat dit betref, is die algemene “hulle” en “ons” karakter van Suid-Afrikaners in diaspora nie anders as ander gemeenskappe in diaspora nie.

монтаж трековых светильников на шинопроводе ценатопкарго кидалы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.