FW de Klerk se glansende daad van verraad

Deel op

Op die vooraand van die twintigjarige herdenking van 2 Februarie 1990 toe FW de Klerk besluit het om Nelson Mandela en sy medegevangenes van die ANC en SAKP vry te laat en die verbod op dié twee organisasies op te hef, beleef ons die wrange nalatenskap van die sogenaamde “onderhandelings” van destyds.

In die referendum van 1992 is die toentertydse blanke kiesers gevra om “ja” of “nee” te stem op die volgende, oënskynlik onskuldige, vraag: “Is u ten gunste van die voortsetting van die Staatspresident se hervormingsproses wat op 2 Februarie 1990 begin is en gemik is op die daarstelling van ‘n nuwe grondwet deur onderhandeling?”

In die lig van De Klerk en Roelf Meyer se optrede kort daarna, asook die verwikkelinge sedertdien, sou daardie referendumvraag eerder só moes gelui het: “Is u ten gunste van ‘n militêre oorgawe aan die ANC en SAKP, met die oorhandiging van die weermag en alle outomatiese wapens aan Umkhonto we Sizwe, asook die instelling van grondhervorming, rassediskriminasie teen blankes op alle gebiede en die uitfassering van Afrikaanse skole en universiteite?”

Indien dié vraag destyds gevra is, sou waarskynlik net ‘n klein groepie radikales en Engelssprekendes in 1992 “ja” gestem het. Die res sou saam met die KP en HNP “nee” gestem het.

Vele mense noem Max du Preez, Carl Niehaus, Antjie Krog en Ruda Landman “verraaiers” omdat hulle as gebore Afrikaners die ANC se ideologie verinnerlik het en vandag deelneem aan ‘n politieke en propagandaveldtog teen hul eie mense. Maar ek is van mening dat elkeen, ongeag sy of haar afkoms, vry is om sy politiek of idees te kies. Soos Schopenhauer egter gesê het: “Slegs ‘n minderheid mense is vatbaar vir oortuiging. Die meerderheid is slegs vatbaar vir gesag.” Vele Afrikaners in die huidige bedeling wat die heersende ideologie van politieke korrektheid en anti-blanke rassisme aanhang, is eintlik maar meelopers en hul idees sal waarskynlik môre met ‘n handomkeer verander indien ‘n andersoortige regering aan bewind kom. Soos die hensoppers en hanskakies van ouds, is sulke mense “geleentheidsverraaiers” en doen hulle dit heel openlik, waarskynlik omdat hulle voel dat hulle deur die maghebber teen weerwraak uit eie geledere beskerm word.

Die ergste vorm van verraad, myns insiens, word gepleeg deur iemand wat voorgee om lojaal teenoor sy volk te wees, maar agteraf – en skelm – eintlik met die vyand heul om sy eie mense tot ‘n val te bring. Hierdie soort verraaier is deur die Latynse skrywer Cicero beskryf toe hy gesê het:

“‘n Volk kan sy dwase, selfs die eersugtiges onder hulle, oorleef, maar nie verraad uit die binnekring nie. ‘n Vyand voor die poorte is minder vreesaanjaend, want hy word uitgeken en hy laat sy vlae openlik wapper. Dog die verraaier beweeg vrylik tussen diegene binne die poorte terwyl sy slinkse fluisteringe deur al die gangetjies ruis en selfs in die regeringsetel self hoorbaar is. Want die verraaier verskyn nie as verraaier nie – hy praat op ‘n toon wat aan sy slagoffers welbekend is, sy aangesig en sy gewaad is soos hulle s’n, en hy beroep hom op ‘n soort gemeenheid wat diep in die harte van alle mense verskuil lê. Hy vermurwe ‘n nasie se siel – hy werk heimlik en ongesiens in die duister om die stutpilare van ‘n stad te ondergrawe – hy besmet die staatsmasjinerie totdat dit van alle weerstand beroof is. Selfs van ‘n moordenaar is minder te vrees.”

Vele mense glo dat FW de Klerk en Roelf Meyer nog eendag sal teregstaan en deur ‘n Afrikanerhof, selfs ‘n krygshof in die geval van ‘n staatsgreep of revolusie, verhoor sal word om te bepaal of hulle werklik in hul gemoed aan verraad skuldig was en of hulle bloot uit dwaasheid of naïwiteit gehandel het. Ek wil nie so ‘n, eventuele, verhoor vooruit loop nie en kan daarom nie oor De Klerk se ware motiewe ‘n oordeel vel nie.

Dat daar egter, soos hulle in die reg sê, ‘n prima facie-saak van verraad teen hom en Roelf Meyer bestaan, is gewis. Waarop grond ek dié stelling? Kom ons kyk na enkele aspekte van De Klerk en Meyer se optrede gedurende daardie ysingwekkende maande voor Mandela se kroning by die Uniegebou in 1994.

Hoewel die referendum oor “onderhandeling” gegaan het, beplan De Klerk en veral Meyer reeds vroegaan ‘n volslae oorgawe aan die ANC wat metterwoon ‘n militêre oorgawe sou word, met die oorname van die bevelstruktuur van die weermag, tesame met alle pantser en outomatiese wapens, deur Umkhonto we Sizwe, APLA en ander gewapende groepe aan ANC-kant. De Klerk dank trouens ‘n groot groep van sy generaals op versoek van, let wel, Mandela, af omdat dié sogenaamd dalk die “hervormingsproses” (wat sedertdien die “Nasionale Demokratiese Revolusie” geword het) in die wiele kon ry.

Toe die NP se hoofonderhandelaar, dr. Tertius Delport (tans DA-parlementslid), ‘n regsgeleerde, vassteek by sekere van die ANC se onredelike eise om alle mag, ook oor die Afrikaner se toekoms, te bekom, dank De Klerk hom summier af en stel vir Meyer aan. Volgens oorlede Chris Louw, wat die onderhandelings destyds as joernalis gedek het, het Meyer vroeg-vroeg met die NP-kabinet begin onderhandel om die ANC se voorstelle te aanvaar, eerder as wat hy met die ANC onderhandel het om enige NP-voorstelle aan te neem. Selfs De Klerk het op ‘n stadium blybaar teenoor die voortvarende Meyer, wat enkele jare later letterlik ‘n kaartdraende lid van die ANC geword het, uitgeroep: “Maar my God, Roelf, nou het jy ons mos uitverkoop!”

Soos Pieter Mulder vanoggend op RSG laat blyk het, het De Klerk en die Nasionale Party nog tydens die algemene verkiesing van 1989 ‘n kragdadige standpunt ingeneem dat “terrorisme met hand en tand beveg sal word” en dat Afrikaans en eie skole en woonbuurte “ononderhandelbaar” was. Van “onderhandelings” was daar toe glad nie sprake nie. En van oorgawe allermins!

Die wonderbaarlike oorname van Suid-Afrika, die enigste nywerheidsland in Afrika en ‘n militêre moondheid van formaat, deur ‘n radikale kliek uitgewekenes van die ANC/SAKP wat destyds nog deur die veiligheidsdienste van die VSA en baie ander lande as ‘n derderangse terroristegroep geklassifiseer is, moet as een van die sonderlingste gebeure in die geskiedenis gesien word. Sonder FW de Klerk se verraad teenoor sy eie kiesers, ondersteuners en natuurlik die hele Afrikanervolk, sou hierdie vreemde staatsgreep wat onder die dekmantel van “onderhandelings” oor “wigte en teenwigte”, “groepsregte” en “demokrasie” uitgevoer is, geensins moontlik gewees het nie.

Interessant is ook dat die liberale politikus Frederik van Zyl Slabbert, self ‘n verloopte Afrikaner en destydse kritikus van sogenaamde “apartheid”, verwys na De Klerk in sy boek, Duskant die geskiedenis. Tydens ‘n gesprek tussen Tjol Lategan en Van Zyl Slabbert kom die volgende na vore (bll. 35-36):

“Ek (Slabbert) vra hom eendag tydens middagete, ‘Tjol, wat dink FW gaan hy bereik?’ Hy sê, ‘Moenie jy jou bekommer nie, Van Zyl. Ons kapituleer glad nie. FW gaan hulle by onderhandelinge betrek en dan tien jaar lank die pas markeer.’ Ek sê, ‘Julle besef nie met wie julle te doen het nie.’ Niks som hierdie dwaasheid beter op nie as genl. George Meiring se eie woorde: ‘Ná die inhuldiging is ek gevra om aan die president se tafel te sit. Ek weet nie hoekom ek gekies is nie. FW de Klerk het ook aan die hooftafel gesit – hy sê vir my terwyl ons na die verbyvlug en ander verrigtinge kyk, ‘Ons hoef regtig nie so maklik in te gegee het nie’ (sy woorde). Ek sê vir hom, ‘Maar jy het nooit jou sterk basis gebruik  om vanuit te onderhandel nie, jy het nooit die militêre magte gebruik as ‘n magsbasis wat jy tot  jou beskikking gehad het nie, jy wou dit nooit gebruik nie.’ Hy het net stilgebly, en daarna het ons nie weer gesels nie. Sedert daardie dag is daar nie ‘n goeie gees tussen ons nie.'”

Natuurlik is De Klerk se oorgawe aan die ANC, wat die land sedertdien met sy “ontplooide kaders” en skurke na willekeur regeer en na hartelus plunder, in die Britse en Amerikaanse media as ‘n “wonderwerk” opgehemel. Ons moet egter onthou dat Groot Brittanje oor die afgelope twee honderd jaar nog nooit die bestaan van die Afrikanervolk as inheems aan dié land en aan Afrika erken het nie. Trouens, Brittanje het slegs in die kort wyle tussen 1883 en 1899 ons reg op selfbeskikking erken en in 1910 is die Unie in die Britse Gemenebes ingedwing waar ons onder andere in twee wêreldoorloë as kanonvoer vir die Britte gebruik is. Kort ná die radikale Britse priester, Trevor Huddleston, se terugkeer na Brittanje vanuit Suid-Afrika in die laat vyftigerjare, het Britse linkses begin om ‘n grootskaalse propagandaveldtog teen ons land en veral teen Afrikaners te voer.

Die sogenaamde “wêreldwye kritiek op apartheid” was niks minder as anti-Afrikanerhisterie wat uit Londen en veral deur die linkse Guardian en die BBC aangeblaas is nie. Die plaaslike Engelse koerante wat grotendeels onder beheer van die Britsgesinde koloniale mynhuise gestaan het, het insgelyks Afrikanerregering as ‘n “misdaad teen die mensdom” begin verdoem en die weg op revolusie voorberei. Trouens, niemand minder nie as Bram Fischer, die ondergrondse leier van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, het die rol van die Engelse pers hier te lande in die sestigerjare so beskryf: “They are doing a sterling job.” Die land se komplekse etniese, taalkundige en politieke probleme is tot enkele eenvoudige slagspreuke gereduseer met die onderliggende implikasie: die Afrikaner moet magteloos gestel en liefs vernietig word.

Ontredderd en ontwapen soos tans, is ons ‘n maklike prooi vir sowel die ANC-bewind wat die land se pantser en outomatiese wapens beheer, asook die duisende moordbendes wat huise en plase na hartelus aanval. Die vraag kan gerus gevra word: het terrorisme in 1994 aan sy einde gekom of woed dit tans in ‘n ander gedaante voort, in die vorm van sogenaamde “misdaad”?

De Klerk se ‘nuwe era’

In die lewe van elke volk is daar hoogtepunte en laagtepunte. Terwyl die ANC-gesinde media in dié land en veral Nasionale Pers die oorgawe van 1994 konstant as “onvermydelik” en “‘n goeie ding” probeer ophemel, weet die gewone Afrikaner vandag van beter. Hy ervaar die geweld, onreg en korrupsie van De Klerk se bestel aan eie bas.

Pleks van “die begin van ‘n nuwe era” soos 2 Februarie 1990 aan ons voorgehou word, verteenwoordig dié datum, asook 27 April 1994, ‘n laagtepunt in ons geskiedenis. Soos soveel mense al gesê het: Ná die militêre neerlaag van 1902 teen Brittanje kon die destydse Boereleiers nogtans die eer en waardigheid van hul volk by die onderhandelingstafel red. Hoewel elke plaas deur die verskroeide-aardebeleid vernietig is, het elke boer nog steeds kaart en transport op sy grond gehad. In weerwil van Britse oorheersing, het Nederlands en later Afrikaans tog gelyke status teenoor Engels bekom. Hoewel Engelse die stedelike ekononomie en die mynhuise beheer het, was Afrikaners nogtans grondwetlik gelyk met Engelse en kon hulle op alle regte – ook op Afrikaanse skole en universiteite – aanspraak maak.

Hoe lyk dinge ná 1994? Beskik ons nog oor kaart en transport op ons grond? Is Afrikaans nog gelyk met Engels? Is ‘n blanke Afrikaner gelyk met ‘n Engelssprekende swarte wat vir bemagtiging, regstelling en ander vorme van rasgebaseerde groepsregte kwalifiseer?

Die vreemde bondgenootskap tussen die Naspersbase soos Ton Vosloo en Koos Bekker en De Klerk is iets wat nader ondersoek behoort te word. Hoewel “FW” en “De Klerk” vloekwoorde in die meeste Afrikaners – selfs die liberales, die linkses en die gays – se monde geword het, hou koerante soos Beeld, Die Burger en Rapport vol om oor “ons wonderlike grondwet” en De Klerk se “briljante onderhandelings” te skryf. Tesame met die SAUK wat onder direkte ANC- politieke beheer staan, tap Naspers hierdie propaganda by Afrikanerhuise teen dieselfde tempo in as wat die ANC die riool of suur mynwater in ons spruite en riviere laat loop.

Net gister het Max du Preez – daardie propagandawoewoezêla en meeloper van die ANC-regime – weer honend in Rapport die huidige vlaag Afrikanerontevredenheid só afgemaak:

“Mmm. Vergeet van die Eeu van Onreg of die Nag van die Lang Messe. Ek sien die Oomblik van Groot Ontgogeling in ons nabye toekoms. Die een of ander tyd gaan die besef skielik op die nuwe weerspanniges neerdaal dat daar nie ’n manier is waarop hulle die lokomotief van meerderheidsregering kan stuit nie. Dan gaan hulle voel soos die vier bloeiende Boerekrygers van die AWB in die stof langs hul grys Mercedes aan die einde van die Bophuthatswanakatastrofe in 1994: mislei en verraai deur leiers wat valse hoop verkwansel het.”

In die doktrine van Marx en Engels is daar iets soos “historiese onafwendbaarheid”, wat kortom beteken dat wêreldkommunisme sal seëvier, kom wat wil. Max du Preez se stellings herinnner my nogal daaraan, dat die “lokomotief van meerderheidsregering” onstuitbaar soos Marx en Engels se “spook van kommunisme” deur die geskiedenis donder en alles – ook die lydende Afrikanervolk – in sy dolle vaart uit die pad vee.

Ook dreig Du Preez ons sommer namens die ANC dat ons soos honde doodgeskiet gaan word indien ons hoegenaamd hierdie dwingelandy van rasse- en taaldiskriminasie sou bevraagteken.

In Oos-Europa en elders het diktature of eenpartystate waar die bevolking in elke verkiesing met meer as tagtig of negentig persent vir die regerende party gestem het egter tot ‘n val gekom. Die Baltiese state (Litaue, Letland en Estland) met hul piepklein bevolkings het van die magtige Sowjetunie afgestig en is vandag vry en onafhanklik.

Net so min as wat die Berlynse muur vir altyd die mense van Oos-Duitsland (die sogenaamde Duitse Demokratiese Republiek) van vryheid kon weerhou, gaan De Klerk en Mandela se “Demokratiese Republiek van Suid-Afrika” en sy muur van onvryheid ons permanent in bedwang hou.

Om die gevolge van De Klerk se verraderlike oorgawe in perspektief te stel, hoef ‘n mens net twee kolomme op te stel wat die Afrikaners se posisie vóór en ná 1994 opsom:

Vóór 1994 Ná 1994
Gedeelde gebiedsaanspraak op die 1 200 000 vk. km. van die RSA Geen grondgebied
Taalgelykheid met Engels Taalgelykheid met die onderontwikkelde Afrikatale en ongelykheid teenoor Engels
3000 Afrikaanse skole en 5 Afrikaanse universiteite

300 Afrikaanse skole en geen Afrikaanse universiteite

Min of geen gewelddadige sterftes onder Afrikaners ‘n Tweede volksmoord: ongeveer 5000 gewelddadige sterftes onder Afrikaners per jaar, 80 000 in totaal

Weermag en polisiemag grotendeels onder Afrikanerbeheer

Weermag en polisiemag onder vreemde beheer

500 000 outomatiese wapens, tenks en pantser onder Afrikanerbeheer

500 000 outomatiese wapens, tenks en pantservoertuie onder vreemde beheer

Eskom, Telkom, Transnet, SAL verskaf werk aan Afrikaners Eskom, Telkom, Transnet, SAL dank Afrikaners af
Yskor onder Afrikanerbeheer en staatsbesit Yskor in Britse besit

Eiendomsreg, met kaart en transport vir boere

Eiendomsreg aangetas en grondhervorming
Gelykheid teenoor Engelse Ongelykheid teenoor swartes, kleurlinge en Indiërs
Taal- en kultuurregte Min of geen taal- en kultuurregte
Omgewingsbesoedeling onder beheer Omgewingsbesoedeling buite beheer
Riolering word onderhou
Riolering stort in duie
Onderhoud van paaie Swak onderhoud van paaie
Goed funksionerende staatshospitale Wanfunksionerende staatshospitale
Behoorlike plaaslike bestuur en munisipaliteite Vervallende, korrupte munisipaliteite
Vrye deelname aan die ekonomie Beperkte deelname aan die ekonomie weens rassebepalings van die De Klerk-Meyer-grondwet
SAUK grotendeels onder Afrikanerbeheer SAUK onder ANC-beheer

 

 

 

 

De Klerk se tweede volksmoord

Soos die Britse lords – Milner, Roberts en Kitchener – wat ‘n raps meer as ‘n eeu gelede ‘n volksmoord teen ons gepleeg het, het De Klerk deur sy verraderlike en onvoorwaardelike oorgawe aan die ANC en die Umkhonto-terroristebende ‘n tweede volksmoord teen sy eie mense, die Afrikaners, ontketen. Soos die Britse lords voor hom, was hy sy hande in onskuld. Hy pleeg nie self die geweld nie, maar hy het die omstandighede geskep vir ons mense om vermoor, verkrag en verdryf te word.

Niemand weet presies hoeveel Afrikaners gewelddadig sedert De Klerk se revolusie omgekom het nie. Sulke syfers word geheim gehou, want waarskynlik sal dit ‘n skandaal veroorsaak indien dit ooit moes uitlek. Die globale syfer vir Suid-Afrika oor die afgelope sestien jaar is ongeveer 500 000, ‘n klein bietjie minder as die 800 000 wat in ‘n ander groot Afrikavolksmoord, dié in Rwanda, die lewe gelaat het.

Informeel beweer lede van die polisie wat hulle met moordondersoeke besig hou dat tagtig persent van moorde op blankes in Suid-Afrika “rasgemotiveer” is. Weens die rassehaat wat oor die afgelope sestien jaar – ook via die SAUK se TV- en radiopgramme – aangeblaas is, kan ons verwag dat daar proporsioneel meer Afrikaners as swartes vermoor word. Indien ons slegs ses persent van die bevolking is, is daar waarskynlik meer as ses persent moorde teen ons gepleeg, waarskynlik in die orde van tien persent. Tien persent van die 500 000 moorde sedert 1994 = 50 000.

Nie net is 50 000 Afrikaners oor die afgelope sestien jaar vermoor in die grootste slagting sedert 1899-1902 nie, maar ‘n miljoen Afrikaners het landuit gevlug om aan geweld, besoedeling, gesondheidsgevare en erge rasse- en taaldiskriminasie te ontkom.

In sy boek “Hunnen in Süd-Afrika”, het die Duitser Wilhelm Vallentin oor die Britse en swart verkragtings van Boerevroue tydens die ABO geskryf:

“Wat die gevolge van hierdie gedwonge geslagsverkeer met die gesonde, kragtige Boerevroue en -meisies vir die toekoms van die land inhou, kan aan die fantasie van die onbevooroordeelde persoon oorgelaat word.”

Die onnoembare vraag wat De Klerk se “demokrasie” aan ons opdring, is: Hoeveel Afrikanervroue is sedert 1994 verkrag? Met hul mans en seuns ontwapen, geïntimideer deur wette wat selfverdediging deur ‘n blanke feitlik strafbaar maak en saggemaak deur propaganda, is ons vroue en meisies weereens aan die seksuele geweld van ‘n besetter uitgelewer.

Weereens swyg die regime in alle tale oor verkragtings van Afrikanervroue. Ons weet egter dat daar in De Klerk se “nuwe era” elke sewentien sekondes ‘n vrou verkrag word. Dit beteken rofweg dat daar elke 283 sekondes, oftewel elke vyf minute of so ‘n Afrikanervrou verkrag word, dit wil sê, 12 per uur, 288 per dag, 2016 per week of 104 832 per jaar….

‘n Mens kan verder uit hierdie statistiek aflei dat ongeveer tien persent van die totale Afrikanervrouebevolking jaarliks verkrag word. Vroue, meisies, ma’s, oumas, voor die voet. Verkragting op hierdie skaal is, net soos massamoord, ‘n oorlogsmisdaad of misdaad teen die mensdom.

Dis nie te sterk gestel om te sê dat De Klerk regstreeks of onregstreeks vir hierdie tweede volksmoord in die Afrikanergeskiedenis verantwoordelik is nie. Sonder sy onbesonne daad van volslae oorgawe – “Ons hoef regtig nie so maklik in te gegee het nie,” soos hy dit teenoor genl. George Meiring gestel het – sou hierdie ramp nooit plaasgevind het nie. Selfs die fameuse “bloedige burgeroorlog” wat soveel idiotiese Naspers-kommentators – soos Mad Max, maar daar is ook ander – altyd ophaal as De Klerk se oorgawe bevraagteken word, sou nie tot soveel sterftes en verkragtings gelei het as dít wat die “De Klerk-vrede” ons besorg het nie. ‘n Volskaalse oorlog tussen Afrikaners en die Xhosa-geleide ANC van destyds sou, gegewe ons toentertydse voordeel in wapentuig en opleiding, net een uitkoms gehad het: ‘n Afrikaneroorwinning. Met ‘n ANC wat militêr platgeslaan sou gewees het, sou daar sekerlik maklik “onderhandel” of gehandel kon gewees het.

Pleks daarvan beleef ons tans een van die donkerste ure in ons geskiedenis, waar ons nie eens weet of daar nog plek vir ons kinders in die Suid-Afrika van môre gaan wees nie.

Asof die vrees vir die moordbendes en verkragters wat ons daagliks teister nie genoeg is nie, word ons deur gekoopte lafaards soos Max du Preez in “die grootste Afrikaanse Sondagkoerant” met summiere teregstelling, vermoedelik deur amptenare van die mislukte De Klerk-staat, gedreig.

Dis nou “menseregte”, dis nou “demokrasie”.

free slotsлобановский класс харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.