TLU SA kan nie anders nie as om die Minister van Behuising, Tokyo Sexwale se stelling dat met die invoer van die huurarbeiderswet, boere “miljoene” arbeiders weggejaag het wat nou in plakkerskampe sit, te verwerp nie.
“Mnr. Sexwale maak hom skuldig aan dieselfde soort uitsprake soos wat ander ministers voorheen gemaak het, en wat net ‘n algemene stelling is sonder enige bewyse,” sê TLU SA se president, mnr. Ben Marais. “Die regering moet ophou om sake te dryf waarvan die bewyse ontbreek en wat kan lei tot roekelose optrede.”
“Dit sal mnr. Sexwale meer loon om eers sy feite reg te kry, voordat hy emosionele uitsprake maak wat reeds bedreigde boere, verder bedreig. Die feite is dat werkers wat hulle werk op plase verloor het, slegs ‘n byna weglaatbare deel uitmaak van inwoners van plakkerskampe, en dan bowendien in die meeste gevalle hulle werk verloor het as gevolg van beleid wat die ANC-regering self geïmplementeer het.
Die oorgrote meerderheid van die jongste intrekkers van plakkerskampe, is afkomstig uit Afrika noord van die Limpopo, omdat mnr. Sexwale se regeringskollegas nie grensbeheer wil toepas nie. As hy nie sy beloftes van huise vir almal kan nakom nie, moet hy heel eerste gaan kyk na sy eie regering se aandeel daarin, in plaas daarvan om die boere as maklike teiken te blameer vir iets waaraan hulle geen aandeel het nie,” sê mnr. Marais.