As Suid-Afrika sy bod om die Square Kilometer Array (SKA) radioteleskoop te huisves, wen, sal die vraag of daar ruimteweses is dalk beantwoord word, het pres. Jacob Zuma Sondag in Etiopië gesê.
“As gevolg van die tegnologie wat gebruik word is dié teleskoop sowat 50 tot 100 keer meer sensitief as enige ander radioteleskoop op aarde en sal dit die hoeke van die heelal kan indring. Dit sal help om vrae in die veld van astronomie, wetenskap en wêreldkunde te beantwoord en kan selfs dalk wesens elders raaksien,” het Zuma gesê.
Suid-Afrika en Australië ding mee vir die geleentheid om die multimijatdrand SKA-teleskoop te huisves. Dié teleskoop sal navorsers die geleentheid gee om ‘terug te kyk in tyd’ tot amper by die heelal se begin.
Zuma het gesê dat as Suid-Afrika sy bod wen sal ander dele van Afrika ook voordeel trek daaruit.
“Om die SKA-teleskoop te huisves sal ook die res van Afrika se vermoë in wetenskap en innovering uitlig,” het hy gesê.
Die land wat die SKA-teleskoop sal huisves, sal tussen 2011 en 2012 aangekondig word.