Beste 4×4 by verre!

Die Beste 4x4 by verre!
Deel op

Die Beste 4x4 by verre!Engeland het nou wel nie meer veel van ‘n rugby- of krieketspan oor nie, maar met hulle motors skort daar absoluut niks.

Land Rover het vir jare die kroon gedra as die beste 4×4 by verre, totdat die goed orals begin  breek en gaan staan het.  Dit was veral in die negentigerjare dat die ikoon van Britse vakmanskap sleg naam weggegooi het. Land Rover het eintlik ‘n bespotting in die 4×4-kringe geraak. Die manne van BMW en later Ford het alles probeer regmaak maar eintlik dit net vererger met baie eina-Land Rovers soos die Defender 90 met die BMW-enjin of die Discover II wat orals gaan staan het. Toe gebeur die ergste ekonomiese krisis wat ons ou wêreld nog gesien het en al wat ‘n motorvervaardiger is, gooi handdoek in.  Net drie lande wat vervaardigingskapasiteit gehad het, het die krisis ligtelik oorleef en selfs groei getoon, ja groei, nie net in vervaardiging nie maar ook in verkope. Dit was Sjina, Indië en Korea. Ja,  en so wrintiewaar toe sien die manne van Moembaai  die geleentheid om twee van die groot name in die motorwêreld uit hulle moeilikheid uit te help. Tata Motors het in 2008 Land Rover en Jaguar by Ford gekoop. Dit het die deur vir Tata na die Weste toe oopgemaak. Nuwegenerasie-Land Rovers het die een na die ander die lig gesien. Almal nie net beter as die vorige generasie  nie,  maar ook strate beter as enige iets wat Japan of Duitsland kan opdis. En ja, ek weet dit is ‘n groot stelling, maar nou praat ons van breë modderspore reg deur Afrika, Australië en Amerika, om nie eers van die duine in Doebaai te praat nie. Die Cruisers, X5’e en ML’s is almal uitstekend afgeronde voertuie met buitengewone werkverrigting op en van die teer af, maar die nuwegenerasie-Land Rovers doen dit net met meer styl, meer krag, meer teenwoordigheid, meer tegnologie en ‘n baie groot reputasie wat vinniger as Usain Bolt op pad terug is na waar hy hoort.

Ons het die splinternuwe Discovery 4 onder hande gehad. Die Discovery 4 is beskikbaar in drie toerustingvlakke, naamlik die basismodel,  S, SE en HSE. Ons toetsmodel was die swaarste yster in die diesellaai. Die Discovery 4 TDV6 HSE. Hierdie voertuig klassifiseer onder die middelslagsportnutsvoertuie wat onder meer groot name soos Prado, Pajero, X5  en ML insluit. Die Discovery 4 HSE-model het alles wat jy moontlik kan verwag selfs in duurder rygoed soos ‘n Range Rover,  Cayenne of Q7 met die teervermoë van ‘n ML of X5. Maar daar is nog meer, baie meer. Die Discovery se veldryvermoë is net so goed of dalk beter as dié van ‘n Cruiser of Wrangler.

Bakwerk

Discovery 4 het sagter, meer vloeiende lyne as die vorige Discovery 3; die opvallendste verskille is te bespeur aan die voor- en agterkante waar daar splinternuwe ligte, stampers en sierroosters is. Alles lyk net skoner en meer doelgerig. Die voorste ligte is ook van die gevorderdste wat ons nog teëgekom het in enige ryding. Die ligte is toegerus met (LED-) tegnologie wat langer hou en drie keer helderder is as gewone halogeenligte. Daar is ook ‘n funksie wat Land Rover (HBA) “High Beam Assist” noem. Die lig meet aankomende refleksie en as daar niks is nie dan skakel die lig na die hoog- of skerpstraal oor. Wanneer daar egter aankomende verkeer is, sal die lig self terugskakel na laestraal. Die ligte beweeg ook soos in die Citroen DS van ouds saam met die voorwiele en verlig in die rigting waarheen jy op pad is. Daar is ook ‘n kantlig wat negentig grade na die kant wat jy draai skyn om die moontlike donker blindekol aan die binnekant van jou draaisirkel te verlig.

Binneruim


Binneruim

Die ouens wat nou al in ‘n Range Rover gesit het, sal weet waarvan ons praat, die nuwe Discovery 4 HSE voel en lyk soos ‘n Range Rover binne. Alles is net leer en hout met aluminiuminsetsels aan die deure as handvatsels. Die leer is sag en van ‘n baie hoë gehalte, die matte is ‘n besonderse kwaliteit en daar is in egte Land Rover-tradisie regte rubbervoetmatjies onder elke sitplek. Die voetpedale is groot en maklik om raak te trap, niks is uit hul plek nie en alles wat jou kan help om oor enige hindernis met gemak en styl te ry, is byderhand. Die HSE is met ‘n Harman Kardon-klankstelsel toegerus wat nie net ‘n voorlaaikompakskyfspeler het nie maar ook ‘n aparte plekkie om jou iPod en USB-geheuestokkie in te druk; die klank is absoluut suiwer en ongelooflik. Daar is aparte volume en soekbeheer vir die agterste vier passasiers in die deure ingebou, kompleet met ‘n plekkie vir oorfone sodat elke kind kan luister wat hy wil sonder om vir pa en ma te pla wat rustig na Andreas Bocelli  luister. Klank beheer

Deure maak wyd oop maar is tog nie swaar nie. En van elektroniese hulpmiddels is daar ook heelwat, van die sitplekke wat met ‘n geheuefunksie toegerus is tot die truspieëls wat outomaties verdof wanneer daar iemand onbedagsaam agter jou ry. Die materiale wat gebruik word, is regtig van uitstaande gehalte. Die beligting binne in die voertuig is sag dog doeltreffend en daar word ‘n hele milieu van rustige luuksheid geskep. Die Discovery 4 het plek vir vyf insittendes met hope bagasie en as jy nog mense wil inlaai, vou twee leersitplekke netjies uit die ruim vloer. Dit is ‘n baie slim meganisme wat toelaat dat die sitplekke heeltemal plat in die vloer in vou. Beenruimte is meer as genoeg vir ‘n volwasse vrou of kinders en dan is daar nog spasie om ‘n paar inkopiesakke te bêre. Party mense sal dalk nie van die kleur van die binneruim in die HSE hou nie, maar persoonlik geval dit my erg. Dit is ‘n diep roomkleur wat my baie aan die kleur wat mens gewoonlik in ‘n Rolls Royce se binnekant kry, herinner. Die aluminiuminsetsels in die deure, stuurwiel en paneelbord  laat my baie aan die kwaliteit van ‘n Aston Martin dink.  Daar is ook ‘n vyfoogkamerastelsel wat baie behulpsaam is, veral in die veld wanneer daar tussen bome, klippe, gate en goeters deur gery moet word. In die stad is dit baie behulpsaam veral by die skool in die middag waar daar soveel klein kindertjies om die motors loop. Die stelsel is dan ook gekoppel aan ‘n hele klomp parkeersensors rondom die voertuig wat jou waarsku wanneer iets te naby aan die voertuig is.

Lugversorging

Daar is ook ‘n elektroniese sondak vir die bestuurder en sy passasier en nog twee maandakke(dis nou ‘n glasdak wat nie kan oopmaak nie) vir die middelste en agterste passasiers. Die agterste passasiers het ook aparte verstelling vir die lugversorging en leesliggies sowel as krag proppe sou hulle dalk ‘n foon of iets wou laai. Die Discovery 4 is toegerus met ‘n sleutellose stelsel wat jou toelaat om die deure oop te maak en die enjin aan te skakel sonder dat die sleutel iewers in ‘n slot of aansitter ingedruk is. Die sleutel moet net binne ‘n meter van die motor af wees om dit te aktiveer. Vir ekstra veiligheid, sodat Boetman nou nie per ongeluk deur die kombuis ry as hy die verkeerde knoppie in die kar druk nie, moet die bestuurder die rempedaal trap vir die aansitknoppie om te werk.

Rivierkruising

Enjin

Daar is twee enjins beskikbaar in die Discovery 4-reeks, die 3-liter tandem turbo-V6-diesel, dis nou die een wat ons gery het of die 5-liter V8-petrol. Al twee modelle is toegerus met ‘n 6-spoed outomatiese ratkas. Ons toetsmodel, die TDV6 HSE, ontwikkel 180 Kw se krag en 600 Nm wringkrag wat by slegs 2000 o/min beskikbaar is. Volgens Land Rover is 500 Nm se wringkrag binne 500 millisekondes van luier af beskikbaar, dit is vir alle praktiese doeleindes onmiddellik . Hierdie is dan ook die kragtigste V6-dieselenjin ter wêreld. Op ons toetsroete het ons vanaf Pretoria na Naboomspruit gereis met ‘n gemiddelde brandstofverbruik van 9,5 l/100km. Die verstommende ding is dat die voertuig vol gelaai was met passasiers en bagasie en die motor voel net asof hy spesifiek gebou is vir dié tipe ding. Alles gebeur geruisloos en moeiteloos. Selfs met die verbysteek van ‘n stadiger motor doen die Landie dit doelgerig en sekuur sonder enige ongemak. Die pedaalterugvoer is amper brutaal, so sekuur is dit. In die veld waar ons gery het, moes ons ‘n paar keer oor rotsbanke en deur ‘n klipperige riviertjie waar die water so 3 voet diep was. Die Landie is toegerus met standaard- hidroliese vering wat gekoppel is aan die “Terrain Response”-rekenaar. Die stelsel word beheer met die draai van ‘n knop in die middelkonsole, dit is baie maklik met prentjies en woorde wat presies vir jou sê in watter verstelling die voertuig is. By die water het ek net eenvoudig die knop gedraai en die hele voertuig het 55mm verder van die grond af gerys. Dit het die waterkruising sommer baie maklik gemaak. Die kameras rondom die voertuig het baie gehelp om die skerp klippe en stompe te vermy en met die “Hill Descent Control” wat die motor met behulp van die ABS-remme rem teen skerp afdraandes het ons veilig oor die hindernisse geneem waar manne met Fortuners  voor my gesukkel het. Die Discovery luier nou teen ‘n laer 710 o/min wat die brandstofverbruik en die uitlaat gasse met tot 15% verminder.  Op die oop pad kan jy maklik vergeet waarheen jy op pad is, so gemaklik ry die voertuig, jy wil net aanhou ry. Gelukkig is die Landie ook met ‘n volledige navigasiestelsel wat deur ‘n raakskerm werk, toegerus.

Voorste paneel

Gevolgtrekking

Soek jy ‘n voertuig waarmee jy elke dag kan ry, kinders by die skool op en af kan laai, inkopies mee kan gaan doen, met vakansie op die langpad kan gaan en alles in die grootste gemak en styl? Soek jy ‘n voertuig waarmee jy na die gholfbaan kan ry of by die Michaelangelo kan gaan parkeer? Soek jy ‘n voertuig waaroor al die manne om die kampvuur in die Kalahari gaan praat, ‘n voertuig wat lankal oor of deur enige hindernis sal wees terwyl die manne met die Cruisers nog besluit hoe om dit aan te pak, dan is die Land Rover Discovery 4 TDV6 HSE net die motor vir jou. Ons toetsmodel se prys is R725 000 wat baie geld is. Vergelyk hom egter met die voertuie in sy klas (ML, Prado, Grand Cherokee, Pajero, X5, Q7, Toeareg) en kyk dan hoeveel ekstra moet jy opdok om dieselfde toerusting te kry dan praat ons nie eers van waar jy oral met die ander gaan vassit nie. Hierdie is tans die beste 4×4 wat geld kan koop en dit sluit baie duurder en groter voertuie in.

Laairuim

справки 086-уДанильченко Юрий Брониславович компромат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.