Terwyl Rome brand

Deel op

Pres. Jacob Zuma verseker met ‘n besoek aan Switserland die wêreld dat Suid-Afrika se veiligheidsplan vir die 2010-wêreldskokkerbekertoernooi in plek is.

Of dit nóg ‘n geval van ambisieuse planne is wat nie op grondvlak neerslag vind nie, soos verskeie onderwysplanne, sal nog gesien moet word. Op grondvlak is daar nog nie veel tekens dat die plan reeds in plek is nie, gegewe die vlaag wrede moorde, plaasmoorde ingesluit, wat die land ruk.

Om ‘n plan, of dan ‘n strategie, te laat vlot is dit nodig om al die eendjies in ‘n ry te kry. Wanklanke soos dié van Julius Malema en die status wat hy in die ANC geniet, van die ANC in Pretoria om juis nou die naamkwessie op ‘n spits te dryf, mense in die gasvryheidsbedryf wat hul pryse vir die toernooi – waarskuwings ten spyt – die hoogtes laat in styg het en nou vir ‘n lae besprekingskoers geblameer word, dra alles daartoe by dat die land nie in een juk oor hierdie saak trek nie.

Trouens, ‘n ellelange lys kan opgestel word. Provinsiale paaie en selfs strate in dorpe wat meer gat as pad word terwyl superstadions verrys laat suur sop deurloop. In die Vrystaat is die beskikbare begroting om die paaie op ‘n aanvaarbare standaard te kry ongeveer net een tiende van wat nodig is, selfs nadat die AA verlede jaar gewaarsku het dat die land teen die huidige tempo oor dertig jaar nie meer teerpaaie gaan hê waaroor gekla kan word nie.

Hoewel die land se Vigs-besmettingskoers die vernaamste oorsaak is, help die standaard van gesondheidsorg ook nie dat Suid-Afrikaners se gemiddelde lewensverwagting, 47 jaar, nou maar net meer as die helfte van Europa se ongeveer 80 jaar is nie.

Dit verg geen wiskundige of statistiese vernuf om die ongevalle onder die sokkerbesoekers te bereken as die moordkoers ongeveer 40 per 100 000 van die bevolking, die aangemelde verkragtingskoers 150 per 100 000 en die werklike volgens maatskaplike werkers tussen tien en dertig keer hoër is, aanranding met die opset om ernstig te beseer meer as 400 per 100 000 en gewapende roof 250 per 100 000 is nie. Hierdie syfers sou onder normale omstandighede geld, maar omdat soveel aan ‘n veiligheidsplan gespandeer word, kan dit beïnvloed word. Dit wil egter ook voorkom, en sommiges sê selfs so, dat misdadigers juis hul planne gereed kry om die buitelanders te teiken.

Die foefie om te paai dat dit in ander lande ook maar onveilig is hou nie steek daarmee nie dat die wêreld se gemiddelde moordkoers in die orde van 5 per 100 000 is nie. Suid-Afrika s’n is dus ‘n netjiese agt keer hoër, en hoër as dié in verskeie oorlogsgeteisterde gebiede.

Dat die geweldsmisdaad in Suid-Afrika met soveel grusame sadisme gepaard gaan help ook nie om die misdaadprentjie uit die buitelandse oë te hou nie.

Presies in hoe ‘n mate alle eendjies in ‘n ry is, kan tereg gevra word as die polisie ‘n verslaggeefster wat vir Le Monde verslag doen in, soos sy skryf, ‘n oorvol vuil sel gaan prop? Dié beriggewing het sommer saamgeval met die aanval op ‘n Duitse toeris in die gastehuis in Kaapstad waarin hy tuisgegaan het.

Om sake te vererger, is die regering suinig én selektief met die veroordeling van gevalle van grusame geweldsmisdaad. Terwyl die regering skynbaar volstruispolitiek speel, kry die leier van ‘n baie klein politieke party twee oproepe van die media uit Europa om kommentaar oor ‘n plaasmoord te lewer. Dit vereis geen Einstein-intelligensie om te verstaan waarom die media in Spanje, byvoorbeeld, nou so in nuus oor ‘n plaasmoord belangstel nie.

Terwyl van die “gewone” aanstigters tot verdeeldheid,  soos Komphela en Neels van Rooyen, nou skynbaar voorlopig takties die swye opgelê is, is geen muilband vir Malema en kie in sig nie.

Kom die eendjies nie in ‘n ry nie kan die aanval tydens die Konfederasiebekertoernooi op die Brit, Midge Fergusson, vir Suid-Afrika ‘n reuse kopsorg baar.

how to promote your businessалександр лобановский класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.