Dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus het hom in ‘n verklaring teen die versnelde naamsverandering in Pretoria uitgespreek. Mullder meen “Die ANC in Pretoria se verhaasde pogings om die stad se naam voor die Wêreldbekersokkertoernooi te verander, dryf Suid-Afrikaners uitmekaar in ’n tyd waar die regering juis op groter eenheid en patriotisme voor die toernooi gehoop het. Die ANC maak ’n groot fout as die organisasie dink dat hulle nasiebou met die oog op die Wêreldbeker kan bevorder en terselfdertyd Pretoria se naam sonder teenstand kan verander.”
Omdat Pretoria se naam internasionaal bekend is, gaan daar ’n reuseverwarring by buitelandse sokkergeesdriftiges wees wat nou skielik wedstryde in Tshwane moet bywoon. Tans gebruik Fifa beide Pretoria en Tshwane in hulle amptelike stukke en op wedstrydkaartjies.
Volgens Mulder bestaan daar elders ter wêreld “talle voorbeelde waar stede twee name het of ander kompromieë vir soortgelyke probleme gevind is. Die voorwaarde is natuurlik dat daar die wil by die bewindhebbers moet wees om almal in ag te neem. Die VF Plus beoog om hierdie saak met president Zuma op te neem en vas te stel of daar so ’n wil is.”
Mulder het verder gesê dat hy “beledig voel” deur die naamsverandering aangesien “Andries Pretorius een van (sy) helde is.”