Ons en hulle

Deel op

‘n Opvallende kenmerk van die debat tussen meningsvormers, hetsy in briewekolomme, koerantrubrieke of die internet, oor hoe die middelpuntsoekende en middelpuntvliedende kragte in Suid-Afrika neerslag vind, is die standpunt-innames rondom die “ons” en die “julle.” Ras, eerder as kultuurgoedere, is dikwels die norm, en hoewel die pot die ketel verwyt, staan feitlik almal agter die deur.

Diversiteit wat neerslag in die volkereg en grondwette vind, is internasionaal eerder die norm as die uitsondering, en vind op beskeie outonomie-skaal soos spesiale regte binne Indiaanse reservate tot ‘n Maorie-kongres neerslag, tot op meer ingrypende selfregeringsvlakke soos in Indië, België, Kanada, Spanje en vele meer. Volkome sesessie is ook volkeregtelik nie ‘n vreemde verskynsel nie, soos wat met die ou Tseggo-Slowakye, Joegoe-Slawië, Eritrea en ander gebeur het.

Suid-Afrikaners basies die internet raadpleeg om omvattend te weet wat die omvattende gebeure op internasionale vlak is. In die alternatiewe wêreld as dit wat die Suid-Afrikaanse media in hoofsaak aan sy lesers opdis kry Indië nou nog ‘n bykomende etniese deelstaat, het die Tamil-kwessie in Sri-Lanka nog nie gaan lê nie en is trouens nou weer ‘n verkiesingsaspek in die geweldgeteisterde verkiesing wat nou plaasvind, is daar ‘n internasionale Armeense lobby ter voorbereiding van die 100-jarige herdenking van die Armeense volksmoord aan die hand van die Turke oor vyf jaar, het ETA sy 50ste bestaansjaar bloedig gevier en vele meer. Die bronne hiervoor is nie obskure webtuistes wat vanuit agterplase bedryf word nie, nmaar die webtuistes van gerespekteerde koerante in Europa, die VSA, Indië en vele meer. Hul statuur regverdig kwalik ‘n volstruispolitieke benadering oor hul inhoud deur ons media nie.

Nuus oor hoe heterogeniteit internasionaal staatkundig neerslag vind is Suid-Afrikaners skynbaar om politieke korrekte redes nie beskore nie.

Tog is daar geen probleem met nuusdekking om oor die onbegeleide manifestasies te berig en sodoende die temperatuur op te jaag nie. Julius Malema, voorbok-aanhitser, is besig om onder volkstaters ‘n held te word omdat hy, soos dit gereeld op die internet gestel word, nog ‘n duisend mense tot volkstaters bekeer elke keer wat hy sy mond oopmaak. Sy gebruik van die “ons” en die “hulle” wanneer hy langs rasselyne blankes met die teerkwas bydam bly in die nuus.

Trouens, so geaksentueerd het die “ons” – “hulle”-kwessie geword dat Beeld se redakteur ‘n rubriek hieraan afgestaan het.

Met ‘n skeefgetrekte begeleiding van wat in terme van internasionale gebruik fatsoenlik is, is dit te wagte dat die polariserende Suid-Afrikaanse bevolking, lomp en nog meer polariserend op die aangebode nuus sal reageer. Terwyl akademici vanuit liberale ivoortorings ergerlik op die gebeure reageer, is hulle in terme van die neerslag op grondvlak eerder aanhitsend in hul neerhalende vloermoere as irrelevant, en nog minder probleemoplossend. Op die ander uiterste van die spektrum het mense ook asem geskep om die vind van ‘n middelgrond volgens volkeregtelike beginsels baie moeilik te maak.

Presies hoe en hoekom sake polariseer is kan nie in ‘n neutedop saamgevat word nie. Die Jong Kommunistiese Liga (JKL) se optog in Noordwes en oorhandiging van eise wat op die verbod van Afrikaans in skole neerkom, is ‘n voorbeeld van polariserende, en boonop, ongrondwetlike gedrag.

Die doodse swye van ‘n premier in wie se provinsie vanjaar reeds drie baie grusame plaasmoorde plaasgevind het is erg, maar toe ‘n swart meisie wreed verkrag word en aan haar beserings beswyk, was die premier gou uit die blokke om dit te veroordeel.

Trouens, slegs enkele partye het ewehandig oor dié misdade opgetree, en daarmee word nie dié partye bedoel wat oor al hierdie moorde soos die graf geswyg het nie.

Die JKL se optrede raak-raak aan ‘n verdere manifestasie van die polarisasie, naamlik die taalkwessie soos dit in hofuitsprake oor skole, en die akademiese kleilatgooiery op universiteite ontaard, maar net so polariserend is.

Politici en rolspelers wat belangstel om die polariserende proses te begelei, na welke vreedsame bestemming ook al, moet hul liberale ivoortorings verlaat en die kwessie volledig informatief en holisties aanspreek.

Om heterogeniteit weg te wens werk nie. Om heterogeniteit te onderdruk soos Franco se Spanje wat Baskies verbied het, en Turkye wat die Armeense bevolking nie net in Turkye naastenby uitgewis het en die onderdrukking en chemiese bombardemente van Koerde in verskeie lande werk nie. Sri Lanka leer ook nou die les dat ‘n militêre oorwinning oor die Tamils neerkom daarop om ‘n wilde tier in die tuig te probeer inspan. Selfs Frankryk wat die mees suksesvolle land was om selfs groot minderhede te verfrans het nog nie die klein Baskiese verset behoorlik onder die knie nie, terwyl Korsikaanse separatisme van tyd tot tyd aktief raak.

Die geskiedenis is ‘n handige leerboek. ‘n Volgende geslag het die voordeel om lesse uit die foute van die verlede te leer. Die destydse Britse Premier, Neville Chamberlain, het geglo die “policy of appeasement” teenoor Hitler sou werk. Toe nou nie.

Tog kry Suid-Afrika nie die mislukte , bykans identiese, beleid van stille diplomasie van Mbeki teenoor Robert Mugabe uit sy baadjie geskud nie. En die prys wat Suid-Afrika hiervoor betaal word al groter en groter.

Die JKL se onkunde kan nog voor die deur van ‘n – selfs in Afrikaterme – bedenklike skoolstelsel toegeskryf word. Die liberale geïrriteerdheid met hoe sake anders as in hul ideologiese drome manifesteer, is moeiliker verskoonbaar en lyk na ideologiese kantkiesery eerder as akademiese suiwerheid.

 

 

светильники на домФільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.