Verkiesing in Sri Lanka spel geweld

Deel op

Die Singalees-oorheersde regering van Sri Lanka leer nou ‘n harde les: Minderheidsregte word nie oor die loop van ‘n geweer besleg nie.

Dié les word nou hard geleer terwyl Sri Lanka se eerste verkiesing hou sedert die Tamil Tiere na 26 jaar se stryd militêr verslaan, en van hul opstandige leiers gestroop is. Minstens vier ontploffings het Jaffna, noordelike bolwerk van die Tamils op verkiesingsdag geskud.

Met hierdie nuus wat die wêreld ingestuur word, blyk dit dat dit maar die jongste dade van geweld was. Die afgelope maand het vier mense reeds in voorvalle van politieke moord omgekom, en is sewehonderd gevalle van geweld by die polisie aangemeld.

Formeel is die oorsaak vir die geweld te vinde in die stryd tussen twee presidentskandidate, pres. Mahinda Rajapakse en die oorlogsheld, Sarath Fonseka. Een van die onlangse bomaanvalle was juis by die huis van ‘n sakeman wat Fonseka steun.

Pres. Rajapakse ontken dat hy of sy ondersteuners agter die aanval op sy opponent sit. In dié stadium glo min mense hom egter, aangesien so ‘n aanslag en die algemene geweld te wagte was in die lig daarvan dat hierdie verkiesing as een van die vuilstes ooit beskou word.

Dit is nog moeilik om te bepaal of die Tamils nie dalk tog die geleentheid benut om sake verder te roer nie. Hul omstandighede bly moeilik sedert hul militêre neerlaag, en met wye steun vir hul saak onder Tamils en ander simpatiserende groepe in Indië, en Tamils in diaspora wêreldwyd, twyfel min dat die Tamils bykans oornag weer ‘n militêre vermoë sal kan opbou.

Fonseka, wat die bevelvoerder teen die Tamils was, ontpop nou in ‘n sekere sin as kampvegter vir die Tamils. Hy beskuldig die regering, en dus sy opponent, dat hulle die teregstelling van Tamilleiers beveel het wat hulle oorgegee het. Verder sê hy die regering sleep voete met die vrylating van 300 000 Tamils uit interneringskampe. Die Tamils is dus minstens onregstreeks ‘n belangrike rolspeler in hierdie stryd.

Die Tamils, ‘n minderheidsgroep in hoofsaaklik die noorde van die eilandstaat, het nouer, irredentistiese aansluiting met hul volksgenote in Indië gesoek, waar die Tamils een van die groot bevolkingsgroepe is.

Afgesien van die taalverskille met die Singalese, is die Tamils hoofsaaklik Hindoes, terwyl die Singalese bykans uitsluitlik Boeddhisties is. Beide die Tamils en Singalese is immigrante uit Indië wat die oorspronklike bewoners verdring het.

Sri Lanka is berug vir sy gebrekkige persvryheid – in ‘n groot mate juis om inligting uit die voormalige oorlogsones en dissidentegebiede te smoor – en dit is dus baie moeilik om te bepaal of die Tamils steeds so sonder skop is wat voorgegee word.

камни для баниданильченко юрій броніславович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.