Neus in ander se sake

Deel op

Met ‘n reuse internasionale hulpaksie op die rampgeteisterde Haïti gefokus, het die VSA opnuut in sekere kringe onder skoot gekom as synde ‘n imperialistiese land wat sy neus ongevraag in ander lande se sake steek. Dié keer het verskeie regeringsleiers tot die VSA se verdediging ingetree en daarop gewys dat die hulpaksies sonder die VSA onbeduidend sou wees.

In talle lande waar interne spanning manifesteer, word gedesentraliseerde regeringsvorme as moontlike oplossing voorgehou. Een hiervan is federalisme.

Die VSA is in talle opsigte ‘n rolmodel vir federalisme. Met federasievorming het die deelnemende state hul soewereiniteit oor bykans alle regeermagte behou, en slegs enkele aspekte aan die federale regering afgeteken, waaronder verdediging, buitelandse sake en sekere maatskaplike aangeleenthede.

Die gevolg is dat sommige deelstate die doodstraf toepas, en ander dieselfde grondwet so uitlê dat dit ongrondwetlik is. Oor die afgelope paar jaar het bykans elke deelstaat rug styfgemaak, hetsy deur wetgewing van hul staatsregerings, hetsy deur staatsreferendums of deur hofuitsprake, om gay-huwelike te verbied.

Die gevolg van hierdie federale manifestasie is dat die VSA oor ‘n groot en magtige regering, bestaande uit ‘n uitvoerende president, ‘n senaat en huis van verteenwoordigers beskik wat oor min sake seggenskap het. Weens verskeie faktore, soos ‘n groeiende Amerikaanse identiteit, het die sentrale regering sy impak op binnelandse aangeleenthede via die venstertjie van sekere maatskaplike aangeleenthede, al groter oopgewring. Pres, Barack Obama het pas ‘n lang stryd deur die kongres gevoer om ‘n bekostigbare gesondheidsorgstelsel vlot te kry. Hoewel hy hier sekere konsessies oor aborsieregte teen Christengroepe moes maak, het hy deur ‘n strategiese aanstelling op die federale regbank gesorg dat die VSA se stryd teen aborsie op aanvraag – volgens ‘n onlangse peiling die meerderheid Amerikaners – na raming sowat 20 jaar teruggesit is.

Verskeie deelstate het trouens voor Obama se verkiesing reeds wetgewing in plek begin sit om in pas te wees wanneer die hoogste hof die uitspraak van Wade v Roe, waarkragtens aborsies gewettig is, tersyde sou stel. Aborsiekliniekbase het op Indiaanse reservate toegesak om in daardie gebiede aborsieklinieke binne die state wat aborsies op aanvraag sou verbied op te rig, omdat die reservate wat hierdie aspek betref, onder regstreekse federale wetgewing val.

Hierdie aspek toon ook hoe kompleks die federale regeervorm in die VSA in werklikheid is.

Tog, buite die VSA hoor ‘n mens selde indien ooit van enige ander ministers, as die Secretary of State en die Secretary of Defense, onderskeidelik die ministers vir buitelandse sake en van verdediging.

Dit is ‘n noodwendige gevolg dat die VSA, of enige staat wat ‘n soortgelyke grondwet het, baie aktief buite sy grense sou wees. Indien nie, sou die Wit Huis en kongres nie veel meer as wit olifante gewees het nie.

Hierdie werklikheid het al baie positiewe verwikkelinge, soos die Camp David-vredesberaad opgelewer, hoewel kenners destyds reeds gewaarsku het dat die elemente van mislukking ook ingebou is soos om die Palestynse kwessie in ‘n bylaag in die lug te laat hang.

Moderne tegnologie, vinnige lugreise en kommunikasie het die wêreld tot ‘n neutedop laat krimp, en so die VSA se reikwydte tot ver buite die grense van die Monroe-leer laat rek. Omgekeerd het dit wat die VSA se belange raak, ook as bedreiging binne trefafstand gekom, en die binne die VSA se vermoë om iets daaraan te doen. Die VSA se beste belange was nie altyd noodwendig dieselfde as ander lande se beste belange nie, en dikwels is ‘n wig ingedryf.

In Suid-Afrika het die sentrale regering die finale sê oor alle uitvoerende magte, en is dit dieselfde regering wat op plaaslike vlak manifesteer en riool die strate laat afloop, wat ook besluit om bande van wisselende vlakke van vriendskap met die wêreld se muishondlande soos Kuba, Venezuela en Noord-Korea te smee.

Dit kan as kwalik bevorderbaar vir Suid-Afrika se buitelandse belange met die VSA se bondgenote en lande wat ‘n beleid van realpolitik volg, beskou word. Suid-Afrika, via onder meer USAid, is juis een van die groot ontvangers van hulp uit die VSA.

‘n Paar lesse van die internasionale politiek staan soos pilare in die stroom: Die regeervorm wat ‘n bevolking kies het implikasies na buite. In die internasionale politiek het lande slegs belange, nie vriende nie, en in die internasionale politiek is alle state gelyk en ongelyk tegelyk.

Wanneer ‘n regering van ‘n heterogene land, soos in Suid-Afrika, tegelyk binnelands en buitelands regeer, moet die implikasie in gedagte gehou word dat ‘n buitelandse beleid wat onaanvaarbaar vir sekere binnelandse groepe sal wees, tot die polarisasie tussen daardie groepe sal bydra. ‘n Kortstondige adjunk-minister van buitelandse sake het in die afwesigheid van die minister ‘n ongehoorde sterk pro-Palestynse standpunt teen Israel ingeneem. Dat sy self ‘n Moslem is, het waarskynlik haar oordeel meer beïnvloed as wat die realiteit dit beïnvloed het. Met die eerste kabinetskommeling het sy in die slag gebly. Hierdie verstellings is egter te min.

 

пескоструйный аппарат karcherтопкарго отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.