Tyd om anders te dink

Deel op

Die huidige debat oor leierskap toon ons was te lank onder die Britse hiel.

In die verlede was politieke- en kultuurorganisasies van groot nut vir die volksaak. Hulle het ontstaan binne die Unie van Suid-Afrika en binne die Britse bestel. Al hierdie organisasies het saamgewerk en groot oorwinnings is behaal. Ongelukkig het heelwat van hierdie meer onlangs organisasies die volk verlaat om ‘n nuwe ideologie aan te hang. So het sommige hulleself omskep in taalorganisasies eerder as volksorganisasies. In teenreaksie hierop het konserwatiewe Afrikaners nuwe organisasies geskep om die leemte te vul. Nou sit ons met twee groepe organisasies en hierdie twee groepe kan mekaar nie vind nie.

‘n Organisasie is nie noodwendig die enigste of beste manier vir die volk om sy sake te behartig nie. Ons voorouers wat pioniers in die binneland was asook die twee republieke het nie organisasies gehad nie en kon tog doeltreffend en vinnig optree wanneer nodig.

‘n Organisasie het ‘n grondwet en sy leiers moet daarvolgens optree. Indien dit nodig is om van die grondwet of reeds beleid of besluite af te wyk, moet ‘n ledevergadering dit eers goedkeur. Dit maak besluitneming ‘n lomp en stadige proses. Verder is ‘n organisasie geldelik afhanklik en kan hy niks doen wat sy inkomste of bates gaan benadeel nie. So is daar van ons groter organisasies wat afhanklik is van skenkings deur groot maatskappye. Tree hulle teen die sin van die skenkers op, kan hulle maar toemaak.

Tans is daar oproepe om al die bestaande organisasies te verenig in ‘n superorganisasie wat dan die leiding moet neem om ‘n volkstaat tot stand te bring. Daar is glo 50 organisasies om te verenig. Die Afrikanerfront is reeds gestig en verteenwoordig reeds omtrent 29 van die konserwatiewe organisasies. Die kortpad is dus dat die oorblywende 21 organisasies ook daar moet aansluit. Die ongeluk is dat as hierdie 21 nie uitgenooi is nie of nie wil of kan aansluit nie, dan moet nog ‘n superorganisasie gestig word. Vir ons gewone Afrikaners lyk dit na ‘n absurde situasie.

Die verdere probleem is dat hierdie organisasies en hulle leiers slegs hulle ingeskrewe lede verteenwoordig. Hoeveel lede het hulle? 50 000, 100,000? Wat maak hierdie leiers geloofwaardige volksleiers? Ons gewone Afrikaners het hulle nie gekies nie en stem nie noodwendig saam met hulle nie? Hoekom moet ons hulle as ons leiers aanvaar? Die kwessie van geloofwaardige leiers begin nie by die Suid-Afrikaanse regering of die internasionale gemeenskap nie, dit begin by die volk.

‘n Ander probleem is dat die leiers gewoonlik in Pretoria is. Mens kry die indruk dat hulle ‘n persepsie van die volk het wat dalk nie met die werklikheid verband hou nie.

In die Boererepublieke is die burgers opgeroep na ‘n massavergadering in die opelug, sommer op ‘n burger se plaas. Stemming was deur die opsteek van hande en daar was min formaliteite. Alhoewel almal dalk nie teenwoordig was nie, is leiers en besluite deur almal aanvaar. Wanneer die volkswil duidelik is, moet almal hulle daarby neerlê selfs al verskil hulle daarmee.

In die V.S.A. is daar ‘n interessante ontwikkeling met die Tea Parties. Daar is groot ontevredenheid met die beleidsrigtings van die federale regering, asook met die twee groot partye wat vevreemd geraak het van die burgery. Dit het gelei tot die stigting van Tea Parties (na aanleiding van die Boston Tea Party) in al 50 state. Dit is plaaslike protesbewegings wat spontaan en informeel is en wat geen saambindende nasionale organisasie het nie. Nogtans het hulle alreeds ‘n groot impak gemaak en is dit tans nog onseker hoe hulle verder gaan ontplooi.

Myns insiens is die Volksraad Verkiesing Kommissie (die VVK) tans die beste oplossing om permanente volksleiers te kies. Hulle is ‘n onafhanklike en onpartydige liggaam wat poog om ‘n verkiesing te reël wat aan internasionale standaarde voldoen. Hulle het reeds registrasiebeamptes oral in Suid-Afrika en op verskeie plekke in die buiteland. Die een bekommernis is die aantal kiesers wat gaan registreer. As dit ‘n klein getal is, gaan dit nie veel help nie. Dit sou dus wenslik wees as die volk self wil begin help om ‘n groot getal kiesers te geregistreer te kry.

Indien ons meen ons moet intussen leiers verkies om ons sake te behartig tot die VVK verkiesing afgehandel is, kan ons so maak. Dit sal net spoedig moet geskied.

Oraloor hoor en lees mens dat die volk redelik moeg is vir praat, hulle soek dade.

In Rusland was daar onlangs ‘n probleem in ‘n dorpie. Die ryk sakemanne en besitters van die drie fabrieke aldaar het die deure toegemaak en al die inwoners het werkloos geraak. Toe gaan die distriksowerheid en sny die krag af – in die winter. Berig hiervan bereik toe vir Vladimir Poetin. Hy klim in sy kar en ry soontoe. Toe hy die namiddag terugry, is die fabrieke weer aan die gang, die krag is weer aangesluit en al die belangrikes en rykes is in die openbaar verneder.

 

5 pound freeтопкарго

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.