Roger Federer het die Australiërs se hoop verydel deur Lleyton Hewitt in skoon stelle uit te skakel om die kwarteindronde van die Australiese Ope te haal.
Die Switserse tennisspeler kom nou teen Nikolay Davydenko te staan, terwyl Novak Djokovic teen Jo-Wilfried Tsonga speel in ’n herhaling van die eindstryd in 2008.
Federer, die topgekeurde, was van beter stoffasie as die 22ste gekeurde Australiër in sy sege van 6-2, 6-3, 6-4 in die 25ste kragmeting tussen hulle.
Federer het sy 15de agtereenvolgende sege oor Hewitt behaal, maar erken Davydenko sal ’n ander soort uitdaging bied.
“Hy het een van die beste terughoue van afslane in wêreldtennis en beweeg ook uitstekend. Dit sal beslis nie ’n maklike wedstryd wees nie, maar ons sal maar moet sien hoe dit gaan,” sê Federer.