Onderdrukking en die eksodus-motief in Afrikaner-bevryding

Deel op

Daar word opgemerk dat die debat rondom Afrikanerbevryding buite die raamwerk van ‘n eksodusmotief of bevrydingsteologie deur die verskillende debatvoerders gedoen word.

As die Afrikaner gesien word as ‘n blote konglomeraat van individue in dieselfde land wat toevallig Afrikaans praat en dieselfde kultuur deel, dan is die politieke uitkomste anders en dan val die eksodusmotief weg.

Indien onderdrukking en ‘n eksodusmotief belangrike elemente van bevryding is, moet duidelikheid gekry word oor wie die Afrikaner is. Uitgaande van die argument dat die eksistensie (wat meer as loutere bestaan is!) van die Afrikaner, kultuur-histories aan ‘n transendente (dus hoër mag as die aardse) werklikheid verbind kan word, dan speel die element van ‘n Goddelike gelofte soos by Bloedrivier, en van onderdrukking (onder Britse kolonialisme en Afrika neo-kolonialisme), asook die eksodusmotief belangrike rolle in Afrikaner bevryding.

Die eksodusmotief word nog belangriker as die Afrikaner gesien word as ‘n onderdeel of subgroep van die tien verlore stamme van Israel. Indien dit so is, is die behoud van die Afrikaner fundamenteel belangrik, omdat in die eindtye die stam van Judah in die huidige Israel met die tien verlore stamme sal herenig, om die Godsryk op aarde wyer as Jerusalem te vestig.

Die Bybelse godsdiens maak veel van YHWH se gesprek met die mens, van die verbondsidee en van ‘n religieuse eksodusmotief by onderdrukking. Vir eers moet duidelikheid gekry word oor die godsbegrip YHWH (die tetragrammaton). In Moses se laaste (Shema)-gesprek met Israel verklaar hy:

“Luister (Chema) O Israel! YHWH is ons God, YHWH is Een! Jy sal YHWH met jou hele hart liefhê …” Deut. 6:4-6 en Markus 12:28-30

Die Tetragrammaton word 6000 keer in die Eerste Testament geskryf en beteken waarskynlik “Die Een Wat sal Wees/Is/Was!”. YHWH is alleen God (Exodus 22:20). Hy is ‘n jaloerse God, wat geen afgode duld nie (Exodus 20:5). Hy is die Skepper van alle dinge, sonder tussenganger of hulp van buite (Genesis 2:4-25). Hy is omring van hemelse wesens wat Sy afgesante op aarde is (Deut. 33:2, Ps. 29:1 en Genesis 3:22 en 11:7).

Jeremia (9:23-24) haal YHWH aan, waar God van Homself verklaar dat hy intens betrokke (chesed) is, reg (mishpat) laat geskied en geregtigheid (zedaqah) wil sien. Die eksodusmotief of uittog uit Egipte was ‘n verlossingsdaad (hesed) van God. Daarom lees die dekaloog, of die tien gebooie: “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland van verslawing weggelei het”.

YHWH het in die loop van die geskiedenis van Israel ten minste drie keer direk met die mens gesprek gevoer. Dit is:

* In die Paradys met Adam en Eva

* Op die berg Sinai met Moses, waar die dekaloog (Tien Gebooie) aan Moses oorhandig is

* Deur die koms van die beloofde Messias uit die bloedlyn van koning Dawid

Elke keer as daar nie na God se stem geluister is nie, òf die geloftes of verbond nie onderhou is nie, het straf gevolg. Dikwels is straf deur wegvoering, na Babilon en na Assirië, gevolg. Die tempel in Jerusalem is twee keer vernietig. Dit is in ‘n staat van onderdrukking dat God se volk dikwels in trane (sa’ag) smag na die herstel van ‘n vertrouensverhouding met God.

In onderdrukking reik God uit na die onderdruktes. God se Gees sweef dan oor sy mense, soos wat Sy Gees oor die ongeordende waters in die skeppingsverhaal gesweef het. God gebruik ook priesters en profete om die drang na hereniging met God en herstel van regte lewendig te hou. Moses konfronteer Farao. Jesus staan op teen die Romeinse owerheid. Dit is onder Romeinse onderdrukking dat die Messianisme, die bevrydingsteologie van die Israeliete, groei. Dit is binne hierdie konteks dat Jesus die koninkryk van God verkondig. Jesus verwys na homself as die “weg”. Die weg wat hy aanwys is ‘n nuwe eksodus motief:

* ‘n koninkryksidee wat wêreldwyd uitkring

* ‘n herskepte situasie wat onderdrukking uitban en geregtigheid vestig

* ‘n geloof in God wat die Tempel en Jerusalem as heilige plekke transendeer, omvorm, en wêreldwyd universaliseer en dus        vir almal, oral toeganklik maak.

Ten slotte moet ek onomwonde verklaar, dat as ons ‘n politieke oplossing sonder God soek, die Afrikaner ten minste nog veertig jaar in die woestyn sal dwaal. Daar is van ons volksgenote wat ‘n messias soek Dit is net politieke leiers met ‘n sterk religieuse onderbou en missionêre visie wat die leiding op hulle kan neem. Intussen het ons Afrikaanse kerke stil geword. Merkbaar is die feit dat dominees, ja die priesters en profete van die gevestigde kerke, in die gesprek en in die doen skitter in hulle afwesigheid. Waar is hulle, of verstaan hulle nie wat op die spel is nie? Waar is die D. F. Malans en die Andries Treurnichts?

Ons geestelike leiers moet teen ‘n goddelose owerheid opstaan, standpunt inneem en vra vir die bevryding van die volk. By weiering het die gesante van God, soos Moses inderdaad gedoen het, die reg om die plae van Egipte op ‘n goddelose owerheid los te laat. In ‘n politiek met ‘n eksplisiete eksodusmotief is die wekroep duidelik hoorbaar: Laat my mense gaan! Anders gestel: gee my mense selfbeskikking!

ads onалександр лобановский класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.