Juliaanse ‘logika’

Deel op

“Ek het gekom, ek het gesien en ek het ‘n verskriklike klomp bollie kwytgeraak.”

Aan die woord by die Kovsiekampus was Suid-Afrika se kroonprins en de facto premier, mnr. Bitterbang Bibberbeentjies Malema.

Die geleentheid ‘n saamtrek van Kosviestudente uit die Sasco-ANC-jeugliga-verdampkring.

Normaalweg meen ek, Blik Oor, dit is beter om Bitterbang (‘n hele R300 000 per maand bang) te ignoreer, maar dié keer was Hoeterbek se juweeltjies opnuut onignoreerbaar. Hy het naamlik ‘n paar brokkies inligting wat almal geweet het, maar tot dusver ontken is, nou in die openbare domein geplas.

Wie is in beheer van die universiteite? Nee, nie die raad, die minister wat via die Kabinet aan die parlement verantwoording doen nie, en allermins die Roelf-grondwet. Nee, erken Bibberbeentjies, die ANC het die beheer by die Broederbond afgeneem.

Dit, meen Jors Troelie, beteken dat Afrikaanssprekendes hulle ook nie op die grondwet sal kan beroep om moedertaalonderrig te verseker nie. Net soos wat verslaggewers vind die regering – lees ANC – se ooreenkoms met Sanef dat die regering die verslaggewers se beskerming van hul bronne sal respekteer, nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie. Vra maar vir e-TV.

En vir diegene wat nie kans sien om die berigte oor Bibberbeentjies se nuutste Kovsie-orakel te lees nie, ja, hy het weer die blankes gekritiseer omdat hulle nie die belangrike byeenkomste bywoon nie. Hy wil ‘n jaar diensplig instel sodat jong mense beter verstaan hoekom dit belangrik is. Hy sê die ANC staan nie veelrassigheid voor nie, maar nie-rassigheid.

Nou verstaan ek hoekom prof. Jonathan Jansen sê Bibberbeentjies is slim – moes geniaal bedoel het want die kopkrimpers sê ou Blik Oor se IK val in die “superieur-kategorie”, en dit is baie, baie duidelik heel ontoereikend om Bitterbang se geniale logika te volg. Soos hoe mens nie-rassigheid bevorder deur ritse rassistiese opmerkings te maak, en die heel tyd na “ons” en “julle” te verwys? Eskom het nie meer genoeg krag om daai liggie te laat aangaan nie, want hy is gefjeus. Soos die Ore se rekenaars en wasmjiene en goete met elektronika gereeld fjeus omdat Eskom ‘n nuwe betekenis aan die begrip “wisselstroom” gegee het.

Om terug te keer na e-TV. Bibberbeentjies wil weet of iemand, as hy weet iemand gaan die Uniegebou opblaas, die polisie of die media gaan bel.

Die mindere Blik Oor-intelligensie lewer ‘n antwoord min of meer soos volg op: Dit hang af of die persoon wat die nuus opdoen, wil hê die Uniegebou moet in flarde opgaan. As hy ‘n ramp wil voorkom, bel hy die media, want as hy die polisie bel, gaan een van ‘n paar dinge gebeur: a) Die polisie gaan nie die telefoon beantwoord nie, b) die polisie gaan nie iemand beskikbaar hê wat Afrikaans (een van die land se amptelike tale en spesifiek ‘n amptelike taal in al nege provinsies, vir diegene wat al vergeet het) kan verstaan nie, of c) die polisie gaan nie voertuie hê nie.

Hy sal dus liefs die media bel, wat in ‘n japtrap op die toneel sal wees, en vir die “sekuriteit” aan diens sal inlig.

Ek het net so ‘n spesmaas, as die een wat die kennis kry ook verneem dat net Bitterbang in die Uniegebou is, gaan baie nie die media of die polisie probeer bel nie, maar met ‘n kamera afsit Uniegebou toe. En dan die foto’s ten duurste aan Huisgenoot verkoop.

Bitterbang wil ook weet hoekom die wittes, of dan eerder liggroenes synde hy en die ANC nou so nie-rassig is, nie die hand van vriendskap wat Madiba en Zuma na die liggroenes uitgereik het (verlede tyd) wil vat nie.

Volgens die mindere Blik-oor-logika klink dit in die handel en wandel egter of daar nog by baie ‘n versugting na handevat met die “ikoon” Madiba is, maar dat Mbeki taamlik hard ‘n wig kom indruk het, en Zuma toe vir Bitterbang tot kroonprins kom salf het. QED, as’t ware.

Ek kan sonder veel breinsweet aan nog baie, baie voorbeelde dink, maar hierdie is al oorgenoeg rede.

 

играшки для дітейлобановский александр жена

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.