Uitvoerende burgemeesters se uitvoerige blapse

Deel op

Niemand, behalwe die soustreinryers self, sal probleme hê daarmee dat die ANC beplan om van die stelsel van uitvoerende burgemeesters ontslae te raak nie. Trouens, hoe gouer hoe beter, soos die TLU SA dit in effense ander woorde uitdruk.

Hierdie gedagte volg nie baie lank nie nadat die ANC nog kort-kort vlieërs opgestuur het oor die moontlikheid om die provinsiale bedeling af te skaf. Die gedagte was dan dat die vakuum minstens ten dele deur die munisipaliteite gevul sou word wat in nog groter monstrositeite omskep sou word.

Die grondwetlike beginsels waarop by Kemptonpark ooreengekom is, is egter oor hierdie sake baie duidelik. Punt XVI stel dat die regering op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak gestruktureer sal wees. Die volgende punt stel dit dat die verteenwoordiging op elkeen van hierdie vlakke demokraties verkose sal wees. Grondwetkenners verskil oor die bindendheid van hierdie beginsels.

Met die planne om van die provinsiale bedeling ontslae te raak was daar egter min erg aan die bepalings van die grondwetlike beginsels. Wat is die posisie egter met die stelsel van uitvoerende burgemeesters?

Kritiek op die stelsel is wyd-uiteenlopend. In wese kos dit te veel en tweedens gee dit aan die burgemeesters en hul uitvoerende rade magte wat kundigheid vereis wat nie beskikbaar is nie. Dit word vererger deurdat hierdie ampte as aflaaiplek vir politieke ontplooiing dien sodat uitgediendes nie die soustrein verpas nie.

Die gevolg is ‘n peperduur stelsel wat weens lae betaalkoerse nie bekostig kan word nie, en in elk geval nie werk nie soos die OG-verslae jaar vir jaar bewys.

Boonop is die politieke partye aan bewind nie altyd in voeling met hul partye se nasionale beleid nie, wat regeerbaarheid ernstig kortwiek. ‘n Voorbeeld was byvoorbeeld toe die DA in die Vrystaat vuur gespoeg het oor die pogings van ‘n paar Vrystaatse munisipaliteite om voortydig grondbelasting op landbougrond te probeer hef, terwyl die DA-raad van Cullinan (Nokeng) dit self geïmplementeer het en dié onregmatige heffings nou blykbaar terugbetaal moet word.

Dit was egter die lengte van die soustrein wat soms verstom het. ‘n Vorige uitvoerende burgemeester van Mangaung (Bloemfontein en omstreke) staan nou tereg op aanklagte van onder meer rampokkery en korrupsie. Dit is egter die titels van sommige van sy mede-aangeklaagdes wat die oë laat rek – mense soos politieke adviseurs. Kritici op die stelsel wys onder meer daarop dat dit hom tot nepotisme en korrupsie met tenders leen. In die Mangaung-geval word die burgemeester se vrou se spysenieringsonderneming juis geïmpliseer.

Nog ‘n verstommende verskynsel is dat ‘n bitter klein munisipaliteit in die Karoo, met bykans geen inkomste nie, se burgemeester, raadslede en topamptenare die een ekskursie na die ander oorsee wou onderneem en dan uiters suur raak omdat belastingbetalersverenigings dan dispute verklaar en aandring dat die geld vir iets soos dienste aangewend moet word. Met riool wat die strate afloop is die aankoop van ‘n peperduur burgemeesterskar hoër op die agenda. Dis juis hierdie vuurwaens wat al die oë laat rek het – motors met ingeboude drankkabinette, en in die geval van Rustenburg, selfs ‘n satelliet-navigasiestelsel sodat, soos dit verduidelik is, die burgemeester nie dalk verdwaal as hy sy gemeenskap besoek nie. Een van die swakste Vrystaatse munisipaliteite het in ‘n stadium koeëlvaste motors op bestelling gehad, en dan tog die brandweer ingespan om die burgemeester se dogter van die skool na die huis te neem. ‘n Raadslid is uit die Raad gejaag weens sy taalgebruik toe hy opgemerk het dat ‘n burgemeesterskar wat afgeskryf is, net so gou in  daardie toestand kon verval het as iemand dit deur sy agterent getrek het.

‘n Suid-Kaapse munisipaliteit het onder DA-beheer vir die onderburgemeester ‘n ampsmotor gehuur en voortgegaan om ‘n vervoertoelaag te betaal.

Die vraag is egter of daar nie op ander regeringsvlakke ook groot besparings moontlik is nie. Is pres. Zuma se vergrote Kabinet nie buitensporig nie? Is dit werklik nodig dat die kleiner provinsies se Uitvoerende rade uit ‘n premier en tien lede moet bestaan, terwyl die provinsiale departmentshoofde in elk geval veronderstel is om kundiges te wees?

Is dit werklik nodig dat Suid-Afrika naas die Menseregtekommissie ook ‘n Kommissie vir geslagsgelykheid moet hê? Is vroueregte dan nie menseregte nie? Het die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van Taal-, Godsdiens- en Kultuurregte in sy huidige gedaante en wetlike beperkings hoegenaamd nodig, en hoekom is Pansat deesdae so stil te midde van ooglopende vergrype teen taalregte by skole?

Die lakmoestoets bly egter: geskikte mense moet in ampte dien en in poste dien, anders gaan die gemors net so groot bly, maar darem teen ‘n laer tarief.

куклі барбиtopcargo отзывы сотрудников

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.