Reitz-vier se volgende hoofstuk breek aan

Deel op

Die Reitz-4-sage – ‘n insident wat as onskuldige studentepret bedoel was – het reeds ongeveer net soveel opslae, indien nie meer nie, gemaak as die president se veelwywery en sy verbintenis met Schabir Shaik.

Die proses gaan nou ‘n hopelik laaste fase in wanneer die proses van herstellende geregtigheid onder die leiding van ‘n proefbeampte ingelui word.

Die hantering van die saak tot dusver is ‘n ongelukkige voorbeeld van hoe ‘n saak nie in ‘n regstaat hanteer moes word nie. Vanuit die staanspoor is ‘n stroom veroordelings losgelaat sonder dat mense hulle van die feite vergewis het, ‘n totale minagting van die audi altaram partem-reël wanneer teen die vier opgetree word, ‘n gedokterde weergawe van die video wat in omloop gekom het wat die saak erg skeeftrek en waarop mense aanhou om hul menings te baseer, ‘n blatante verswyging van feite, ens.

Uiteindelik het die landdros die politici en media gewaarsku om nie die regsproses vooruit te loop om mense skuldig te bevind alvorens hulle behoorlik verhoor is nie. Hierdie waarskuwing is plek-plek blatant geïgnoreer, soos die plasing in ‘n groot Afrikaanse Sondagkoerant van ‘n brief waarin na die vier as misdadigers verwys word.

Die sage het ook op ‘n gepolariseerde media-aanbieding gedui. Beide Volksblad en Beeld het reeds op 18 April 2008 berig dat die Reitz-vier die skoonmakers om verskoning gevra het.

Die Burger het die dag eerder gefokus op die stroom veroordelings wat in die parlement plaasgevind het. Na die landdros gewaarsku het teen vooraf-veroordeling, skryf dieselfde briefskrywer wat die Reitz-vier misdadigers noem, dat die vier verskoning moet vra. Die Persombudsman beslis hieroor dat hoewel sommige koerante in die Naspersstal oor die verskoning gerapporteer het, dit nie noodwendig beteken die ander sou daarvan kennis dra nie.

Die probleem is egter bietjie ingewikkelder. Die oorspronklike verskoning is in ‘n Sapa-berig gedra.

So ver vasgestel kan word, het nie ‘n enkele Engelstalige koerant in Suid-Afrika hierdie inligting gedra nie, maar wel die Times in Londen en twee koerante in die VSA.

Die gevolg hier te lande was dat ‘n situasie ontstaan het waar die hoofsaaklik wit Afrikaanssprekends bewus was van die verskoning, maar hoofsaaklik swart Engelse lesers en bruin Afrikaanse lesers nie bewus was hiervan nie, en nog ‘n rasse-polarisasievlak geskep is.

‘n Tweede aspek, suiwer op die regsvlak, het ontwikkel. Dit is later in vertoë deur die regsverteenwoordiger aan die Direkteur van Openbare Vervolging uitgewys: Die woordkeuses by verskoning vra en aan wie spesifiek dit gerig moet word, moet versigtig gekies word om nie op ‘n implisiete skulderkenning neer te kom nie. ‘n Belangrike onderdeel van die Suid-Afrikaanse regstelsel is dat opset bewys moet word vir die pleeg van die misdaad waarvoor die persoon aangekla word. Boonop het die vakbond die klaers van die beskuldigdes weggehou.

Word die tegniese skanse rondom die pers se gedragskode in die Persombudsman se statuut gestroop, is dit duidelik dat die mate waarin die Reitz Vier in ‘n groot deel van die media tot vrybuit verklaar en soos voëlvryes gejag is, nie met die gedragskode strook nie. Uiteindelik moes ‘n landdros, toevallig swart, waarsku dat hier buite perke gespeel word.

Eers hierna kan in ‘n kliniese omgewing oor skuldig al dan nie beslis word. Die hartseer is egter dat selfs al sou die saak op ‘n onskuldigbevinding uitloop, die openbare verguising, die regskostes en studieskade reeds ‘n baie erge en effektief lewenslange straf tot gevolg gehad het. Dit druis lynreg teen die land se grondwet in.

Die sage het ook gewys in hoe ‘n mate die land se mediawese in Suid-Afrika reeds die vrugte pluk van die stroping daarvan deur ervare en kundige mediakundiges. Dit het wel die geleentheid gebied aan jong, knap joernaliste om reeds vroeg in hul loopbane hul staal te toon, maar ongelukkig ook aan joernaliste met ‘n gebrek aan ‘n algemene kennisvlak en nuusinsig om juweeltjies van onkunde in ink te verewig. Pas het Naspers weer ‘n oop uitnodiging aan senior redaksielede gerig om pakkette te neem. In belang van die land en sinvolle mediawese kan maar net gehoop word dat die snoeiskêr met groot oordeel ingespan sal word om die beste van ou kundigheid met jong potensiaal te trou.

Soos ds. Cassie Aucamp by geleentheid gesê het: “As die een blinde ‘n ander lei, val beide in die sloot.” In die mediawêreld hier te lande gebeur dit ongelukkig te veel.

 

Dat jong, kundige verslaggewers deurbreek wat kan, word gelukkig ook gereeld gesien soos waar hoë politici se minder voorbeeldige handelinge skielik in hoofopskrifte verskyn.

 

освобождение от физкультуры в школеЛобановский Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.