Rooi ligte flikker vir persvryheid

Deel op

Verskeie onrusbarende gebeure loop nou saam om ‘n skadu oor Suid-Afrika se vlakke van mediavryheid te werp. In sommige gevalle is die verwikkelinge kompleks en in ander gevalle doodgewoon blatant.

Onder die blatante verwikkelinge is die wetsontwerp op die Openbare Uitsaaiwese. Hiervolgens word die SABC en sy raad onder die regstreekse gesag en dissipline van die minister geplaas. Die nuwe uitvoerende hoof van die SABC het ook reeds openlik verklaar dat hy aan die minister verslag gaan doen, in stryd met huidige wetgewing. Onder die huidige bedeling was die gesag van die veelparty-parlement dikwels nie genoegsaam om die SABC in staat te stel om onbevange as openbare uitsaaier op te tree nie.

Tereg vra die gedrukte media dat hierdie wetsontwerp van die tafel geveeg word.

Terselfdertyd is daar ‘n nuwe beleid vir mediakommunikasie in die Nasionale Vervolgingstelsel, kort na ook hierdie instelling ‘n omstrede politieke aanstelling aan die hoof op die lyf geloop het.

Groot ontsteltenis heers ook oor die druk – insluitend regstappe – wat teen e-TV gedoen word om die identiteit van misdadigers te openbaar wat op die lug aangedui het dat hulle beplan om besoekers aan die Wêreldbeker-sokkertoernooi aan te val. Hierdie geval is soos ander waar die regsbelange van verskillende mense teen mekaar opgeweeg word, baie moeiliker om te beoordeel.

Dit herinner aan die sogenaamde sletlys wat iemand op Mixit geplaas het, en Mixit die identiteit van hierdie misdadiger – kriminele laster is steeds ‘n strafbare misdaad in Suid-Afrika – beskerm het weens sy reg op privaatheid. Dit is ook moeilik om te verstaan hoe die Mixit-base ‘n wurm se reg op privaatheid hoër kan stel as sy slagoffers se reg op waardigheid. 

Die regering argumenteer skynbaar nou dat die misdadigers se reg op privaatheid en uitdrukkingsvryheid nie opgeweeg kan word teenoor ander se reg op lewe en veiligheid nie. Die sensitiwiteit word heel duidelik aangeblaas omdat dit met die sokkertoernooi in verband staan.

Die ironie is dat die heftigste kritiek op die regering se optrede teen E-TV van mediagroepe kom wat self is baie kringe daarvan verdink en openlik beskuldig word dat hulle self ernstige perssensuur toepas om eie politieke agendas te bedryf. Die ironie verdiep as aangevoer word dat outokratiese mediasensuur ingespan word om ‘n liberale agenda te bevorder – iets wat in beginsel en in wese lynreg teenoor mekaar staan.

Ongelukkig is dit nie so maklik om hierdie aansprake sonder meer van die tafel te vee nie. Pas het ‘n politieke verslaggewer van ‘n groot koerant versoek dat ‘n politieke party hom, die verslaggewer, van die party se mediaverspreidingslys afhaal. Presies dieselfde verslaggewer is pas wyd – op die internet – die kop gewas nadat hy sy kop in ‘n politieke byenes gaan steek het deur self politieke akteur te word op ‘n terrein waar hy duidelik nie genoeg agtergrondkennis van gehad het nie.

Die verdere ironie is dat sy koerant in elk geval uiters snoep was in die gebruik van daardie party se nuusverklarings – altyd tweetalig – , terwyl die einste nuusverklarings op ‘n feitlik daaglikse basis wyd oor veral radionuusdienste en gereeld in die Engelse nuusmedia gebruik word.

Oor die afgelope dekade het Suid-Afrika geleidelik die kreeftegang gegaan op die internasionale persvryheidsindeks, maar in die 2009-verslag weer ‘n klein bietjie kop opgetel. Hierdie effense verbetering was ietwat onverwags omdat dit gekom het te midde van ANC-planne vir ‘n soort mediatribunaal en omstrede wetgewing.

Die resultaat bly nietemin dieselfde, Suid-Afrika is lankal nie meer die mees persvrye land in Afrika nie, met lande soos Ghana en Mali wat beter vaar. En Afrika as geheel vaar swak op die indeks.

развал схождение оборудованиелобановский класс харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.