‘n Kritiek op die Afrikanerleiers

Deel op

Ek is ‘n gewone Afrikaner wat hartstogtelik lief is vir my taal, my mense en my volk en sy geskiedenis. Die vryheid van my volk lê my na aan die hart, en namate ons dieper in die moeras van oorgawe sink onder die huidige bedeling in die Nuwe Suid Afrika (NSA), ervaar ek dit al hoe meer as ‘n dringende noodsaaklikheid. Ek is nie ‘n baie slim man nie, nie ‘n politikus nie en die gawe tot geleerde en groot woorde is my nie beskore nie. Ek het baie boekekennis, maar is te lui om te gaan soek na al die aanhalings, pittige sêgoed en gebeurtenisse wat ek by hierdie skrywe kan insluit.

Soos baie ander gewone Afrikaners, ingesluit dié wat blind-gelukkig hulle huidige omstandighede aanvaar maar tog ongelukkig is, het ek hoë verwagtinge gehad dat die “leiers” van my mense met erns en doelgerigtheid besig is om oplossings te bedink, planne te formuleer en strategieë in plek te sit om ons vryheid en selfverwesenliking ‘n realiteit te maak, of ten minste ons situasie in die NSA te verbeter. Ek voel dus ek verteenwoordig die “ongebonde” Afrikaners. Hulle wat sonder amptelike affiliasie en lidmaatskap van ‘n organisasie saam swaarkry as gevolg van misdaad, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, miskenning van Afrikaans, miskenning van kwalifikasies en ondervinding, ens.

Dit is egter met skok en hartseer, dat ek agterkom dat die tradisionele verdeeldheid en heethoofdigheid wat eie aan die Afrikaner is, weereens nou wanneer ons dit nie kan bekostig nie, die grootste enkele faktor is wat ons vryheid verhoed en die “prioriteitskrisis” is. In plaas daarvanvan dat daar ‘n enkele leier of leiergroep is wat ‘n praktiese toekomsgerigte plan het oor hoe om ons soewereiniteit te bewerkstellig, wat daardie plan uitvoer, verkeer die leiers in ‘n eindelose gesprek. Hoeveel keer in die geskiedenis het daardie einste verdeeldheid, getwis oor nietige verskille en gebrek aan leierskap, die Afrikaner duur gekos?

Die eerste keer was met die Voortrekkers wat nie kon saamstem nie, en die gevolglike resultaat dat dit hulle amper twintig jaar geneem het om darem twee (nie een nie) republieke te kan stig. Met die Rebellie het tweespalt veroorsaak dat broer teen broer gekant was en geveg het, en is ons daarna vir veertig jaar verdeel tussen Nat en Sap. Die finale nekslag was toe die HNP en KP nie kon saamstaan nie en daardeur verseker het dat ons ons vryheid finaal verloor het.

Die feit dat daar soveel Afrikanerorganisasies vandag bestaan wat elkeen op sy eie manier probeer om iets te doen, is die duidelikste bewys dat daar nie erkende sentrale leiers is wat namens ons mense praat of optree nie.

Die afleiding wat ek dus maak, is dat ons geskiedenis homself herhaal, en dat ons as Afrikaners en veral ons “leiers”, dus self verantwoordelik is vir ons huidige status as derdeklasburgers of bywoners in ons eie land. Ons moet self die verantwoordelikheid dra vir die feit dat ons besig is om uitgemoor te word, versprei word oor die wêreld, dat ons verarm, en dat ons jeug rigtingloos en “hooploos” los raak van ons kultuur en volkswaardes. Die Afrikanerjongmense, wat die vlam van Afrikanerdom moet verder dra nadat ons nie meer daar is nie, het geen erg meer aan hulle herkoms nie, omdat hulle dit nie ken nie en skaam geword het daarvoor. Hulle verkies om eerder in die boesem van Engeland hulle heil te gaan soek, as in die arms van hulle eie volk.

Ongelukig blyk dit dat die leiers wat die leiding moet neem en die Afrikanervolk en j-eug hoop en rigting moet gee binne die raamwerk van ‘n veilige hawe van taal, kultuur en ‘n waardedraende toekoms, hulle versaak deur ‘n versuim en getalm om daadwerklike gestalte te gee aan die vryheidsideaal.

Veral die jeug is besig om vervreemd te raak van hulle volksgebondenheid en kultuurerfenis. Een geslag van die Afrikaner het reeds verlore gegaan as gevolg van die verlammende skok wat veroorsaak is toe ons ons vryheid verloor het, en ‘n tweede is besig om kultuurloos groot te word – kinders van die NSA.

Aangevuur deur die liberaliste binne en buite die Afrikanerdom, kom die vraag; “Bestaan daar werklik ‘n Afrikanervolk?” telkens na vore in debatte tussen gewone voetsoolvlak-Afrikaners. Die onderwerp is al so holrug gery dat die effek daarvan is dat baie mense bloot aanvaar dat die volk eenvoudig nie bestaan nie, en dat ons maar toevallig ‘n groep individue is wat dieselfde taal praat. Moet ons werklik naá100 jaar nog hieroor wonder? Die Afrikanervolk bestaan en die twyfel daaroor is bloot te wyte aan die feit dat ons nie ‘n enkele leier of ‘n sterk eengesinde leierskorps het, wat leiding gee, en wat namens ons praat en optree nie.

Die bestaan van die behoefte aan ‘n leier wat hoop en leiding gee, deur iets aktiefs en prakties te doen, word bewys deur die effek wat die liedjie “De la Rey” op gewone Afrikanermense gehad het. Kortstondig en onbewustelik het almal duidelik gewys dat hulle soek na daardie leier wat die Boere sal kom lei na ‘n beter bedeling. Maar daardie leier is afwesig, en tog glo ek hy bestaan reeds tussen die huidige leierskorps. Maar hy sal eers na vore kom en kan optree sodra al die huidige leiers hulle verantwoordelikheid besef en saamstaan .

In die afwesigheid van ‘n leier, ondersteun die gewone Afrikaner die sigbare alternatiewe soos die DA. Hulle ondersteun nie die DA omdat hulle glo in die DA nie; hulle doen dit omdat hulle geen alternatief het nie en desperaat na ‘n beter bedeling soek. Dit is die gryp na die spreekwoordelike strooihalm, omdat die leiers nie vir hulle daardie alternatief kan gee nie.

Die “eie ek”-sindroom

Ek maak die stelling, dat die huidige diskoers wat woed onder die sogenaamde leiers van die Afrikaner oor die hoe, wie, wat, waar en wanneer, nie in voeling is met die psige en behoefte van hulle eie volgelinge nie. Dit gee blykbaar aan die “leiers” meer satisfaksie om voortdurend in gesprek te wees, as om sinvolle aksie te neem en voor (en voort) te gaan. Ek sien op Carte Blanche die baniere wat Green Peace by die Kopenhagenberaad oor klimaatsverandering gebruik het. Dit lui: “Politicians talk, leaders act.”

Die vraag wat nou ter sprake kom, is hoekom word daar so baie en so lank gepraat? Blykbaar, as die Afrikaner-“leiers” bymekaar kom, is daar altyd ‘n “eie ek”-sindroom teenwoordig, waar ek/ons die enigste een of groep is wat die antwoord het, en ek/ons moet jou/julle eers oortuig, omdat ek/ons die slimste is. Geeneen kan werklik leiding van die volk neem nie, want ons is net te veel verdeel in groepies wat elkeen sy eie idee het. In bestuursterme sal ons dit “die chaos van deelnemende bestuur” noem, of meer eenvoudig in Engels: “Too many Indians, no chief.”

Klaarblyklik het die voer van gesprekke, die hou van debatte en die ontwikkeling van teorieë ‘n stokperdjie en tydverdryf van die leiers geword waarmee tyd op ‘n vreemde manier verspeel word. Hulle doen dit, terwyl die Afrikanervolk al verder disintegreer, en in die vergetelheid raak. Dit is blykbaar belangriker om die verskille tussen hulle onderskeie ideologieë en idees te identifiseer en aan mekaar uit te wys, as om daadwerklik saam te werk om die verval van die Afrikaner se situasie te keer en om te draai.

Daar is egter ‘n punt in elke stelsel wat in verval is, waar rehabilitasie na die oorspronklike status nie meer moontlik is nie, en ek is bevrees dat daardie drang om te verskil eerder as om saam te staan, veroorsaak dat die Afrikaner daardie punt binnekort gaan bereik.

Die ergste is dat die ANC bewus is van hierdie toestand waarin die Afrikaner hom bevind, en dit taamlik humoristies, maar ook bevredigend en gerusstellend vind. Hulle hoef ons nie te verdeel om oor ons te heers nie, want ons doen dit self, en daarby maak ons uitstekende werk daarvan.

Die ‘Gesprek’

Daar was sedert die NSA tot stand gekom het vele pogings, inisiatiewe, planne, debatte, vergaderings en dies meer om vryheid vir die Afrikaner te bewerkstellig en sy toekoms te verseker. Al daardie pogings het in tweespalt ontaard en op dadels uitgeloop as gevolg van die “eie ek”-grootheidswaan en sogenaamde ideologiese verskille. Blykbaar, is die enigste slotsom wat ooit bereik word; “Ja, ons verskil, maar kom ons hou die gesprek lewendig.” Op die ou end, is dit hierdie leiers se strewe dat die enigste ding wat lewendig anderkant gaan uitkom die Gesprek sal wees. “Laat alles maar ten gronde gaan solank ons net nie die gesprek verloor nie.” Politici hou van praat.

Die leiers gaan daardie Gesprek lewendig hou, totdat die Afrikaner nie meer bestaan nie, geassimileer in die NSA en versprei en vergete oor die wêreld, en daarna sal daar net ‘n voetnota in die geskiedenisboeke wees wat melding maak van daardie Gesprek wat op niks uitgeloop het. ‘n Slim ontleder sal dan daardie eindelose Gesprek kan identifiseer as die belangrikste oorsaak vir die verdwyning van die Afrikaner.

‘n Goeie vriend van my vertel dat hy eendag vir oorlede ZB du Toit, in lewe ‘n skitterende joernalis en politieke ontleder, gevra het: Wat gaan gebeur as al ons teorieë en gesprekke eendag op niks uitloop nie? ZB het blykbaar geantwoord: “Dan het ons ten minste lekker gesels.”

Potjiekos

Net ná sy inhuldiging as president van die NSA, het Thabo Mbeki ‘n vraag van ‘n joernalis oor die waarborg vir demokrasie in Suid Afrika soos volg beantwoord: “Democracy will develop in the African way, slowly cooked over an open fire.”

As ek die huidige tendens in die Afrikanerleierskorps moet beoordeel aan die hand van Mbeki se definisie hierbo, moet ek noodwendig die afleiding maak dat hulle besig is om ons tradisionele gereg, potjiekos, te maak. Soos ‘n Volkstaat almal se doel is, is die doel dan potjiekos. Op die oomblik stry ons nog watter grootte pot gebruik moet word, en watter resep gevolg moet word. En die leiers debatteer en voer die Gesprek.

Hoe lank gaan dit neem om stadig-stadig elkeen ‘n bestandeeltjie in die pot te sit, voordat die vuur gestook word? Soos almal weet, vat potjikos baie lank om gaar te word, en is die resultaat maar uiteindelik ‘n brousel van smake en geure.

Weereens: Hoe lank gaan daar nog gepraat en tyd verspeel word? Hoe lank gaan die politieke debat oor vryheid en soewereiniteit nog neem, voordat daar prakties uitvoering gegee word? Tans soek almal net verskille en raakpunte, luister oor en oor na die definisies, teorieë en akademici se raad, maar kom net nie by die punt van defnitiewe beplanning en aksie uit nie.

Praktiese leiding

“Politicians talk, leaders act.”

Alhoewel daar plek is vir die akademiese debat en die ontwikkeling van teorieë oor die Afrikaner en sy toekoms, dikteer die stand van die posisie waarin die Afrikanervolk hom tans bevind, dat ons nou met praktiese leierskap en oplossings moet kom, en nie meer debat voer oor ideologiese vraagstukke nie. Daar is ‘n te groot gaping tussen die leiers wat politiek bedryf en die akademici wat filosofeer en teoretiseer in hulle poging om die politici te help aan die een kant, en die voetsoolvlak-Afrikaners wat na praktiese leiding en aksie smag aan die ander kant. Die mense soek na tasbare optrede en vordering.

Die prentjie wat in gedagte kom is die geleerde akademikus wat vingerpunte teenmekaar, starende in die niet, op en af loop in sy kantoor, diep in gedagte terwyl hy die konsep van die lewe en vryheid geduldig aan twee politici verduidelik, terwyl jy deur die venster kan sien hoe speel die studente rugby op die grasperk, en ‘n entjie verder sien jy hoe loop die gewone mense in die straat verby. Alhoewel die studente die antwoord waarmee die akademikus vorendag kom moet leer en kennis neem daarvan om ‘n eksamenvraag te beantwoord, wil hulle nou eintlik net ‘n goeie rugbyafrigter hê. Dit is tans hulle behoefte.

As die twee politici al stryende die straat afloop, sien jy die mense, nog verder verwyderd as die studente. Hulle wonder geensins oor die sin van die lewe, of die teorie van vryheid nie. Hulle is nie eers bewus daarvan dat hulle nie werklik vry is nie, want vryheid vir hulle beteken hulle is nie in die tronk nie, en kan min of meer kom, gaan en doen soos hulle wil. In die Afrikaner se geval, besef hy egter dat hy binne hierdie eenvoudige konsep van vryheid, nie gemaklik voel nie. Hulle besef dat iets moet verander, en by gebrek aan ‘n leier of leierskorps wat namens hom praat en optree, plaas hy sy hoop op die bestaande bestel om te verbeter, of enige deelnemer (leier) aan die bestaande bestel wat lyk of hy dit wil verbeter, tot voordeel van homself. Die ander opsie is om weg te gaan uit hierdie plek waar hy ongemaklik voel, en dan neem hulle die sogenaamde “Perth Express.”.

Kortom, die gemiddelde Afrikaner wil nie weet wat is vryheid en hoe omskryf jy die akademiese of teoretiese konsep van vryheid nie. Hy wil dit net ervaar in sy daaglikse werk, lewenstrewe en doen en late. En daarvoor het hy ‘n leier nodig wat op sy vlak, prakties met die vryheidsideologie kan werk, die versugting na iets beters prakties kan benader en kan werk na ‘n oplossing. Hy sal dit volg as hy sien daar gebeur iets wat in sy guns gaan werk, en vir hom voordele gaan inhou. In die Engelse idioom: “Actions speak louder than words.”

As ‘n gewone mens honger is, wil hy brood eet – nie die resep hoe om brood te bak, of die metode om koring suksesvol te produseer nie.

Uitdaging

Op een of ander punt moet daar ‘n oomblik in tyd wees, waar ‘n wonderwerk plaasvind, en al die “leiers” besef dat die Afrikaner nie meer die luukse van tyd het nie. Dat daar ‘n punt moet wees om sonder emosie, sonder wonder hoekom en definisie, tot aksie oorgegaan moet word. Waar die leiers besef dat die Gesprek nooit gaan einde kry nie, en nooit ‘n praktiese oplossing gaan bied nie.

My uitdaging aan al die leiers van en in die Afrikanervolk is:

1. Om vir een keer bymekaar te kom, sonder hulle teorieë, filosofieë, “eie ek”-waansin, en die benadering van “hoekom sal dit nie werk nie?”;

2. Om die nuwe gees van knegskap aan ‘n regering, grondwet en stelsel wat die Afrikaner net verdra oor sy bydrae tot die staatskas, af te gooi;

3. Om by daardie byeenkoms, die dringendheid vir onmiddelike aksie te besef en te erken;

4. Om hulle te verbind tot samehorigheid en samewerking;

5. Om ooreen te kom om die Gesprek en akademiese debat uit die formule te neem, en ooreen te kom dat hulle dit in ‘n ander forum sal voortsit;

6. Om die gewone mense aan te hoor en hulle behoeftes te erken;

7. Om ‘n enkele leier of leiersgroep aan te stel om met praktiese oplossings vorendag te kom;

8. Om saam te werk hoe daardie plan prakties uitgevoer gaan word, en dit dan onvoorwaardelik te steun;

9. On hulle onderskeie volgelinge se ondersteuning en lojaliteit te gaan werf, vir daardie plan;

10. Om die gekose leiergroep te steun in die uitvoering van die plan, ingesluit enige teenspoed wat ervaar word, en

11. Om die plan en die leiersgroep te verdedig in hulle totale omgang met die gemeenskap waarin hulle lewe.

Ten slotte

Soos alle verhale, het die verhaal van die Afrikanervolk een van twee moontlike eindes. Dit is in die hande van die huidige Afrikanerleiers, wat daardie einde gaan wees. In ‘n toekomsblik, verteenwoordig die onderstaande paragrawe twee moontlike weergawes van ‘n beskrywing van die woord “Afrikaner” in die World Encyclopedia van die jaar 3000.

1. Afrikaner(s) – A name once associated with a group of white people from European decent, who lived in South Africa. For a short while (1948 – 1994), the Afrikaners governed the country under a policy called Apartheid (*see: Apartheid) which resulted in the majority of people of the country suffering under unjust laws of oppression and racial discrimination. Due to international pressure, the Afrikaners surrendered power to the black majority in 1994. Circa 2050, they disappeared as a homogenieous group, being assimilated into the black population of South Africa, or having migrated to countries like Australia, New Zealand and Canada. Only a few descendants still speak their language, which was called Afrikaans. (*see: Afrikaans)

Footnote: Shortly after surrendering power, their was a strong feeling among Afrikaners to establish an independent state, but due to the constant quarrelling and debate among their leaders on the questions of who the Afrikaner nation actually was and what the ideology of freedom should have meant to them, they never succeeded.

of

2. Afrikaner(s) – The name of the people of Xyz, the only country with a population of European descent on the continent of Africa. Although a small country on the southern tip of Africa, this country is highly successful, and compare with many European countries in terms of per capita domestic product. Originally the Afrikaners governed South Africa (1948 – 1994) as a minority, but surrendered power to the black majority in 1994, under international pressure due to their policy of Apartheid (*see: Apartheid). Because of a patriotic drive for independence and freedom (see footnote), the Afrikaners negotiated a seperate independent state with the South African government in the early part of the twenty-first century. After establishment of the new state, the Afrikaners migrated to their new homeland over a period of 10 years, and has since stunned the international community with the levels of success and advances achieved. The Afrikaners’ language is called Afrikaans (*see: Afrikaans)

Footnote: An interesting phenomenon of the country, is the 100-year old lively and heated ongoing debate among politicians, academics and sholars about who the Afrikaner actually is, and what the ideology of freedom should actually mean to them. This phenomenon is being intensively studied by anthropologists from all over the world.

Watter van hierdie twee paragrawe wil ons hê, ons nageslagte moet eendag lees? Ek lees die volgende woorde in ‘n uitnodiging wat ek ontvang het ná ‘n vergadering vir ‘n politieke gesprek oor die Afrikaner se toekoms:

Is jy ook keelvol vir tweedeklasburgerskap? Grief dit jou ook dat jou Afrikanerskap polities inkorrek is? Voel jy dis tyd om vas te skop? Kom praat saam daaroor – nugter en realisties. Dis ons elkeen se verantwoordelikheid om deel te neem as jy ‘n verskil wil sien. Niemand gaan dit vir ons gee nie, ons moet dit self doen.

“Opstand is net so noodsaaklik as ‘n volk se getrouheid. Dit is nie gevaarlik dat verset misluk nie, wat wel gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder verset verbygaan.” NP van Wyk Louw

Wyse woorde, en wat ek daarin sien is:

1. Aanhou praat en debat gaan nie ‘n verskil maak nie.

2. Aanhou praat en debat kan verset beskryf, maar dit is nie verset nie.

Respekvolle groete,

Heinrich B Zaayman

оборудование для заправки кондиционеровпрокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.