Die moordtog wat elke dag in Suid-Afrika voortduur op soortgelyke wyse as die moord op mnr Kobus Snyman van Midrand die afgelope naweek, dui op ‘ n kommerwekkende element van barbaarsheid wat in Suid-Afrika heers. So sê mnr Jaco Mulder, VF Plus-LPW en -leier van die party in Gauteng.
Dit volg nadat die 42 jarige mnr Kobus Snyman die afgelope naweek voor sy vrou en kinders in sy huis koelbloedig doodgeskiet is en die misdadigers doodluiters met ‘n skootrekenaar en selfone van die toneel weggestap het. “Die Wêreldbekersokker moet nie as weerligafleier dien vir hierdie barbaarse element van ons samelewing wat saam met swak dienslewering die land kan laat ontspoor nie,” het Mulder gesê.
“Elke keer as ek saam met my gesin buite op die stoep sit oor ‘n naweek moet ek noodgedwonge dink aan die moontlikheid dat ongenooides oor die heining kan spring en jou gesin kan kom uitwis, ons lees dit immers weekliks in die nuusblaaie.”
Die feit dat hierdie huisaanvalle op groot skaal voortduur, wys daarop dat die regering en die SAPD dit nie kan beheer nie. Die wêreld sal moet kennis neem van hierdie barbaarse element van die Suid Afrikaanse samelewing tydens die 2010 sokker.
Mulder het verder sy twyfel uitgespreek of die SAPD wel oor die vermoë beskik om die publiek te kan beskerm met die ekstra las wat die Wêreldbekersokker op die wetstoepassingsagentskappe gaan plaas.