Volkstaat: Die internet moet help

Deel op

In die ou dae, so is gespot, het “die “Engelse” Prog gepraat, SAP gestem en die Here gedank die NP is aan bewind.

Vandag, so lyk dit, stem die Afrikaner Prog, hy dink HNP en hy word geïndoktrineer om nie sy godsdiens na sy politiek deur te trek nie.

Dit is min of meer die gevolgtrekking wat ‘n mens moes maak met gisteraand se aanbieding van RSG se program, Kommentaar.

Die rede vir dié afleiding was die teenwoordigheid van dr. Piet Croukamp op die paneel.

Gewoonlik word die beste resultaat vir ‘n besadigde politieke ontleding verkry deur ‘n welsprekende, goed ingeligte persoon uit die sentrum, wat in staat is om standpunte van die vleuels te akkommodeer. Croucamp het hom egter openlik, en by tye by herhaling, namens “ons” vanuit die liberale hoek uitgedruk.

Croukamp is goed belese en gewoonlik vlymskerp akkuraat, maar sy vorige deelnames is gekenmerk deur ‘n tien persent waar hy “dit” verloor, en sy subjektiwiteit hom platloop. Dan neig hy om sommer blatant ongeskik te wees.

Gisteraand het ongelukkig weer daardie tien persent opgelewer.

Die joernalis wat die hele diskoers oor die volkstaat op dreef gekry het, Pieter du Toit, het heel besadig oorgekom, en by tye selfs die indruk geskep van iemand wat nie so sebore is nie, maar so semoer.

Die doel van hierdie bespreking is egter nie om gisteraand se Kommentaar per se te ontleed nie, maar die vreemde verdwyning van politieke wetenskaplikes en staatsregslui uit debatte en gesprekke oor die volkstaatgedagte. Vreemd, omdat, anders as wat dit gereeld in die media voorgestel word, die omringende kwessies soos selfbeskikking, selfregering en die sesessiereg modern en volkeregtelik suiwer is.

Vreemd, ook, omdat die middelpuntvliedende kragte wat die volkstaatgedagte nou impetus gegee het, naamlik vervreemding as gevolg van die ANC se hantering van die situasie, heel gangbare gesprekmateriaal geword het nadat swart redakteurs die politieke korrektheid afgetakel het en die wit redakteurs deur hierdie gat in die dyk gestroom het..

En nog vreemder, omdat baie van die politieke wetenskaplikes en staatsregslui wat in die jare voor en kort na 1994 stem dik gemaak het hieroor nie intussen dood is nie, en skynbaar ook nie van standpunt verander het nie.

‘n Deel hiervan kan miskien verklaar word aan die hand van die feit dat die meeste wie se menings gewig dra, in die akademie in diens is, en dat hulle hul loopbane koester. So asof hulle vertroue verloor het dat die hoogaangeskrewe liberale bedeling en sy grondwetlike waarborge aan dié mense ook daardie vryheid bied. Meer as ‘n dekade gelede het minstens sommige van die universiteite se Politieke Wetenskap-departemente die Noord-Suid-diskoers na sowat ‘n halfeeu op die rak van uitgediendheid gaan afhaal en afgestof.

Hierdie benadering behels in sy korste moontlike opsomming dat die Noorde (die ontwikkelde lande van die Noordelike halfrond) verantwoordelik met aanwas moet omgaan sodat hul ekonomieë die onbeheerste aanwas van die suide (meer in besonder Afrika suid van die Sahara) kan onderhou. ‘n Uitgediende benadering is afgestof, maar die moderne word gerak.

Trouens, so swygsaam, en soms blatant onkundig soos die departementshoof van Politieke Wetenskap aan Kovsies soos uit ‘n radio-onderhoud geblyk het) is die hedendaagse akademici dat ‘n mens wonder of outonomie, selfregering en soortgelyk hoegenaamd deel van die leerplanne is. En dan dalk nog te wonder hoekom al hoe minder Suid-Afrikaanse universiteitskwalifikasies oorsee die papier werd is waarop dit gedruk is.

Daar is egter ‘n ander moontlikheid hoekom die werklike akademici so swygsaam hieroor geword het, en die ontleedwerk terugval op onafhanklike ontleders en joernaliste met mindere kwalifikasies (soos die uwe).

‘n Aantal jare gelede het ‘n akademikus en intellektuele reus, en bekende Staatsregkundige as onafhanklike kandidaat vir die KP in ‘n tussenverkiesing gestaan. Sy opponent was ‘n persoonlike vriend van ‘n NP-minister, en dié weer van die redakteur van ‘n bekende Afrikaanse dagblad. Dié redakteur was weer legendaries vir sy baie kort lont. Die gevolg was ‘n swartsmeerdery van die akademikus op die laakbaarste denkbare vlak. Die prof het nog ‘n klag by die persombudsman of iets dergeliks ingedien, maar selfs met sy regskennis dadels uitgerig. Sedertdien is sy pennevrug ligjare verwyder van dit waarin hy ‘n meesterkenner is.

Aanverwant hierby is die aard van kritiek wat akademiese skryfwerk oor die onderwerp ontlok. ‘n Persoon wat bloot die regs- en staatkundige posisie uiteensit, nie eens al is hy ‘n professor met vier doktorsgrade nie, skryf die volkereg nie. Hy gee dit bloot weer. As hy / sy dan uitwys dat die kwessie van ras volkeregtelik nie deel van die pakket uitmaak nie (dit eintlik net bemoeilik) sê hy / sy dit omdat dit so is, sonder in agneming van eie gevoel.

Om dan hieroor ‘n pot kokende olie op ‘n mens omgekeer te kry sal die meeste akademici wyd laat hou. Dit laat boonop die vraag ontstaan of die Afrikaner se kultuur dan so minderwaardig is dat dit nie soos in die geval van die Baske, die Letlanders, Armeniërs en ander op eie bene volkeregtelike status kan verwerf nie, maar ras bygesleep moet word. (Volk is ‘n vrywillige assosiasie en Koos Kombuis kán dus bedank, maar ras is moeiliker om af te skud al “beg” Antjie Krog ook “to be black.”)

Ja, dit is so dat die ANC met die ras-storie begin het, maar dit verander bloot die intensiteit van onderdrukking wat die norm is om die vlak van outonomie volkeregtelik te bepaal – nie die definisie van volk nie. Van die kritiek kom van mense wat nogal baie herinner aan die storie van die boer wat bobbejane met pampoene vang. Hy maak gate daarin waardeur die bobbejaan se hand net mooi pas, maar as hy sy hand ingesteek het en ‘n handvol pitte beetgekry het, kan hy nie weer sy hand uitkry nie. Die boer sal hom bo-op daai pampoen doodslaan maar laat los sal hy daai pitte nie laat los nie. En nee, dis nie my eie uitdinksel dié nie, dit kom amper 25 jaar gelede van ‘n baie regse argitek.

‘n Ruk gelede het dr. Christo Landman in ‘n artikel geskryf dat hy meen onder die stappe ter voorbereiding van Afrikaner-selfregering, ook die opleiding van leiers op die beplanningstafel moet wees. Hierna het ander in soortgelyke terme menings gehuldig. Die feit is dat enige proses na selfregering, outonomie en / of die volkstaat pragmaties en regstegnies baie kompleks is, en dat dit uiters kortsigtig is om die mense wat die volkstaters bitter nodig gaan hê – die akademici met die doktorsgrade en werklike gevorderde kwalifikasies en kennis – van internasionale standaarde – en nie soos strooipoppe op te stel en dan aan flarde te skiet nie.

Miskien het iemand die vaardigheid en tyd om die toepaslike verslae van die Presidentraad se Staatkundige Komitee en die Volkstaatraad, asook toepaslike voorleggings aan Kodesa, in teksformaat te skandeer en op ‘n webwerf te plaas sodat dit makliker bestudeer kan word. Dan sal mense wat op webwerwe so van die heup af skiet met min moeite kan gaan kyk en self sien dat al vier wiele reeds ontwerp is en dat heelwat na die kalibrering reeds gedoen is voor dié werk ashoop toe verban is. Met hierdie kennis weer terug in die hoofstroom-besprekings sal daar hopelik minder skadelike “juweeltjies” uitgehoes word, selfs al is die skrywers en samestellers van hierdie berge werk self nou buite die besprekingspoel.

Ek maak die afleiding dat dié werk nie algemeen elektronies op die net is nie omdat ek niks van my eie werk raakgeGoogle kry nie, terwyl ek weet verskeie van die verslae dui my naam in hul bronnelyste aan. (Google dui wel van die verslae aan, maar my eie pogings om die verslae se inhoud self op die skerm te kry was onsuksesvol.)

куплю браtopcargo

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.