Het groot Amerikaanse banke en versekeraars hulle die afgelope jaar weer aan die betaal van allerlei bonusse te buite gegaan?
Die Wall Street Journal berig dat hierdie sektor hul mense die afgelope jaar altesaam 145 miljard dollar betaal het, 6 % meer as in 2007 toe die betaling van salarisse, bonusse en ander meevallers ‘n rekordvlak bereik het.
Die werkers van hierdie sektor het verlede jaar bykans $150 000 verdien, $ 3 000 meer as in 2007. Hierdie sektor se inkomste het die afgelope jaar met 25 % gegroei.
Nie almal stem met die Wall Street Journal se berekenings saam nie. Die koerant het sy berekenings gedoen op die data van 38 van die VSA se groot banke en versekeraars. Die instansies wat hierop gereageer het, sê die skatting is te hoog. Boonop, gegewe die groot ontevredenheid oor hoë bankbonnusse voor die Wall Street-duikslag (en in sommige gevalle selfs daarna toe van die instansies deur staatshulp vlot gemaak is) sal verseker dat die instansies die gordel intrek wanneer dit by bonusse kom.