Wie weet niks?

Deel op

Iets wat van tyd tot tyd op die tafel beland, is die ouer geslag se kommer oor die jonger geslag se ontstellende gebrek aan algemene kennis.

Ironies, spreek die jongelinge gereeld die mening uit dat die “ou mense weet niks.”

Toegegee, die dae dat bykans enige standerd 4-kind so uit die vuis die wêreld se hoofstede kan oprits, asook die meeste lande se leiers, is seker goed verby. Wie van ons, oud of jonk, weet so uit die vuis wie Lesotho en Nederland se Eerste Ministers is – in skrille kontras met die dae toe almal van Leabua Jonathan, Joop den Uyl, Olaf Palme, Mao Zedong, Tsjou en Lai (nee, dis nie Sjinees vir ontbyt in die kooi nie) geweet het?

Dit daargelaat. Vanoggend raak George Claassen in By egter aan ‘n verwante saak – die jong mense wat nie meer geleer word om te dink nie, met die gevolglike swak prestasies, wat skool-akademiese prestasies insluit.

Gedagtig aan sy onlangse uitsprake rondom gosdiensbeoefening op skool, was die uwe in die versoeking om by voorbaat die naam van sy rubriek, Kwakoskoop, verkeerd te spel (jôrs troelie het darem redelike erge disleksie waaragter geskuil kan word).

Na die lees van die rubriek, is daar egter soveel waarmee saamgestem moet word, dat dit bloot by versoeking bly.

Die vermoede dat George met sy verwysings na “bygeloof” eintlik ook die term “geloof” insluit, bly ‘n remmende uitwerking uitoefen.

Maar kom ons fokus vir ‘n oomblik op die saamstembare. Ten eerste, vanoggend se Volksblad se mashoof, Volksblad, word amper net so groot gevolg met “Sandra terug by Egoli.”

Dan móét eenvoudig met George saamgestem word. Ons mense onderbenut ons beskikbare breinbedrading erg, ons dink nie, want ons het nie genoeg feitelike agtergrond om teen te dink nie.

Daar is natuurlik mense met indrukwekkende algemene kennisse, en mense wat oor die vermoë beskik om hierdie kennis toe te pas, of sinvol te ontleed. Die gevaar kom is as ‘n mens begin ontleed sonder die mees basiese kennis.

As vertrekpunt. Hoeveel van die mense wat nou in die huidige debat so hul monde teen die volkstaatgedagte uitspoel, het werklik enige kennis hieroor om hul menings te kan uitspreek?

Dr. Pieter Mulder, in reaksie op ‘n vroeëre rubriek van Ferdi Greyling, wys opnuut daarop dat hierdie gedagte, saamgelees met volkeselfbeskikkingsreg, deur die moderne volkereg gerugsteun word. Iemand wat vanuit ‘n skynbaar akademiese hoek na die gedagte as verkramp en outyds verwys, se kennis laat hom doodeenvoudig in die steek.

Greyling het ‘n verbluffende algemene kennis, maar tog moes Mulder hom daarop wys dat groepregte, soos die volkereg dit erken, nie soos Greyling gemeen het, oor ras handel nie.

Pieter du Toit, wat waagmoedig sy mond oor die lesers se volkstaatkeuse uitgespoel het, was reeds verskeie kere op Orania, maar het hy enige van die Volkstaatsraad se verslae gelees sodat hy genoeg rugsteun gehad het om hom uit te spreek?

Die mens reageer ongelukkig op sy persepsie van die werklikheid in plaas van die werklikheid. Hoe skraler sy kennis, hoe verder verwyder is sy optrede van paslik.

Die regering probeer hard om Suid-Afrika as ‘n integrale deel van die kontinent, en in pas met gebruike en sienings eie aan die kontinent te bring. Toe die Togolese span in Cabinda aangeval word, en CNN die verband na Suid-Afrika se aanbieding van die Wêreldsokkerbeker trek, laat die regering en sokkerbase geen gras groei om ‘n nuwe persepsie van groot afstand en min in gemeen nie te skep.

Ongelukkig is George ook reg dat daar meer boeke oor sterrewiggelary as sterrekunde verkoop word. Tot onlangs is ‘n radio-advertensie wat onder meer sterrewiggelary bemark, Sondagaande in die godsdiensprogram (deesdae mos meditasie) uitgesaai. Boonop nog ‘n uiters irriterende een ook.

Koerante staan oor die algemeen meer ruimte af aan wat die “sterre” doen (bedoelende akteurs, sangers, vermaaklikheidsmense) as wetenskaplike navorsing, “groen” sake en wat in Wes-Europa (uitgesonderd Londen) gebeur. Teen vanoggend het Volksblad, so ver ek kon sien, nog niks oor die huidige volkstaatdebat gedra nie.

Daar is positiewe sake ook. RSG se Sterre en Planete is besonder gewild, en Sondagaande se “Kommentaar” blykbaar ook.

George moet egter waak daarteen om ooit te meen hy kom by die punt waar hy selfvoldaan die oordeel kan uitspreek: “Ek weet.” Want juis in die wetenskap is vandag se kennis môre dikwels op die ashoop. Dit ontwikkel baie vinnig.

By geleentheid van internasionale outismedag reik ek ‘n nuusverklaring oor hierdie toestand uit. Gewoonlik doen ek dit namens ‘n outismevereniging (gratis omdat my jongste self outisties is), maar dié dag toevallig namens ‘n Christen-demokratiese party. Sommer gou kry ek ‘n uittrap e-pos van een van George se dissipels, die wetenskapverslaggewer van ‘n groot Afrikaanse koerant. My vermoede is die verslaggewer se argwaan is ontlok oor die “Christen” in die naam van die instansie namens wie ek dit uitgereik het. Maar sy trap my van ‘n kant af uit oor “ek” sê outisme neem toe, en sy spreek haar baie breed oor die oorsake uit.

Soos die Namakwalandse spreekwoord lui: “As ‘n donkie sy bek oopmaak, val daar kaf uit.”

Presies hoeveel kaf tref dit my nou weer terwyl ek besig is om ‘n referaat vir ‘n internasionale outismekongres voor te berei.

Die feite is dat daar in 1991 ongeveer 6 outismegeboortes per 10 000 geboortes was, in 1998 was dit 12, in 2001 42 en staan nou in die orde van ‘n 100, met nog geen teken van afplatting nie. Die mees moderne navorsing herlei outisme steeds, soos destyds in die mediaverklaring, na genetiese mutasies, en die aantal gene waarmee dit in verband gebring word, word al hoe meer.

Gewoonlik word joernaliste eers die geleentheid tot rubriekskrywing gebied wanneer hulle bietjie lewenservaring en kennis het. En dan is dit ook nie almal wat die geleentheid kry nie.

Ek was dus bietjie meer as geamuseerd toe dieselfde wetenskapverslaggewer se Engels haar kort hierna in die steek laat en sy gaan skryf oor die voorwerp so groot soos die aarde wat op Jupiter gaan val het. Net so ‘n bietjie luister na Sterre en Planete sou reeds genoeg agtergrond verskaf het dat so iets hoogs onwaarskynlik sou wees. Die opslaan van die Engelse teks bring toe ook aan die lig dat dit ‘n voorwerp was wat ‘n tydelike letsel (Jupiter is ‘n gasplaneet) so groot soos die aarde gemaak het. Gaan gooi maar ‘n klippie in ‘n dam en kyk hoe groot is die “letsel” na ‘n ruk.

Gewoonlik doen verslaggewers verslag oor wat werklik gebeur het, en filosofeer nie rondom die onderwerp teen ‘n spektrum van gebrekkige kennis nie. Dit geld ook uitsprake oor die volkstaat en selfbeskikking, wat die produk van vakgebiede in eie reg (my eie kwalifikasies tussen hakies) soos die Politieke Wetenskap (Honneurs, 1977), Politieke Geografie (3, 1976), Politieke Sosiologie, Ekonomie (116, 1984) en Staatsreg (1, 1994) insluit, met die verstandhouding dat die Volkereg en Internasionale Reg via Politieke Wetenskap (Internasionale Verhoudings), Politieke Geografie en Staatsreg behoorlik inslag vind.

Presies hoeveel navorsingstukke teen die beginsel van outonomie en selfbeskikking het die monduitspoellers aan die Staatkundige Komitee van die Presidentsraad, aan Kodesa en die Volkstaatraad gelewer wat hulle so kenners maak? Ek het talle, in eie naam, maar ook namens DG’s, ‘n adjunk-minister en ‘n administrateur gedoen. Dit maak my lank nie die grootste kenner op die gebied nie, maar darem stellig ietwat beter ingelig as sommige van die “kenners” by wie die media toustaan om bydraes te kry.

As iemand wat in strategiese kommunikasie opgelei is, wil dit amper voorkom asof daar in iemand se kop die gedagte uitgebroei is dat die tyd nou ryp is om die volkstaatgedagte finaal dood te slaan.

En toe boemerang dit.

Ja George, voorlopig gaan ek jou rubriek, Kwakoskoop, nie anders spel nie. Maar spreek ook die kwakke onder jou eie dissipels aan.

play free online games without downloading nowАлександр Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.