Volksvryheid bepaal individuele vryheid

Deel op

Ferdi Greyling, rubriekskrywer van Beeld, se vergelyking van Roelf Meyer se onderhandeling (oorgawe?) van die vroeë negentigerjare met Pieter Mulder se aanvaarding van die adjunkministerskap as vorme van akkomodasie teenoor “die werklikheid van die dag” is nie geldig nie.

Meyer het in die vroeë negentigerjare gehandel as ampsdraer van ‘n soewereine staat met ‘n weermag, intelligensiediens, polisiediens, ens. Hy het ‘n mandaat van die destydse kabinet gehad om te “onderhandel”, nie om geheel en al inskiklik teenoor die ANC se eise te wees nie. Die feit dat selfs Cyril Ramaphose gemeen het dat Meyer te veel toegegee het om agterna so joviaal en vrolik te voel, is myns insiens verdoemend.

Hierteenoor bevind Pieter Mulder – asook elke ander Afrikaner – homself vandag in ‘n posisie van volslae magteloosheid teenoor die ANC “wat gaan regeer totdat Jesus kom” (in die gevleuelde woorde van president Zuma). Die situasie is dus vandag radikaal anders as in die tyd van Meyer en De Klerk toe “die werklikheid van die dag” veel gunstiger was om die land in ‘n ander baan te plaas as dié wat in Afrikalande sedert die laat vyftigerjare geld.

Selfs onder benouende omstandighede is dit moontlik om vryheid na te streef en van ‘n beter toekoms te droom. Kort ná die neerlaag van 1902 het Afrikaners besluit om Afrikaans te ontwikkel en is die Akademie in 1909 gestig. Volgens Pieter Kapp in “Draer van ‘n droom” het daardie besluit saamgehang met die groot debat oor selfregering wat in 1910 verwesenlik is.

Ferdi Greyling se “realpolitik” behels die aanvaarding van ‘n onaangename en ongewenste werklikheid, ‘n onvryheid wat met mooiklinkende begrippe soos “demokrasie” en “individuele regte” opgevysel word.

Nie net is die vervolging van minderhede in Afrika (Oeganda, Rwanda, Nigerië, Angola, Zimbabwe, ens.) ‘n gegewe wat ons moet verreken nie, maar minderheidsregte en die selbeskikking van nasionale minderhede is brandende kwessies by die Verenigde Nasies en die res van die internasionale gemeenskap.

Die huidige grondwetlike orde het volledig misluk. Dit kan nie ons veiligheid, taal- en kultuurregte, asook omgewingsekerheid waarborg nie, wat nog te sê ons individuele regte waaroor regters soos Hlope of Motata uitspraak mag lewer.

Al wat vir ons oorbly is, hetsy emigrasie, hetsy Afrikaneronafhanklikheid in ‘n eie vaderland – presies dít waarvoor Pieter Mulder en die Vryheidsfront Plus staan. Indien die Swazi’s, Tswanas en Sotho’s van Lesotho op hul eie “tuislande” geregtig is, waarom nie ook die Afrikaner nie?

Vanaf 1945 tot nou, het die aantal lidlande van die Verenigde Nasies vanaf 51 tot 192 toegeneem. Dit sê vir ons dat individuele vryheid van volksvryheid afhang.

насосной станцииАлександр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.