Herrie se kerrie: Van Zuma en somme maak

Deel op

Dit is maar goed dat Herrie se deel van die brein wat met somme en wiskunde werk, die algemene Suid-Afrikaanse tendens van ontbrekende syfervaardigheid voorafgegaan het.

Dus kan, en hoef Herrie hom nie te verknies oor die numeriese smêsj van wat gebeur as tradisie en gelyke regte in Suid-Afrika mekaar ontmoet nie.

Natuurlik verwys Herrie na die prez se wedertroue. Sy vyfde.

In alle billikheid, as Herrie se optel- en aftreksomme klop, is dit nou eintlik sy derde vrou, nadat een oorlede is, en dr. Nkosazana hom “gefire” het.

Maar drie, meen Herrie, kan ‘n handvol wees as gelyke regte ter sprake kom. Veral vroueregte, wat, as Herrie miesies Gouws en ander feministe reg verstaan, beteken vroue het eers gelyke regte met mans as hulle meer gelyk as mans is.

Dit, volgens Herrie se bedenklike syfervaardigheid, beteken dat elkeen van Zuma se vroue (soos die gesin na Nuwejaar daaruit gaan sien) op vier mans geregtig sal wees om gelyke regte met die prez te geniet.

As Herrie se sommetjie reg uitwerk is dit ‘n totaal van veertien ouers in die gesin (Klein Herrie sê dis naby genoeg, Herrie is net een uit). Die lollery kom in, meen Herrie, as elkeen van die mans weer op nog twee bykomende vroue geregtig is, en dié weer op nog drie bykomende mans. Ad infinitum.

Herrie is al lankal haaks met die Vrystaatse Rugby-unie en ander instellings wat in Engels “Season tickets for the family” en in Afrikaans “Seisoenkaartjies vir die familie” verkwansel.

Synde die Cheetahs tradisioneel net die helfte van die “seisoen” speel, is kaartjies eintlik tot verhouding duur. Maar toe die Cheetahs met “seisoenkaartjies vir die familie” kom het dit darem na ‘n winskopie gelyk. Herrie het een aangeskaf, maar by die hek, toe Herrie met sy kroos, sy neefs met hul krose, en ‘n paar kleinneefs met hul krose opdaag beduie die rugby-unie hulle het eintlik “seisoenkaartjies vir die gesin” bedoel. ‘n Cheetah in die sak gekoop, as’t ware.

Maar Herrie sal graag wil sien wat die VRU maak as die prez en sy “family” met so ‘n seisoenkaartjie “for the family” opdaag, veral na die vroue hul gelyke vroueregte opgeëis het.

Volgens tradisie het ‘n man, as hy na ‘n termyn op die myn by sy tuisstat in die Transkei aankom, eers ‘n ent weg gaan sit en wag tot hy ‘n beeswagter of iemand kry, wat vooruit kan gaan om sy mense van sy aankoms te verwittig. Dis nou goeie maniere om nie die vrou in ‘n ongeneë situasie aan te tref nie.

Herrie weet eerlik nie of dieselfde tradisie in Zoeloeland geld nie, maar Herrie kry vreemde visies in sy kop as hy moet dink aan hoe gemaak met die heli-landsplek wat in die stat gemaak is, en nie ‘n ent weg soos wat tradisie dit vereis nie.

In Herrie se geestesoog sien hy ‘n vreeslike geskarrel as die heli skielik oor die horison verskyn en so onbedag naby sy bestemming gaan sit.

Maar Herrie kan om de dood nie dink wat die geskarrel sou veroorsaak nie.

Maar eintlik is die hele relaas en gewonder onnodig, want Herrie kan mos nie somme maak nie.

 

mositaldentАлександр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.