Ja, al die stories dat Schummie weer gaan jaag, is toe bevestig. Die afgetrede wêreldkampioen van Duitsland het nie net vir groot kaartjieverkope by die toekomstige Duitse Grand Prix gesorg nie, maar ook veroorsaak dat van die mense by die baan nie vir Kersfees kon afvat nie. Die verkope van kaartjies vir aanstaande seisoen se wedren by Hockenheim was so goed dat daar ingewerk moes word om by te hou.
Mercedes het bevestig dat Schumacher, wat die titel al sewe keer ingepalm het, wel in 2010 langs Nico Rosberg vir hulle gaan jaag. Michael, wat nou 40 jaar oud is en 41 sal wees wanneer die seisoen begin, het dan ook bygevoeg dat hy nie net vir ‘n enkele jaar gaan jaag nie, maar dat sy kontrak met Mercedes GP tot einde 2012 strek.
Mercedes glo hierdie nuwe status sal 2010 ‘n heelwat beter jaar vir verkope van passasiersvoertuie maak as wat hulle die afgelope paar jaar gehad het. Schumacher het dan ook bygevoeg dat wanneer die driejaarkontrak vestryk kan hy, wat dan amper 45 jaar oud sal wees, as ‘n ambasisadeur vir die span ingespan word.
Schumacher het beklemtoon dat hy nie die nommereenbestuurder vir die span sal wees nie; dié eer val Rosberg te beurt. Hy het ook bygevoeg dat sy 14 jare lange vebintenis met Ferrari spesiaal was en dat hy hulle ewig dankbaar sal wees vir die vyf wêreldtitels wat hulle hom besorg het, maar hulle is nie Duits nie.
Nou ja, laat die poppe dans soos die oumense altyd gesê het.