NP-magspolitiek eers en daarna boedeloorgawe tussen 1966 tot 1993

Deel op

Die politieke geskiedenis van die periode 1966 tot 1993 kan getipeer word as NP-magspolitiek onder onderskeidelik B.J. Vorster en P.W. Botha en daarna kapitulasie of boedeloorgawe onder F.W. De Klerk.

B.J. Vorster

Balthazar Johannes Vorster (1915-1983) het as jongman hom sterk teen die Smuts-deelname aan die tweede wêreldoorlog uitgespreek. As gevolg hiervan is hy geïnterneer op Koffiefontein, waar hy en Hendrik van den Berg – die latere baas van die Buro vir Staatsveiligheid – groot vriende geword het.

In 1953 word hy vir die Nasionale Party tot die parlement verkies. In 1961 word hy minister van justisie. In 1966 vervang hy die afgestorwe dr. H.F. Verwoerd as eerste minister. In 1968 skaf hy die laaste vier blanke setels af wat die Kleurlinge verteenwoordig het.

Vorster keur goed dat swart diplomatieke verteenwoordigers in blanke gebiede bly en dat Maori’s in die nasionale span van Nieu-Seeland na RSA ingesluit word. Hy weier om diplomatieke erkenning aan die Rhodesië van Ian Smith te verleen. In 1974 deel Pik Botha, klaarblyklik in opdrag van Vorster, vir Ian Smith mee dat die RSA Rhodesië se “water en ligte” sal afsny as Smith nie tot ‘n politieke vergelyk met die swartes kom nie. Die Vorster-regering gee steun, in die geheim, aan biskop Abel Muzorewa en die voorspelling van die veiligheidsdienste, dat Muzorewa ‘n goeie kans staan om die Rhodesiese verkiesing te wen, was ‘n groteske mistasting. Mugabe wen die verkiesing. Die gemors wat ná die Mugabe-oorname in Zimbabwe ontstaan, moet dus by terugskouing op die debietrekening van die NP en gewete van Pik Botha gelaai word. Ian Smith noem sy hantering deur Pik Botha in sy “The Last Betrayal” verraad gepaardgaande met verreikende politieke kortsigtigheid. Reeds toe voorspel Smith dat SA in die voetspore van Rhodesië sal volg.

Vorster se volgende blaps was om regse parlementariërs van die NP dusdanig te vervreem, dat dr. Albert Hertzog en menere Jaap Marais en Willie Marais die Herstigte Nasionale Party geskep het. Deur gebruikmaking van sy veiligheidspolisie het Vorster nie net die ANC vervolg nie, maar staatsmag teen sy eie mense gebruik. Om Vorster te opponeer was om staatsgevaarlik op te tree. Vorster sal onthou word vir sy veiligheidswetgewing wat eerder binne die kader van ‘n diktatuur as binne ‘n regstaat tuishoort.

Tydens die regeertermyn van Vorster is die departement van inligting – as ‘n alternatief vir die linkse streepbroekbrigade van Pik Botha se buitelandsesakedepartement – uitgebou. Sien in hierdie verband die artikel op die Praagwebwerf, getiteld Die skandaal rondom die ‘inligtingskandaal. Vorster ontken in ‘n lekkasie deur persone in die “binnekring” na die media dat die Departement van Inligting “The Citizen”-koerant met staatsgeld gekoop het. Die leuen in sake die aankoop van The Citizen, wat deur Vorster ontken is, lei tot Vorster se “aftrede” in 1978. Die hand van Pik Botha het swaar op die vernietiging van Connie Mulder, Eschel Rhoodie en die departement van inligting geval. Die uitskakeling van Mulder en van die Rhoodies het meteens ook beteken dat die grondwetlike model van konsosiatiewe demokrasie van Arend Lijphardt, wat vir plurale gemeenskappe ontwerp is, van die tafel gevee is. Die val van Vorster het ‘n belangriker implikasie gehad: naamlik dat die buitelandse been van die departement van inligting onder die departement van buitelandse sake van Pik Botha tuisgebring is. Hierdie feit, meer as enige ander gebeurtenis, het veroorsaak dat Pik Botha, nou die alleenkanaal na die kabinet oor internasionale aangeleenthede was en tot die kapitulasie van die Nasionale Party gelei het.

Pik Botha staan as kandidaat vir die presidentskap terug vir P.W. Botha en verseker so sy posisie as minister van buitelandse sake. In ‘n sekere sin was Pik Botha dus medeverantwoordelik vir die val van Vorster en verkiesing van P.W. Botha as staatspresident.

P.W. Botha

Pieter Willem Botha (1916 – 2009) was vir lank minister van verdediging en toe eerste minister van SA (1978-1984) en die eerste uitvoerende president vanaf 1984 tot 1989. Hy is deur sy vyande die “groot krokodil” gedoop.

PW is ‘n Vrystater van geboorte. Reeds op 20-jarige leeftyd het PW sy studies by die Grey-universiteitskollege (die latere Universiteit van die Vrystaat) opgeskop en organiseerder vir die Nasionale Party geword. Hy was lid van die anti-Engelse Ossewabrandwag en ‘n voorstander van Christelike nasionalisme. PW verteenwoordig sedert 1948 die kiesafdeling George vir ‘n ononderbroke tydperk van veertig jaar. In 1958 bevorder dr. H.F. Verwoerd vir PW tot adjunkminister van binnelandse sake.

In 1966 word hy minister van verdediging in die Vorster-kabinet. In hierdie hoedanigheid het hy die weermag van SA tot ‘n formidabele mag uitgebou. In PW se ampsperiode is die Staatsveiligheidsbestuurstelsel tot ‘n effektiewe konflikbemiddelende struktuur ontwikkel. Knelpunte in die administrasie van swartes is ontbloot en vinnig aangespreek In die sewentigerjare word die ontwikkeling van SA se kernvermoë ‘n werklikheid. Sewe atoombomme is toe ontwikkel. In Angola ondersteun hy die UNITA-beweging van dr Jonas Savimbi tot in die tagtigerjare.

In 1983 word ‘n Driekamerparlement daargestel: die Parlement vir die Blankes, die Huis van Verteenwoordigers vir die Kleurlinge en ‘n Huis van Afgevaardigdes vir die Indiërs. Swartes moes hulle politieke ideale in die verskillende nasionale state uitleef. Die nuwe grondwet skaf die amp van eerste minister af. Die president word ‘n uitvoerende president. Die president en die kabinet neem beheer oor alle aangeleenthede wat van nasionale belang geag is. In 1984 word P.W. Botha tot president met uitvoerende magte verkies.

Sy politieke ideaal vir SA is die daarstelling van ‘n federale staat wat selfbeskikkingsreg aan die etniese tuislande sou gee. Tydens PW se bewindsfase kry die TBVC-state hulle “onafhanklikheid”. Aan hierdie state is nooit internasionaal erkenning verleen nie. Die verbod op veelrassige huwelike en veelrassige partye word onder Botha opgehef. Die bepalinge van die groepsgebiedewet word verslap. Botha is die eerste NP-leier wat onderhandelinge met Nelson Mandela toegelaat het, maar weier enige onderhandelinge met die ANC self.

In 1985 skep minister Pik Botha verwagtinge in die buiteland oor die P.W. Botha-Rubicontoespraak wat by die kongres van die Nasionale Party in Natal gehou sou word. Daar is verwag dat die President in Durban radikale politieke hervorminge in sake die swartes sou aankondig. In plaas daarvan is Botha uitdagend teenoor die internasionale druk op die uitskakeling van apartheid en verwerp hy die vrylating van Nelson Mandela. In 1986 plaas die Amerikaanse regering die Omvattende Anti-apartheidwet (“Comprehensive Anti-Apartheid Act”) op die wetboek. Oor die verwagtinge wat in die buiteland geskep is, het president Botha hom soos volg, aldus die joernalis Sike Bax, van Nederland uitgelaat:

Ik zou voor een congres in Durban spreken over politieke ontwikkelingen op lange termijn maar had helemaal geen ‘Rubicon- ideeën’. Deze minister wilde mij alleen maar beschadigen en dat lukte aardig. Als ik hem tegenkom, die kans is minimaal, ‘sal ek hom kaalskop’. Hij zag kans verwachtingen te scheppen die nooit waar konden worden. Ik kreeg ervoor de kous op de kop. En dat was onmiskenbaar zijn bedoeling.”

Die Waarheid- en Versoeningskommissie het Botha van growwe nalatigheid beskuldig. PW self het egter volstrek geweier om voor die Kommissie te getuig. Hieroor spreek hy homself uit in gepubliseerde onderhoud met Bax:

“Eerst probeerde De Klerk nog of hij mij zo ver kon krijgen dat ik bij de zogenaamde Waarheids- en Verzoeningscommissie zou opdraven om verantwoording af te leggen. Ik vroeg hem: ‘Voor welke waarheid staat die commissie eigenlijk?’ Ik zet daar geen voet en vraag voor niets verontschuldigingen.”

P.W. Botha se ondergang in die politiek kan direk herlei word tot die Ronald Reagan/Mikhail Gorbatsjof-ooreenkoms (Moskou, 1988) oor die Suidwes-Afrika-aangeleentheid. As SA uitvoering sou gee aan VN Resolusie 435 van die Veiligheidsraad, is ooreengekom dat militêre hulp van die USSR sou ophou en dat Kubaanse troepe uit Angola onttrek sou word. Op landswye televisie het P.W. Botha, ná die verkiesing van F.W. de Klerk as leier van die NP, verklaar dat hy die kabinet om advies gevra het wat Botha as rede kan aanvoer vir sy bedanking as president. Daar is gesuggereer dat hy sy gesondheid moes aanvoer, waarop Botha kommentaar gelewer het dat hy nie kon lieg om sy gesondheid as rede aan te voer nie.

By die afsterwe van P.W. Botha op die hoë ouderdom van 90 jaar is ‘n staatsbegrafnis die familie aangebied, welke aanbod van die hand gewys is.

F.W. de Klerk (1936-)

F.W. de Klerk was president van SA in die periode Februarie 1989 tot September 1994. Hy was die leier van die Nuwe Nasionale Party vanaf 1989 tot 1997. Hy het in die regering van Nelson Mandela tot 1996 as een van twee visepresidente gedien. Hy het in 1997 uit die politiek getree. Hy is vir die eerste keer in 1969 as lid van die parlement verkies.

De Klerk sal onthou word vir die vernietiging van SA se atoombomvermoë, vir die aftakeling van die Staatsveiligheidsbestuurstelsel en beëindiging van ‘n beleid van afsonderlike ontwikkeling. De Klerk ondersteun die transformasie van SA na ‘n nie-rassige demokrasie.

Vir sy rol is die volgende internasionale toekennings aan hom gemaak:

  • Die Prince of Asturias-toekenning (1992)
  • Die Nobelvredesprys (1993)

De Klerk is ‘n afstammeling van ‘n familie wat bekend was vir hulle konserwatiewe lewensuitkyk. Sy grootoupa was ‘n senator. Sy oupa het twee keer onsuksesvol vir die parlement gestaan. Sy tante was getroud met eerste minister J.G. Strydom. Sy vader, Jan de Klerk, was ‘n bekende minister en later president van die senaat. Die politieke bollemakiesie wat De Klerk gemaak het, is moeilik te versoen met sy agtergrond en optrede in die politiek. Behalwe as die geskiedenis deur magte buite die mens om gerig word?

Die naam De Klerk is afgelei van die Franse Le Clerc of Le Clerq wat letterlik “die klerk” beteken. Die naam “die klerk” bring in gedagte ‘n visioen van die bekende dertiende-eeuse siener, Nostradamus. Volgens Landman in sy Land van die Olifant (2009) skryf Nostradamus van ‘n land wat hy die Land van die Olifant noem. Wanneer die Westerse sosiaal-maatskaplike orde sy einde nader, sal die internasionale mag na die donker volkere verskuif. Die Christelike sal gemarginaliseer word. Range en ampte wat hoog is, sal laag wees en wat laag was hoog word. ‘n Verleier, wat die wêreld met sy charismatiese persoonlikheid verower en wat in die tronk is, sal deur Le Clerq vrygelaat word. Professor Eben Venter, ‘n kenner van die klassieke Frans en van Nostradamus, verklaar hierdie visioene van Nostradamus sodat dit op SA betrekking het.

распродажа верхней одежды девочекФільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.