2010: Die brekers en die bouers

Deel op

In elke bedeling is daar die brekers en die bouers.

Gedurende die vorige bedeling was dit ook so – mense wat baie hard gewerk het om die land te laat werk, al het hulle nie met die bedeling, apartheid, saamgestem nie. Maar hulle het gebou.

Dan was daar diegene wat buite die stelsel veranderings teweeg probeer bring het – wat boikotte en sanksies voorgestaan het – en wat selfs die wapen op mede-burgers gerig het waaronder dade soos die plaas van landmyne op plaaspaaie en ‘n skietorgie in ‘n vrouekroeg.

Die brekers van ouds en hul ondersteuners argumenteer dat daar geen ander opsie was nie. Hulle argumenteer voorts dat daar nou ‘n grondwet in plek is wat die breker-optrede ongewens maak.

Tog dui peilings daarop dat polarisasie eskaleer. Daar is duidelik mense wat nog nooit gemeen het die post-1994-bedeling bied voldoende ruimte aan bouers nie, en daar is ook ‘n stroom nuwe bekeerlinge wat na hierdie mening huldig. Hulle sien hoe hul skole, minder word, hoe hul taal grondwet en al verder gemarginaliseer word…

Is daar ruimte vir bouers?

Ten spyte daarvan dat Suid-Afrika se posisie gemiddeld die afgelope klompie jare op die persvryheidsindeks die kreeftegang gegaan het, is daar steeds ‘n groot mate van persvryheid. Kritiek op die regering se doen en late is volop. Wanneer dié kritiek egter nie tot regstellings lei nie, bou frustrasievlakke op.

Boonop is almal dit ook nie eens dat die knaende foutvindery deel van die boukultuur is nie, en word dit dikwels tot die breekkultuur gereken.

Is die stappe om die staat voor die hof te sleep om die grondwet na te kom opbouend of afbrekend? Of liewer, wie is dan die bouers en die brekers?

Is dit opbouend of afbrekend om die leemtes in die Kemptonparkse onderhandelings uit te lig, en te wys daarop hoe moderne grondwette soos dié van Indië en die Europese Unie juis hierdie leemtes aanspreek?

Is dit afbrekend om met afgryse vervul te wees oor die voorgenome rituele slagtings by 2010 se Fifa-stadions?

Mike Louw, die superspioen wat pas gesterf het, het volgens ‘n eenvoudige waarheid geleef: Jy doen nie die regering ‘n guns deur hom te vertel wat hy wil hoor nie.

Hoe die waarheid ontvang word, hang nie net van die ontvanger af nie, maar die manier waarop dit oorgedra word. Reputasies vestig, en dit sal tyd neem om Julius Malema tot die bouerkultuur toe te voeg na hy hipoteties ‘n nuwe blaadjie sou omslaan.

Almal kan bouers wees deur op ‘n fatsoenlike wyse by die waarheid te bly.

Ekonome wys daarop dat die komende Wêreldbekertoernooi nie op sy eie oor die potensiaal beskik om die land se investering daarin te laat gelyk breek nie.

Daar lê groot werk vir die bouers voor – eerstens om die aanbieding te laat slaag, maar ook om die land so te projekteer dat toerisme en beleggersvertroue na afloop van die toernooi moet floreer.

Die bouers het ‘n keuse – van ‘n leë dop te poleer, of om werklike probleme soos geweldsmisdaad aan te spreek, om werkloosheid en armoede op ‘n volhoubare manier aan te spreek en dus die euforie af te skud van die tydelike aard van die stadionbou-werksgeleenthede – en ‘n kultuur van wetsgehoorsaamheid ten opsigte van aspekte soos rommelstrooi te kweek.

Al staan ‘n mens met die voete vierkantig in die donker wolke geanker, sal die bouer altyd na die silwer randjie reik.

 

zoom 3 отбеливание отзывыДанильченко Юрий Брониславович компромат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.