Hulle stink so lekker want hulle drink so lekker

Deel op

Volgens die verkeersowerhede is altesaam 2 500 mense reeds sedert die aanvang van Desember landswyd wens beweerde dronkbestuur aangekeer.

Dit is 2 500 mense wat vooraf gewaarsku is om nie agter die stuur in te skuif tensy hulle sober is nie. Dit is twee en ‘n half soveel as wat weens onpadwaardige voertuie voorgekeer is.

‘n Kwart miljoen mense is vir spoed beboet. Meer as seshonderd mense het reeds op die paaie gesterf. Meer as 200 hiervan was voetgangers, en tradisioneel speel alkohol ook ‘n groot rol by baie gevalle waar voetgangers in die Kerstyd voor verkeer beland.

Word na die grootskaalse rommelstrooiery kort voor die 2010 Wêreldsokkerbekertoernooi gekyk, lyk dit nie asof Suid-Afrikaners meer vatbaar is vir opvoedkundige aksies om positiewe gedrag aan te kweek nie. Dit lyk onafwendbaar dat die roede, by wyse van spreke, uit die kas gehaal, afgestof en ingespan moet word om weer aanvaarbare gedragspatrone vas te lê.

In sommige provinsies, soos die Vrystaat en Limpopo, lyk dit uit statistieke asof daar in die reël werklik slap gelê word met wetstoepassing vir dronkbestuur. Die land se gemiddeld per 100 000 aangekeerdes is meer as 115, maar in Limpopo is dit 32 per 100 000, in Mpumalanga 53, die Vrystaat 57, en Noordwes 64. Met die uitsondering van die Wes-Kaap waar alkoholmisbruik ‘n uitsonderlike probleem is wat ook op die moordsyfers veral op die Kaapse Vlakte neerslag vind, is dit darem dik vir ‘n daalder om te verwag dat die publiek moet glo die motoriste in belangrike deurryprovinsies soos die Vrystaat, Mpumalanga en Limpopo is soveel nugterder as in provinsies soos die Wes-Kaap waar 242 mense per 100 000 vir dronkbestuur aangekeer word, Gauteng waar dit 124 is en die Oos-Kaap waar dit 135 is.

Die vreemde is dat die vier provinsies met die laagste syfers vir die aankeer van dronkbestuurders toevallig ook die provinsies is waar die aantal padsterftes per 100 000 van die bevolking hoër is as die aantal moorde per 100 000. Omdat drank by baie moorde ‘n rol speel, maak hierdie syfers maalvleis van argumente dat motoriste in sommige provinsies met besonder droë lippe ry.

Trouens, in sommige van die provinsies lyk dit asof ‘n bestuurder eers ‘n ongeluk moet maak voor sy alkoholvlak getoets word.

Toevallig is hierdie provinsies ook die provinsies waar motoriste met voertuie met die hoogste gemiddelde ouderdom oor die weg kom, en is hulle ook gereeld weens swak padtoestande in die nuus.

Inligting oor die impak wat onpadwaardige voertuie, te vinnig ry en dronkbestuur op ongeluksyfers het is volop, en word nie betwis nie. Voeg hierby die herhalende vakansieverhale van motoriste wat so haastig is dat hulle nie skroom om stadige verkeer teen blinde hoogtes verby te steek nie, en ons het ‘n resep vir ‘n padslagting. Gelukkig is daar baie motoriste, moontlik die meerderheid, wat dit erns het om veilig by hul bestemmings te kom.

пескоструйный станоклобановский александр биография

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.