Die dag toe Kersvader sy baard aan die brand steek

Deel op

Alles was gereed vir Kersfees. Hier vroeg in die nuwe jaar sou Pa en Ma vir die sesjarige Veronica die slegte nuus breek dat daar geen Kersvader is nie, want Veronica gaan aanstaande jaar skool toe en die ouers wil nie hê die maatjies moet haar straks spot nie.

Maar hierdie Kersfees is nog vir oulaas ‘n regte een op die plaas met Kersboom en Kersvader. Ma, Veronica en die driejarige tweelingsussies, Bianca en Madré, werk al weke lank om alles in orde te kry vir Kersaand.

Selfs ‘n ete soos min word vir Kersvader aangelê, want, verduidelik Veronica, dis ver van die Noordpool af en Kersvader sal al baie moeg en honger wees.

Sy het immers al met vorige Kersaande gesien hoe Kersvader aan die kossies kan weglê.

Want oom Koos wat al ‘n paar jaar vir Kersvader instaan, het nie daai bierpens gekry van min eet nie. Trouens, Veronica is al so geleerd oor Kersvader dat sy al ‘n ensiklopedie sou kon skryf as sy al kon skryf. Sy ken al Kersvader se takbokke se name op ‘n streep, maar by Blitzen trek sy die streep. “Ek noem hom sommer Donderweer want ‘n mens mag nie vloek nie.”

“En pa, hoekom is Rudolf se neus rooi? Het hy nie sy draai mooi gekry toe Kersvader esse gegooi het nie?”

Met al haar navorsing oor Kersvader het die lyne ook met St. Nicholas en Swarte Piet gekruis, en die twee heel inmekaar geklits. Die volgende jaar wou sy knaend huilerig by ma weet of sy, Ma, dink sy, Veronica, was soet genoeg, want so blyk dit uit haar navorsing, St. Nicholas bring net vir die soet kinders geskenke. Vir die stouters neem hy ‘n lat saam waarmee hy die stouterts sy boude vreeslik seer piets.

Ma verseker haar Kersvader meen sy is soet. Hy het self so vir ma geskryf.

Toe wonder Veronica nog net oor Bianca wat soms so onmoontlik kan wees. Oor oom Gert-hulle se stoute seun Japie het sy nie twyfel nie. Siepsop is Japie se voorland, en as Japie nie oppas nie, doen Kersvader sommer met sy terugreis Noordpool toe wéér by die huis aan.

“Ma, is Kersvader getroud?” wil Bianca weet.

“Natuurlik,” snip die alwetende Veronica. “Sy vrou se naam is Mary Christmas.”

Maar die oggend van die 24ste begin al die planne skeeftrek. Dit begin reën.

Eers is niemand bekommerd nie, trouens, almal is baie bly, want dit is droog. Later stortreën dit, en die SMS’e begin vlieg, want die telefoonlyne is af en die kinders kan alles hoor wat oor die tweerigtingradio gesê word.

Dis ‘n groot organisasie wat vergelyk kan word met die boere se operasionele vermoëns as hulle vir ‘n veldbrand of plaasaanval uitgeroep word.

Eers word die planne net aangepas. Pa en Ma diep ‘n ou Kersvaderpak uit die kas op, want oom Koos kan nie dié weer op ‘n trekker met sy Kerspak aandurf nie.

Ma besluit die baard is te gekoek, en spuit haarset aan en kam dit mooi uit. Die Kersvaderuitrusting word tussen die oorpakke in die melkstal gehang, en van toe af moet die glimlaggende melkers buite reikafstand van die spantou bly, want Pa is iesegrimmig.

Toe kom die regte slegte nuus. Van die reënery het oom Koos nou ‘n hoes en die tante sê aikôna, g’n niks trekker-ryery in die reën nie. Met die spruite wat al vol loop, is dït al manier. Pa moet vir Kersvader instaan.

Synde Pa nie ‘n pens soos oom Koos het nie, word ‘n kussing ook melkstal toe gesmokkel.

Kort voor Kersvader met sy slee, aldus Veronica, op die huis se dak sou land, word die afgespreekte SMS ontvang dat daar ‘n jakkals by die skape is, en Pa is vort. Eintlik sit hy af na waar die Kersvaderpak tussen die melkers se oorpakke hang.

Teen daardie tyd het Veronica lankal verklaar dat die weerstoestande van so ‘n aard is dat Kersvader nie met die koets en Swarte Piet die geskenkaflewerings sou doen nie.

Pa is skaars in die Kerspak, toe gaan die krag uit. Eskom is weer die ene Eisjkom. In die huis, sien hy, word kerse aangesteek. Die Lister loop al jare nie, en in daai reën gaan dit ook nie help om hom aan die loop te probeer kry nie.

Pa durf die reën aan, en val behoorlik met die sak geskenke in die huis in.

Die geskenkuitdelery by kerslig verloop goed. Veronica verduidelik van Pa wat moes gaan jakkalsjag.

“Dis ‘n tragedie,” vertel sy grootoog vir Kersvader, want pa is so ‘n yster met die kalkoensnyery. Nou sal Kersvader dit self moet doen. “Kan Kersvader met ‘n mes werk?”

Toe word aangesit. En dis waar dinge weer verkeerd loop.

By geleentheid moet Kersvader ‘n bietjie oorleuen om die kalkoen te sny, toe die baard te na aan ‘n kers kom. Ma se haarsproei laat dit soos petrol brand. Kersvader ken toe ‘n paar woorde wat die meisietjies dog net Pa ken as hy met die trekker-enjin sukkel. Veronica onthou dit ook nog vaagweg uit die Listerdae.

Pa laat waai na buite, waar hy die brandende baard onder ‘n lekkende geut druk, en toe verkas hy na die melkstal toe.

‘n Rukkie later is pa terug van sy “jakkalsjag” af. By die huis tref hy sy dogters ontroosbaar aan, want, verduidelik Veronica, hulle het nou dié Kersfees vir seker honderde ander kinders, by wie Kersvader nog nie was nie, verongeluk.

“En al is hy nog in staat om self verder te gaan, is hy nou seker so kwaad die lat gaan vreeslik praat, al was die kinders nie eens so stout soos Japie en Bianca nie.”

Ma is dik van die lag, maar steek dit weg.

Pa kry ‘n blink gedagte: “Nee wat, teen dié tyd het Kersvader lankal vir Swarte Piet gestuur. Hy gooi mos sommer die presente in die skoorstene af. “

Ingedagte stap pa die gang af. Tog jammer onskuldige pret, ook kinderpret, moet so in die slag bly. Tot ‘n paar jaar gelede het ‘n paar onnutsige boere nog middernag Oujaarsaand ander se hekke met draad gaan vasdraai. Dis nou die hekke van boere wat gaan dans het in plaas van Middernagdiens toe is.

‘n Boer wat met Bacchus in sy lyf op die plaas aankom, sukkel vreeslik met so ‘n toegedraaide hek. Soms word ‘n paar klappers gestel om die sukkelende boer te help om bietjie nugterheid te herwin.

Nou maak plaasaanvalle dit net te gevaarlik.

Selfs Kersfees is nie meer wat dit was nie.

 

пескоструйный рукавФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.