Die heengaan van politieke korrektheid

Deel op

Pas het pres. Jacob Zuma in sy Versoeningsdagtoespraak daarop gewys dat rassisme steeds lewend is. Dit is te betwyfel of Zuma bereid is om agter die deur te vee soos wat nodig is, soos blyk uit ‘n spesiale fokus in die Afrikanerbond se nuusbrief wat dieselfde dag uitgestuur is.

Die nuusbrief val sonder ‘n omsigtige inkleur weg met: “Met die oog op Dag van Versoening wat op 16 Desember gevier word is die Afrikanerbond ernstig bekommerd daaroor dat die jaar 2009 gekenmerk gaan word as ‘n skandvlek op Suid-Afrika se roem tot ‘n nie-rassige demokrasie.

Na ons mening is dit ‘n ongelukkige toedrag van sake dat die jaar 2009, wat die 15e jaar is sedert die oorgang na ‘n demokrasie in 1994, ‘n jaar geword het waarin kru rassistiese ondertone, haatspraak en opruiende uitsprake gefloreer het. Nog erger is dat die uitsprake vir korttermyn politieke gewin gebaseer is op erge veralgemenings wat Suid-Afrika se brose demokrasie ernstig kan benadeel.”

Die baba, by wyse van spreke, word by die naam genoem en die nuusbrief vervolg: “Dit het egter duidelik geword dat veral die regerende party se kaders, die ANC jeugliga met mnr Julius Malema voorop, Cosatu en dan by name veral die Wes-Kaap se sekretaris, mnr Tony Ehrenreich en Noordwes se sekretaris mnr Solly Phetoe, sowel as die Black Management Forum hulle geensins steur aan die gees en bedoeling van die grondwet nie.

“Hulle veldtog wat gebaseer is op blinde aantygings en naakte rassisme gaan teen elke grein van die grondwet se handves van regte, sonder enige vorm van optrede deur enige instelling wat juis die grondwet in stand moet hou.” Hierdie nuusbrief volg kort op ‘n hoofartikel in Volksblad en Beeld waarin vierkantig vir Afriforum in die bres getree word nadat Gwede Mantashe van ANC en SAKP-faam dié burgerregte-organisasie van rassisme beskuldig het.

Die blote feit dat Die Burger, volgens die elektroniese argiewe, slegs Mantashe se aanval gedra het en nie ook die betrokke hoofartikel nie, dui moontlik daarop dat daar anderkant die Wingerdgordyn nog meer bewegingsruimte vir politieke korrektheid is. Dit is tog opmerklik dat politieke korrektheid sodanig weggekalwe is dat invloedryke koerantredakteurs nou erken dat die huidige grondwet geen towerproduk is nie, en selfs dat onderhandelaars verbrou het, al word gemaan dat dit nutteloos is om te bly verwyt en in die proses die oog van die bal in spel te haal.

Die ironie is dat dit juis swart redakteurs was wat die uittog uit die benouende ruimte van politieke korrektheid gelei het, en dat die wit redakteurs toe gevolg het. Die swart redakteurs het by name openlike erkenning hiervoor gekry. Dit wil egter voorkom asof die swart redakteurs eintlik bedoel het dat die destydse president, Thabo Mbeki, voëlvry verklaar word en nie die praktyke wat in en om die ANC posgevat het nie.

In die onlangse vermanings en selfs dreigemente teen wit mense om nie swart mense te kritiseer nie, het van dieselfde swart redakteurs se name saam met negrofiliste soos dr. Nico Smith opgeduik, as die wat ‘n jaar tevore krediet vir die exodus uit die slawerny van politieke korrektheid gekry het.

Die damwal het egter reeds gebreek, en rassisme deur swart leiers gaan op die oog af steeds genadeloos aan die groot klok gehang word, of selfs soos in die geval van die TLU SA, nie skroom om prominente mense soos adjunk-pres. Kgalema Motlanthe vir beweerde haatspraak by die Menseregtekommissie te verkla nie.

Die AB se nuusbrief meld juis dat dit ‘n brief aan die Speaker van die parlement geskryf het om te kla oor die Menseregtekommissie en die Kommissie vir die Bevordering van die Regte van Kultuur, Godsdiens- en Taalgemeenskappe nie hul grondwetlike pligte nakom om gevalle wat in die oog spring, aan te spreek nie.

Die gevolg daarvan om nie ewehandig op te tree nie, is dat polarisasie tussen gemeenskappe vergroot, en peilings dui daarop.

металлические брекеты ценаданильченко юрій броніславович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.