Wolwe weer in die visier en sommiges roep ‘wolf, wolf!’

Grys wolf
Deel op

Grys wolfDie eerste jagseisoen in baie jare waartydens wolwe weer in Amerikaanse state soos Montana deur jagters onder skoot kan kom, het skaars sy eerste skoot opgelewer of ‘n storm woed. In Idaho het die wolfjagseisoen op 1 September geopen, en in Montana op 15 September. In Wyoming, die ander staat met ‘n groot wolwebevoliking, bly jag taboe ingevolge ‘n federale wet oor bedreigde spesies.

Swart wolfNa raming het dié drie state nou saam 1 600 wolwe, hoewel ‘n deel hiervan in die Yellowstone Nasionale Park voorkom.

Aan die een kant is daar die veeboere, soos die boer by Dillon, bykans 300 kilometer Noordwes van Yellowstone, wat in een nag 122 volwasse stoetskape verloor het. Dit was na berig word die ergste slagting in menseheugenis, en ‘n aanduiding dat wolwe soms bloot vir die plesier kan doodmaak. Die owerhede het gemagtig dat die hele trop wolwe vakant gemaak kan word.

Tussen 1987 en 2004 is bevestig dat wolwe in die drie state 429 beeste en 1 047 skape doodgebyt het, afgesien van sporadiese honde, lamas en ander diere wat ook in die slag gebly het.

Koerante soos die Montana Standard berig al ‘n geruime tyd oor wolwe wat vee vang.

Aan die ander kant is daar bewaringskundiges wat meen die beheerde jag van wolwe moet eers toegelaat word as die getalle die 2 000-merk bereik het. Trouens, bewaringskundiges het nog nie ‘n behoorlike beleid in plek oor wat die ideale getal wolwe is nie, en sal nog navorsing moet doen. ‘n Regter in Wyoming het juis die verbod op wolwejag daar beskryf as meer aan politiek as aan empiriese gegewens te wyte.

Die elk-jagters is egter nie gediend met groter getalle wolwe nie, aangesien wolwe die troppe waarop die jagters aanlê uitdun. Wolf-liefhebbers beskuldig weer die elk-jagters daarvan dat hulle met hul jagbuit se ingewande mors, en dat dit weer die wolwe uit die nasionale parke lok.

Dit is juis groot wild soos die elk wat die owerhede genoop het om weer wolwe in  die Noordweste van die VSA te hervestig. Maar die klem was voorheen duidelik dat die enigste goeie wolf een is wat as muurbehangsel dien.

In 1924 het die federale regering geld bewillig om die wolwe en ander probleemdiere te jag om die elk-bevolking in die Yellowstone Nasionale Park te beskerm. Teen 1926 was wolwe in die Yellowstone Park bykans uitgeroei, maar die jag is eers in 1935 gestaak.

Buite Yellowstone en ander parke het die wolwejag egter reeds vroeër begin. In 1884 is ‘n losprys op die kop van wolwe in Montana geplaas, en reeds in die eerste jaar moes die staat vir 5 450 ingehandigde wolwehuide opdok. Die 1930 was die wolwebevolking in Montana nie meer lewensvatbaar nie.

Ná die wolwe in Yellowstone uitgeroei is, het die coyote die vernaamste roofdier in die park geword, maar omdat die coyote nie groot wild kon jag nie, het ‘n probleem ontstaan met groot siek diere, soos juis die elk en die bison. Teen 1995 is besluit om weer wolwe, spesifiek die grys wolf, uit Kanada in te voer. Teen 2005 was daar weer 118 wolwe in Yellowstone, en 326 in die hele ekosisteem.

Die hartseer is egter dat die bewaringsingsteldheid moontlik te laat gekom het vir ‘n paar subspesies. Teen 1967 is die Oostelike Tomber-wolf ( Canis lupus lycaon) as bedreig beskou, en teen 1973 is die Rocky Mountain-subspesie   (Canis lupus irremotus) bygevoeg, en in 1978 is die grys wolf, asook al die subspesies van Canus Luptus suid van die Kanadese grens as bedreig verklaar.

Noudat die getalle weer flink vermeerder, is dit die veeboere wat lei, en die elk-jagters wat minder prooi het om op aan te lê.

Die probleem is dat wolwe hulle nie maklik laat inperk nie.

Wolwe in Montana word groot, en staan dikwels byna ‘n meter op hul pote, en word bykans twee meter lank, en weeg tot bykans 50 Kg. Die spoor se lengte is net minder as dié van ‘n volwasse man. Die groot pote en lang bene stel wolwe in staat om lang afstande af te lê, en afstande van tot 32 kilometer per dag word maklik afgelê.

Die wolwejag open nou weer nuwe geleenthede aan entrepreneurs wat as leerlooiers en taksidermiste spesialiseer. Die wolwehuide word veral verwelkom, ironies, omdat die afgelope elk-seisoen maar ‘n skrale oes huide gelewer het. ‘n Eenvoudige wolwevel kan die nuwe eienaar ‘n netjiese $1 000 dollar uit die sak jaag, en ‘n opgestopte, gemonteerde wolf $3 000.

Maar, kla die kenners, die jagters is groentjies en hulle skiet die diere nog voor hulle ‘n behoorlike winterspels ontwikkel het. Dan is die velle veel minder werd.

Montana se wolwe se kleur kan baie verskil – van ‘n skaars wit tot grys en swart. Die swart en wit wolwe kan – behalwe vir die grootte, maklik vir ‘n hond aangesien word, en hondkruisings kom soms as probleemdiere voor omdat hulle, anders as ‘n gewone, gesonde wolf, nie menssku is nie.

Op die internet-foto’s hierbo word ‘n grys en ‘n swart wolf uitgebeeld.

игри для мальчиков машинкиАлександр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.