Die Transformasie van Frederick Fourie

Deel op

Arme professor Fourie.

Arme professor Fourie.

Nee, dit pas nie in nie.

Kom ons probeer: Arm’ professor Fourie.

Werk ook nie.

Wat ek probeer doen, is om “Arm’ professor Fourie” te neurie op die deuntjie van “Poor Professor Higgins” uit almal se gunstelingmusiekkomedie uit Hollywood se goue era, Lerner en Loewe se “My Fair Lady”.

“Arme professor Higgins,” sing dié akademikus se huishoudpersoneel terwyl hulle verbouereerd deur sy herehuis fladder. Hulle is besorgd dat Henry Higgins gaan uitbrand in sy poging om Eliza, die blommemeisie, te herontwerp as ‘n lid van die adelstand wat volmaakte Engels met die koning se aksent praat. Hulle stof af en rig in en berei voor. Hulle skink tee, dra whiskey aan, laaf, vir al wat ons weet, met suikerwater. Agteraf gons hulle benoud in hulle kwartiere. Laatnag kriewel hulle onrustig deur die gladde, koel verdiepings van die herehuis, ongesmuk in hulle Edwardiaanse kamerjasse en slaapmusse, besorg, ontsteld, ontwrig…

Maar hier is ‘n teendraadse ironie in die personeel se frenetiese optrede, beduie regisseur George Cukor se kamera. Die een wat die stang moet vasbyt in die herontwerp van die straataster is nie die bejammerde professor nie, maar die arme Eliza self. Sy word gedwing om deur eindelose repetisie haar stram tong en onbuigsame kakebeen om die vokale en konsonante van hoër Engels te kry.

Hierdie is die era – vroeg in die twintigste eeu – wat anatomie, taalkundige teorie en tegnologie in ‘n soort botsing van oorywer saamsmelt. So die professor, altyd op die spits van akademiese drif, laat Eliza, byvoorbeeld, voor die trompetmikrofoon van ‘n wassilinderopnemer staan om die onderdele van saamgestelde klanke naboots. Dit klink vreeslik, soos iets tussen die bulk van ‘n gestrande walrus en ‘n jong jakkals met intense, onverwerkte emosies: “Ieee-jaaaa-hoeee-AAAU!”

Uur na uur na uitmergelende uur. Dis waaruit haar lewe nou bestaan. Ieee-jaaaa-hoeee-AAAU! totdat haar tong voel of dit verstuit is en haar kakebeen asof dit in die potjies uitgewerk is, en dit alles in ‘n vreemde, kil, onontvanklike omgewing.

Soms is Higgins se onortodokse metodes baie moeilik om te sluk, letterlik. Hy stop Eliza se mond vol albasters en laat haar dan oefen om te praat. Natuurlik sluk sy toe een van hulle en ons kan die stremming daarvan amper aan eie nek voel as dit in Eliza (vertolk deur die verruklike maar tengerige Audrey Hepburn) se keel afbeur. Terwyl dit biologiese openinge en kanale ooprek, sny dit ook tydelik belangrike toevoere boontoe af en die arme Eliza se oë traan en rek so rond soos die ghoen self.

“Geen probleem,” beduie die professor in wat die kyker onverwags maar heeltemal te gou as bemoediging aansien. “Ons het nog baie.” En daarmee, met sy eie nimlike ongeërgdheid vul hy die voorraad albasters in die verbysterde Eliza se mond met ‘n nuwe aan. Hierdie akademikus word nie van stryk gebring nie.

Terwyl Eliza wankel van uitputting voor die trompetmikrofoon en die ontstelde bottelier, huishoudster en skoonmakers rondskarrel, gaan Higgins die goedgedrilde gang van die oujongkêrel wat verdiep is in sy studieveld. Ons sien hom op ‘n trapleer voor die rakke boeke in sy biblioteek, met skedel en meetklamp in sy hand besig om te futsel met een of ander frenologiese vraagstuk… of hy sit en skerts met sy vakgenoot, kolonel Pickering of sit en sluimer in ‘n gemakstoel met sy voete op ‘n ottoman en sy tweed-hoed oor sy oë.

Ieee-jaaaa-hoeee-AAAU! balk Eliza voort.


 

Arme professor Higgins, dag en nag, nag en dag! neurie die personeel ontsteld.

Arme professor Higgins. As hy nie slaag nie, verloor hy ‘n weddenskap. O, die druk, die spanning, die stres! Al wat Eliza het om te verloor, is haar enigste kans om ‘n trapleer te vind om uit haar agtergrond van armoede en uitsigloosheid te klim. As die Transformasie van Eliza ‘n mislukking is, sal Higgins na die episode terugkeer na sy lewe van boeke, navorsing en hartstogtelike gesprekke met vriende wat sy vak fassinerend vind. Eliza sal terugkeer na ‘n lewe onderaan die Britse sosiale voedselketting, desperaat skarrellend vir pennies en met onvervulde drome van ‘n kamer iewers, net vir haar, met “een enorme stoel” en sjokolade om te eet.

Ieee-jaaaa-hoeee-AAAU!

Henry Higgins in volle vaart met sy nuwe projek – die herskepping van Eliza – is ‘n vertoonstudie van die Transformeerder in aksie. Hy speel veral die Eerste Reël van die Transformeerder uit: Die Transformeerder is daar om ánder te transformeer; nie om self verander te word nie. In die toneelstuk word Higgins vir die eerste keer werklik uitgedaag deur die aanloklikheid van ‘n pragtige vrou en die verwikkeldhede van die Ewige Vrou. Daar is, uiteindelik, vir hom die geleentheid om deur ‘n kraak in die kors van sy selfvoldaanheid te wriemel na ‘n emosionele bevryding en al wat dit sou verg sou ‘n eenvoudige emosionele aanpassing wees. Maar nie net is hy nie bereid om dié swenk te maak nie, hy sien geen rede daarvoor nie. Verbluf deur die benaderingsverskil tussen man en vrou, hef hy wat ons kan eien as die Vrygesel se Strydlied, aan: “Hoekom kan ‘n vrou nie meer soos ‘n man wees nie? Hoekom kan ‘n vrou nie meer soos… ek… wees nie?”

Aan die einde, omvergewerp deur Eliza se oënskynlike onverklaarbare uitbarsting – “Wat sal van my word? Wat sal van my wohhhhrd?!” – en haar skielike afwesigheid – kry ons hoop dat die Transformeerder sal transformeer. “Ek het gewend geraak aan haar gesig,” mymer hy verslae.

Maar wanneer Eliza terugkeer, retireer hy in sy selfvoldaanheid in. In plaas van ‘n erkenning van ontoereikenheid en ‘n verklaring van sy toegeneentheid, wikkel hy homself terug in sy gemakstoel in, strek sy bene uit op die ottoman, kantel sy hoed oor sy oë en wil selfbehaaglik van haar weet: “Eliza, waar de drommel is my pantoffels?”

En Eliza, nuut getransformeer, pragtig, elegant met die wonderlikste elokusievermoë en onberispelike etiket, buk gedienstig om sy pantoffels op te tel en aan te dra. Die Transformasie van Eliza is afgehandel. Die tematiese musiek stoel uit die luidsprekers tot ‘n triomfantlike finale. Fin. Die drama is afgehandel.

Die einde van “My Fair Lady” was ‘n afwyking van die gewone Hollywood-voorskrif. Vervaardigers was altyd bedag daarop om vir die kyker te gee wat hy wil hê. En wat die kyker in sy en haar romantiese musiekkomedie op aandring is ‘n slottoneel waar al die vraagstukke losgeknoop is. Die komedie beter eindig waar die manlike hoofrolspeler, wat so vol manlike hoeke en lyne en strukture is, die tenger, sagte vroutjie in sy omhelsing as’t ware absorbeer en sy lippe teen hare pers in ‘n kneusende kus. Sogenaamde “oop eindes” waarin daar geen klinkklare uitslag oor die tweetjies se toekoms gebied word nie, is hartlik verfoei.

“My Fair Lady” het egter die waagstuk geneem. Die ontluikende romanse en moontlike huwelik tussen Higgins en Eliza word aan die kyker se bespiegelinge oorgelaat. Hierdie onbeklinkte einde was ‘n dobbelspel vir die skeppers van die drama. ‘n Rolprent se sukses hang af van die ywer waarmee kykers die deugde daarvan aan dié wat dit nog nie gesien het nie, besing. Indien die eerste gehore onvergenoegd sou voel, op een of ander wyse verkul so voel deur die onafgestikte einde, sou hulle die oningelyfde massas aangeraai het om die kaskenades van Eliza en Higgins te vermy.

Uiteindelik was die waagstuk tog suksesvol.

Nie net het die moontlikheid van ‘n huwelik tussen die professor en die getransformeerde grasie ontvang nie, maar ‘n ander, onsmaaklike moontlikheid is uit die weggeruim. Want die ander persoon wat om Eliza se hand gewedywer het, was die uiters aantreklike, adellike maar essensieel nuttelose lieplapper, Freddy Einsford-Hill. Teen hierdie laat oomblik in die musiekspel was Eliza ‘n karakter geliefd deur die gehoor en as die gemiddelde toeskouer sy volmag aan ‘n man sou toestaan om haar minnaar te word, is dit ondenkbaar dat dit die groen Freddy sou wees. Te slap en pap. Te buigbaar. Te kleurloos. Die gedagte aan die verruklike maar driftige Eliza onderdanig en meelopend in Freddy se pap greep was nie een wat verdra kon word nie. So, al was daar die bepaalde moontlikheid dat die verhouding tussen Eliza en die professor eenvoudig sou verteer word in die wrywing veroorsaak tussen haar drif en sy onversetlikheid, was die toekykers bereid om hulle kanse te vat. Hulle het die einde, indien nou nie ekstaties nie, dan met groot verligting en selfs dankbaarheid aangegryp.

Die gehore het die goeie nuus gedienstig oorgedra en My Fair Lady het die suksesvolste musiekspel van alle tye geword.


“My Fair Lady” se oop einde, wat tog sterk skimp in die rigting van ‘n suksesvolle verloop van die Doolittle/Higgins romanse, is nie allerweë goedgekeur nie. Dis veral ‘n sterk stem uit die verlede wat met ‘n sekere hol skrilheid, asof gekanaliseer uit die kis self, bitterlik beswaar gemaak het. En hierdie stem kon nie sondermeer verontagsaam word nie. Professor Henry Higgins, die fonetikus, sou dadelik kon plaas aan wie die stem behoort: Die skepper van Eliza en die ongeërgde professor self, die skrywer van Pygmalion, George Bernard Shaw.

Shaw is na sy graf toe voordat die komiese drama Pygmalion, My Fair Lady die Broadway-musiekspel geword het. Maar hy het wel aanpassings van Pygmalion beleef waarin regisseurs met die einde gepeuter het om darem die moontlikheid van ‘n Doolittle/Higgins versoening te akkommodeer. Dit het hom in skouspelagtige woedebui laat lostrek.

Uit radeloosheid doen hy die ongehoorde. Hy daal uit sy letterkundige hoogte neer, erg geïrriteer en knorrig, om in ‘n opstel te verduidelik wat met Eliza gebeur het anderkant die einde van die musiekspel.

Nadat hy gebrom het oor goedkoop sentimentaliste wat ‘n een-grootte-pas almal, massavervaardigde einde vir alle romantiese komedies begeer, vreet hy die gemiddelde toeskouer uit omdat hulle nie die res van Eliza se verhaal vir hulleself kon konstrueer nie. Dan, net om seker te maak dat onbekwame lomperds nie sy stilte uitbuit om sy meesterstuk se volmaakte einde aan te tas nie, stip hy presies aan wat met Eliza post-Pygmalion gebeur. Sy trou met die hopelose Freddy, en basta!

Hoewel Shaw ‘n bombastiese mens was, is hierdie geen hovaardige dekreet wat uitgevaardig word nie. Die skrywer wat hier praat is nie soseer die dramaturg wat sy regte oor die karakters wat hyself geskep het, afsteek en beskerm nie, maar die sosiale denker.

Eliza se maritale toekoms is ‘n onafwendbaarheid, redeneer Shaw. Dit is haar instink om ‘n aantreklike, aangename jong eggenoot uit te soek eerder as ‘n ongevoelige en selfvoldane, geswore ou vryloper. En instink, in Shaw se denkwêreld, is ‘n stuwing wat net omvergewerp kan word deur die grootskaalse verwringing van die individu se omgewing. Die mens se instink is soewerein. Dit is so kragtig dat die mens self onmagtig is om dit in ‘n rigting te dwing.

“Haar besluit,” skryf Shaw, “sal grootliks daarvan afhang of sy werklik vry is om te kies; en dit, nou weer, sal van haar ouderdom en inkomste afhang. Indien sy aan die einde van haar jeug gekom het, en geen inkomstesekerheid het nie, sal sy met hom trou omdat sy met iemand moet trou wat vir haar sal voorsien. Maar op Eliza se ouderdom voel ‘n mooi meisie nie dié druk nie; sy is vry om te kies en te keur. Sy word derhalwe deur haar instink in dié saak gelei.”

In hierdie onthutste skrywe van Shaw mag dit dalk oor iets so oënskynlik ligsinnig soos ‘n onwaarskynlike liefdeskomedie gaan, maar die taal wat hy gebruik en die stuwing van sy argumente, kom uit die kondisionering en filosofie van Shaw die maatskaplike aktivis. Hy het bloedarm grootgeword in Ierland. Sy agtergrond was een van wanhoop en is deurtrek met die duisend klein vernederings wat die koorsblare is wat deur uiterste broodgebrek veroorsaak word. Dit het ‘n blywende agterdog jeens die ryker klasse by die jong George Bernard ontsteek. Hierdie wantroue is so diep ingeëts dat dit nie gewyk het nie, selfs nadat Shaw homself met sy pittigheid, fanatiese werksdrang en oordonderende intellek uit Ierland na Londen verplant het, waar hyself ‘n gegoede man geword het.

In die paragraaf uit sy betoog oor Eliza hierbo, loop ons, benewens instink, ‘n ander allerbelangrike element in Shaw se antropologiese filosofie raak: Vryheid van keuse.

Shaw was ‘n humanis en oortuig van die instinktiewe goedheid van die mens. Hierdie moraliteit was nie sonder meer ooglopend sou ‘n mens na die laerinkomsteklasse in Brittanje kyk nie.


Die sosiale geur van onderbuurtes in ‘n stad soos Londen was een van verrotting, van dronkenskap, ontrouheid, geweld, misdaad en luiheid bevolk deur leeglêers, dronklappe, hoere, hoerkinders, hoereerders, buite-egtelike telge, lafaards, venynige kleindiewe… op die oog af kwalik te vereenselwig met die fier, stoere, hardwerkende wese wat Shaw geglo het van nature in elke lyf gehuisves is. As die mens eintlik goed is en hierdie ellendelinge so vrotsleg, moes daar iets met hulle gebeur het om hulle te verander, het Shaw geredeneer. As hulle instinkte betroubaar en geneig was tot die goeie, moes ‘n mag van buite hierdie mense hulle innerlike verbuig en verknoei het.

Shaw het geen huiwering om die belhamels te identifiseer nie: Die ryker stand. Shaw was ‘n sosialis, ‘n Karl Marx-vakleerling, lid van die Fabian-vereniging. Die grondslag van hulle ideologie was dat daar ‘n beperkte en vasgestelde hoeveelheid rykdom in ‘n land is en dat dit nie vergroot kan word nie. Hierdie rykdom was hoofsaaklik beperk tot ‘n klein, inhalige, suspisieuse lotjie. En terwyl Shaw-hulle besig was om so goor met dié stand om te gaan, het hulle die rykes voorts beskryf as hardgebak, lui, onproduktief en essensieel onnosel.

Hierdie rykes, het Shaw beduie, waak oor hulle rykdom deur die arm stand die vermoë te ontneem om daarin te deel. Hulle het die armes ingekraal deur armoede, ellende en ‘n gebrek aan opvoeding. Die enigste nut wat die arm stand gehad het, was om te dien as perdekrag in die masjinerie van die kapitaliste se myne, meulens en fabrieke.

Armoede is egter nie die grootste onreg nie, volgens Shaw. Nee, die arm mens word baie dieper en langduriger gekrenk. Hy word in die suiwerste deel van sy wese aangetas omdat hy die vryheid van keuse ontneem word. Die mens wat nie die ruimte in sy omstandighede het om self te kies nie, retireer in die rigting van die minste emosionele weerstand en word so die uitvaagsel, die alkoholdeurdrenkte, ouerskapontkennende, pligontduikende, ambisielose sukkelaar.

Met die matelose arrogansie van idealiste wat nie verwag dat hulle idees getoets kan word nie, het die sosialiste nie net die skobbejakke in die verhaal geïdentifiseer nie, hulle was net so kordaat oortuig van die oplossing: Die regering moes ingryp, die rykdomme nasionaliseer en die armes ophef. Want dan sal die armes die vryheid van keuse hê. En as hulle eers vry is om te kies – soos die skone Eliza te midde van haar huweliksvraagstuk – sal hulle, reken Shaw, die rigtingwysers van hulle instink volg. Omdat hierdie instink in sy suiwere vorm een is wat die goeie, die gemeenskaplike en die opbouende verkies, sal die armes produktief en ingetoë word.

Instink en vryheid van keuse! Dit word Shaw se wonderresep vir ‘n gerehabiliteerde gemeenskap. Verander ‘n gemeenskap se omstandighede en gee hulle die vryheid om reg te kies, en hulle instink sal hulle reg lei.

Elke mens se instink is vasgestel en dit is net beperkings wat deur omstandighede op hom toegepas word wat ‘n mens daarteen sal laat neig. Dis nie die mens wat verander – of verander moet word nie – maar sy of haar omstandighede. In sy opstel is dit opvallend dat Shaw nie van Eliza se “transformasie” praat nie. Haar metamorfose is vir hom ‘n “transfigurasie.” Uiterlik het sy van vorm en stand verander maar in haar wese is sy maar nog net dieselfde Eliza; nuuskierig, ongeduldig, impulsief.

Hierin lê die grootste paradoks van Shaw, die denker. Hy toon geen agting en weinig begrip vir die gedagte dat die gemeenskap ‘n Lego-model is wat deur die blokkies van afsonderlike mense saamgestel is nie. Sy voorskrif vir die rehabilitasie van die enkeling is nie een wat hy aan die wyer mensdom uitreik nie. Shaw is ‘n prototipe voorstander van groot regering wat die gemeenskap se formaat en optrede tot in mikrobesonderheid bestuur.

As bejaarde is hy, na ‘n besoek daar, in vervoering oor Stalin se USSR van die 1930’s. Met die uitsondering van Mao se Sjina en Pol Pot se Kambodja, was hierdie die mees geknelde volk in die geskiedenis. Stalin, die kommunis, was gemoeid, nie met die oppervlakkige “transfigurasie” van die Russiese gemeenskap en die lede daarvan nie maar met die diepgrypende, volslae, onomkeerbare transformasie daarvan. Maar dié ironie het verby die man wat gepleit het vir vryheid van keuse vir die armer stand, gegaan. As daar ooit ‘n stand was wat geen snars van keusevryheid gehad het nie, was dit die Sowjet-Unieburger onder Stalin. Shaw sou ongetwyfeld magma-agtig uitgebars het indien enige iemand sou voorstel die regering moes in Pygmalion ingryp om Eliza te dwing om met Higgins te trou. Só ‘n gedwonge integrasie sou hy nie geduld het nie. Maar hy vryf sy hande, grinnik goedkeurend as Stalin sy volksgenote verdruk, verarm, verhonger en vermoor om hulle te dwing om nie te transfigureer nie, maar om te transformeer.

En hier los ons vir George Bernard Shaw, sy Pygmalion, sy persoonlike frustrasies en filosofieë. Ons sien hom vir altyd uitgespalk tussen die wilde perdekrag van twee uiteenlopende ideestelsels: Persoonlike vryheid en die kinderlike geloof in regeringsingryping in die lewens van gewone mense. Henry Higgins kon sy bene uitstrek, sy kop agteroor teen die gemakstoelleuning rus en vir die getransfigureerde, ontransformeerbare Eliza vir sy pantoffels vra.

Vir Shaw, in ons gedagtes, sal daar nooit sulke rus wees nie.


As dit geskiedenis was wat Frederick Fourie wou maak – en dit was – het hy reg besluit toe hy as jong akademikus, een van die blinkste jong ekonome van sy geslag – wêreldwyd – ’n pos by die Universiteit van die Vrystaat aanvaar het. Benewens die ooglopende verskille tussen Henry Higgins, die vroeg-20ste-eeuse, fiktiewe fonetikus en Fourie, die vroeg-21ste-eeuse vlees-en-bloed jong, ekonoom, is daar ‘n sentrale ooreenkoms: Albei het ’n obsessie met die transformasie van ander ontwikkel. Henry Higgins was onwrikbaar in sy hubris dat hy beter as Eliza Doolittle geweet het wat goed is vir haar. Frederick Fourie was ewe oortuig dat hy geweet het wat tot die besondere voordeel van sy studente – en die gemeenskap in geheel – is.

Die jong Frederick kon ‘n pos op die ekonomiefakulteit van enige universiteit in die Engels- of Afrikaans-sprekende wêreld gevul het – dis hoe briljant hy is. Maar hy’t geweet dat geskiedenis nie in die Klimopplantliga nie, maar in die platteland gemaak word. Die burgerregrewolusie het ‘n studentemomentum in plekke soos Montgomery, Alabama, gekry en nie die statige, wêreldberoemde Harvard (waar Fourie sy doktorsgraad aan die verhewe Besigheidskool behaal het) nie.

Harvard kan boonop tussen die beste kandidate in die vrye wêreld kies, en in die tagtigerjare het niemand op 29 daar ‘n hoogleraar geword nie. En Fourie was haastig; haastig om nie net sy akker as akademikus te skoffel nie. Transformasie was wat in sy kop aangegaan het, ‘n sielsbranding om nie net ‘n aandeel in die omkeer van die land te hê nie, maar om in sy omgewing van keuse ‘n leiersrol daarin te speel. Op 29 word hy professor in ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hierdie was die begin van ‘n loopbaan besaai met akademiese sterrestof. Hy het weldra sy platform as een van die vername denkers in ekonomie in die Suid-Afrika van die Nasionale Party opgerig, ‘n dosent wat sy studente nie net in die formules en esoterika van makro-ekonomiese filosofie ingelyf het nie, maar wat hulle aangemoedig en toegerus het om daardie eiesoortige en gewaardeerde eienskap – die vermoë tot selfstandige, kritiese denke – te ontwikkel.

Die kweekhuis van hierdie vermoëns was in daardie tyd vinnig besig om te ontwikkel as die besbewaarde akademiese geheim in Suid-Afrika. Die Universiteit van die Vrystaat – of sommer “Kovsies” – is as ‘n produk van die gasheerstad daarvan gesien, en onder oningeligtes was Bloemfontein ‘n geïsoleerde, akademies verstokte, sosiaal ingeteelde buitepos gesien. Dit was… platteland, nie innemend platteland soos Stellenbosch of selfs Potchefstroom nie, maar plat, beige, verbeeldinglose gramadoelas, of eintlik nie eers gramadoelas nie, want dít impliseer woestheid en chaos en dít kan ook ‘n bekoring hê, nee, hierdie was so beige en bakenloos soos die Karoo self, ‘n onopvallende plek vol onopvallende mense en nie in staat om enige vars denke te inspireer nie.

Vir die geïnisieerdes was Bloemfontein iets baie meer substansieel, ingerig met baie meer akademiese energie. Bloemfontein – en derhalwe Kovsies – wás nog altyd afgesonder, maar nie nadelig so nie. Stad en universiteit het eerder daarby gebaat om verskans te wees teen die politieke aktivisme van ander, meer metropolitaanse instellings. Hierdie was onbeweeglik Nasionale Party-hartland, en gelate daarin. Tog was die akademiese stuwing daarin nie blote stertjie gespeel agter ander, hoër aangeskrewe akademiese sentra aan nie. En onder die visionêre rektorskap van Wynand Mouton was daar vervarsing, ‘n akademiese en institusionele energie.

Dit was nie vreemd dat die universiteit – plattelands soos dit is – ‘n gesagsryke landboufakulteit opgebou het nie, maar die universiteit het ook ‘n voerband geword van gehalte medici, musikoloë, regsgeleerdes en teoloë.

Ook in die ekonomiefakulteit, beman deur onverskrokke skrywers en denkers, die jong Frederick Fourie een van hulle, was daar ‘n groeiende meesterskap van die dissipline. Dit het saamgeval met die toenemende betreding van die vryemark deur die Afrikaner in die laaste kwart van die vorige eeu. Kovsies het ‘n belangrike bron van vakkenners in die formele ekonomie geword.

Die ander blanke universiteite het steeds in ‘n effens neerhalende houding teenoor Kovsies gehad, maar daar was ander oë, afgunstige oë, wat uit die periferie na die instelling geloer het. Die Nasionale Party se beste afsonderlike-ontwikkelingspogings ten spyt, kon swart universiteit nooit daarin slaag om hulleself as volwaardige akademiese instellings te vestig nie. As daar ‘n sleutel was om ‘n universiteit wat hoofsaaklik deur swart administrateurs en swart vakkundiges beman is en uitsluitlik deur swart studente bygewoon is, te ontwikkel, is dit net nooit gevind nie. As Kovsies ‘n gewas was wat in Bloemfonteinse turf gegroei het, was swart universiteite spruite wat die vrug gedra het van die vasteland waarin hulle geplant was. Intellektuele laksheid onder dosente, die nukkerigheid van studente wat ingeskryf was maar nie wou studeer nie, en die onvermydelike Afrika-styl verval was die kenmerke van hierdie kampusse.

Die universiteit van Qwa-Qwa in Puthditjhaba was een van hulle. Van die oomblik wat die linte gesny, die toesprake gemaak en die sleutels oorhandig is, het die siersteenkampus in die rantjies begin verval. Die akademiese vlammetjie het van meet af flou gebrand en van daar af net gekwyn. Hierdie was nooit – en is steeds nie – ‘n instelling wat gegradueerdes van enige gehalte aan ‘n gretige beroepsmark sou verskaf nie. Dis ‘n Afrika-universiteit soos iets wat in Kampala of Harare of Windhoek gevind kan word. So anders as die polsende, uitdagende, veeleisende vakluifabriek ‘n skrale vier ure se ry om Lesotho daarvan af.


Vir idealistiese swart leerlinge het Kovsies iewers op die horison as ‘n soort Camelot vol toekomsbelofte geglinster. Met die afskaffing van die groepsgebiede- en ander apartheidswette, kon ‘n swart leerling, met die nodige hoë universiteitvrystellingspunte, ‘n werkende begrip van Afrikaans, ‘n stewige werksywer en onblusbare ambisie aan Kovsies gaan studeer. Vir die paar wat skrander genoeg en vasberade genoeg was, het dit die Heilige Graal van geleenthede verteenwoordig: Om deur blanke dosente aan ‘n blanke universiteit onderrig te word.

Dit is onwaarskynlik dat Frederick Fourie so lank by die eksklusiewe en afgesonderde universiteit sou gebly het. Die horisonne was net nie breed genoeg om hom en sy rusteloosheid te bevat nie. Maar toe swiep die winde van veranderinge oor Suid-Afrika en begin ook loei om die hoeke van Kovsies, die bastion van Afrikanerskap. Hier, uiteindelik, was die geleentheid om sy plek in geskiedenis in te rig.

Dit was natuurlik onmoontlik dat die land se skielike transformasie onder swart beheer nie in die universiteite gereflekteer sou word nie. Die idee dat daar ‘n hoeveelheid, selfs één, universiteit vir Afrikaners gereserveer sou word, is met mening verwerp. Daar sal swart universiteite wees en daar sal gemengde universiteite wees.

Liberaliste, en Frederick Fourie is onteenseglik een, nog eufories na die ANK-oorname, het hierdie as ‘n eenvoudige, ‘n natuurlike, proses gesien. Dit was die begin van die Tydperk van Transformasie, en transformasie, in die liberale denke, beteken noodwendig integrasie. Nie net sou die universiteite desegregasie ondergaan nie, studente sou saam leer, saamspeel, saambly… En dit sou so maklik wees, nou dat die kunsmatige, apartheidsontwerpte grense tussen rasse verwyder is.

Almal – wel, elke liberalis – weet tog dat saamwees die natuurlike stand van die mens is. Mense is gemaak om bymekaar te wees. Afsonderlikheid – segregasie! – is onnatuurlik, ‘n mensgemaakte euwel waarteen die mens van nature gekant was. Dit was net met doringdraad en uitgebreide wetgewing – as jy al die apartheidswette op mekaar sou stapel sou dit dié kamer van daardie muur tot teen daardie muur, van vloer tot plafon gevul het – en met pantserkarre en rookgranate en sambokke en polisiehonde wat die rasse verhoed is om te integreer. Maar apartheid is nou net ‘n sooibrandepisode in die geskiedenis. Daar ís geen apartheid meer nie.

Dis asof Madiba self gekom het en die doringdraadheining tussen die rasse gepak het, so aan die hoekpaal gegryp het en eenvoudig daarmee weggemarsjeer het sodat die pale, droppers, doringdraadvlegsels as’t ware uit die grond gevlieg het. En nou ís daar geen wetgewende skeiding tussen mense nie.

Op die Kovsie-kampus wag die liberale administrasie toe dat die rasse, in ‘n ekstatiese ontploffing – ‘n ware ontploffing! – van nuutgemunte vryheid net sou… saamkom, dronk van vreugde dat die natuur nou net sy gang sou gaan. Daar sou nie meer hierdie versmorende, strakke skeiding wees nie; nie meer wit en swart skole nie, nie meer wit en swart woongebiede nie, nie meer wit en swart universiteite nie. Suid-Afrika sou ophou om soos ‘n kil, onnatuurlike skaakbord te lyk, met ‘n duidelik-afgetrekte wit blok langs ‘n skerpomlynde swart blok. Die hele bord sou ‘n nuwe kleur kry – nie wit nie en nie swart nie maar daardie hemelse vaal – wit en swart gemeng – daardie vaal wat die liberalis geglo het kan net in ‘n anderwêreldse Elysium bestaan. Weg met rigiditeit! Weg met onnatuurlike versperrings tussen mense. Weg met swart blokke en wit blokke. Weg met wit en swart universiteite.

Dit gaan oor nasiebou, gaan dit nie? En vir ‘n nasie om gebou te word moet daar Transformasie wees. En Transformasie vereis Integrasie. Hierdie integrasie is veral nodig waar segregasie op sy hewigste was en Kovsies was niks anders as ‘n bastion van afsonderlikheid nie. Maar hoe stoer ook al, niks sou makliker as transformasie, volledig met integrasie, wees nie:

Skryf eenvoudig etlike duisende swart studente in, staan terug en kyk hoe seepglad hierdie wonderlike proses – gestimuleer deur niks meer as die natuur nie – sommer net gebeur.

O hulle kon dit sien!, sien in hulle koppe. Wit studente en swart studente wat mekaar ontdek! Wat nie genoeg van die rykdom van mekaar se kulture – dis wat hulle dit deurgaans genoem het: Die rykdom van mekaar se kulture – kon kry nie. Vriendskappe sou wit-met-swart blom, romanses ook… Studiegroepies sou saamgesmelt wees, bestaande uit nie wit of swart of wit én swart nie – maar bloot uit mense wat almal dit erns het met akademie.


En in die koshuise! Vreugdevreugdevreugde… ‘n Hoër lojaliteit sou ontstaan as die alewige ras of kultuur. Hier is ons nie wit of swart nie. Hier is ons Karee-manne. Hier is ons Reitz-manne.

So skryf hulle toe etlike duisend swart studente in en staan weg vir die onafwendbare proses, die natuurlike proses van integrasie om plaas te vind. Hulle wag vir daardie sja-ZAMM! oomblik, jy weet. Jy gooi al die onderskeibare bestanddele saam – wit en swart, soos wit en swart dolosse – in ‘n leerboepenssakkie, skud dit, gooi dit uit op die grond, staan weg en sja-ZAMM! die wit en swart word verswelg in ‘n wolk van blitsende energie en wanneer dit verdwyn is daar nie meer wit of swart nie. Net die hemelse vaal.

Die liberale administrateurs bring toe die duisende wit en duisende swart studente bymekaar en staan weg. Sja-ZAMM! Dis soos toordery, soos een of ander okkultiese alchemistiese uitwerking want in een oomblik toe is al die wit studente dié kant en al die swart studente aan die anderkant. En doen wat die administrateurs wil, wit en swart verseg om vaal te word. Dit is heeltyd dieselfde. Oral waar jy kyk sien jy wit en swart in groepies, maar nie in wit-én-swart groepies nie; wel in wit groepies op hulle eie en swart groepies op húlle eie. Die natuurlike proses van integrasie was ‘n volslae misoes. Dis asof die natuur self dwarstrekkerig geword het, wispelturig en onbeskof.

En selfs goeddeurdagte maatreëls deur die administrasie het nie net nié gewerk nie – dit het as’t ware in die administrateurs, die beplanners, die ideoloë se gesigte ontplof. Soos die reëlings met die klasse. Natúúrlik het hulle die taalbeleid verander. Kovsies was na alles ‘n tradisioneel Afrikaanse universiteit. En hoeveel swart studente sou bereid gewees het om klas te draf in Die Taal? Nie veel nie, was die ooglopende antwoord. So toe word klasse in Engels ook aangebied. En hier –sjaZAMM! – skeiding. Swart studente ontvang hulle lesings in Engels en die blankes hulle s’n in Afrikaans.

Van saamwoon in koshuise is daar nie sprake nie. Die administrasie het – soos hulle daaroor gedink het – die heel natuurlike, liberale maatreël getref om die rasse behoorlik te skommel en toe by koshuise in te deel. Van daar af was dit oorlog, rasse-oorlog, wat met groot entoesiasme geveg is, totdat die studente volgens hulle eie protokol die koshuise tussen die rasse opgedeel het. Die swartes bly in koshuise met nuwe name soos Villa Bravado en Tswelopele. Die wittes bly in plekke met name soos Karee, Roosmaryn, Armentum en Reitz.

In 1998 is die Kovsie-rasse-oorlog verby. Die pragmatiese rektor, Stef Coetzee, het kort daarna, by ‘n dinee, vertroulik teenoor kollegas gebieg:

“Hoe het ons vrede bewerkstellig? Maklik. Ons het laat die studente self besluit.”

Die liberale administrateurs, vir wie vrede ‘n ideaal ondergeskik aan integrasie is, is laag en hard getref deur hierdie terugslag en het die oplossing onverpoosd in deurtrapsessies herkou. Uiteindelik het hulle besluit die natuur moet net ruimte, ‘n bietjie tyd, gegun word om haar werk te doen, om die onvermydelike te vermag. En dan – miskien nou nie sja-ZAMM nie maar uiteindelik – net waar jy kyk, wit-en-swart boesemvriende, wit-en-swart studiegroepe, wit-en-swart paartjies, sportspanne, koshuise… Net ‘n tydjie en die Afrikaner-studente sal die klewerige suspisies en hulle ingeteelde afkeure ontgroei. Want een ding wat die administrasie vas geglo het, so vas as wat hulle in die inherente goedheid van die mens glo, is dat die wantransformasie op Kovsies die Afrikaner-student se skuld was. Maar gee net tyd. Wanneer hulle eers, vry van hulle huise se vooroordeel en vry van die vrees wat Apartheid in hulle ingepers het, sien hoe vry en los en uitbundig en warm swart studente is, sal hulle Transformasie aangryp en met die ywer van die nuwe bekeerling toepas. Gee net tyd. Tyd en opvoeding.

So, toe gee die administrateurs die studente tyd. Maar hulle gee nie net tyd nie, hulle preek die vreugdes van Transformasie by elke geleentheid. Hulle sê dosente aan om dit in hulle lesings in te werk. Met byeenkomste en openinge en geleenthede, hef die universiteitspersoneel verkondig hulle die lof van Transformasie.


Transformeer, transformeer, transformeer my seun, my dogter, en die aarde is joune en die volheid daarvan.

Die geleentheid om te studeer en in koshuise tussen mense van hulle eie kultuur te leef, was transformasie genoeg vir die studente. Die volgehoue opvoeding in die reëls en sub-reëls van diversiteit en versmelting het geen noemenswaardige uitwerking op hulle gehad nie. Swart studente het in swart koshuise gewoon en hulle klasse in Engels gedraf. Wit studente het in wit koshuise gewoon en hulle lesings in Afrikaans ontvang.

Ideale transformasie-oplossing of nie, daar was vrede op die kampus, soveel so dat Kovsies in daardie tyd onnutsig gekug het oor die Taal-oproer op ‘n kampus soos Maties en hulle benadering as ‘n voorbeeld vir die Stellenbossers aangebied het om te volg. In die skemer van sy ampstermyn het Nelson Mandela die universiteit as ‘n model van transformasie aangeprys.

Hierdie tydperk, die Era van die Ongemaklike Vrede, het ook ‘n wending gebring in die beroepslewe van Frederick Fourie, wat toenemend uit die klaskamer geseties het in die magsgange van die administrasie in. Sy vroeë loopbaan in administrasie het niks gedoen om die glans van sy prestasies te laat taan nie.

In die middelpunt van sy vroeë loopbaan as administrateur is ‘n knap bestuursveldtog wat allerweë as “Die Omdraaistrategie” bekend staan, geloods. Die Kovsies van die laat negentigs het gekraak om die vloed nuwe studente te akkommodeer en die krisis is in die balansstate gereflekteer. ‘n Span is saamgestel om die universiteit finansieel te restoureer. Frederick Fourie word as die werklike versiende beplanner en sweepklapper in hierdie poging gesien. Deur versigtige beplanning en doelgetroue toepassing is kostes besnoei, universiteitsorgane gekonsolideer en nuwe inkomstebronne ontgin. Die projek was ‘n glinsterende sukses en het gesorg vir ‘n paar gloeiende paragrawe in Fourie se CV.

In 1999 word hy vise-rektor en dis die tyd van wag, van sy kans af wag. Die waarheid is dat Frederick Fourie nooit hart en siel in die pragmatiese skietstilstand tussen die rasse op die kampus geglo het nie. Hierdie was nie ‘n volledige omwenteling nie; nie ‘n voltooide proses nie. Daar was onbeklinkte besigheid. Want in wese was hy nog altyd ‘n transformeerder, ‘n pelgrim op reis en met innige geloof in ‘n staat van nie-rassigheid, ‘n aanbidder wat neurie in die Tempel van Transformasie. Hierdie groot gemeenskapsommeswaai het hy gesien as ‘n toestand waar geen ras ‘n ander sou domineer nie. Hy het eerlikwaar, onwrikbaar, geglo in die ideaal van multi-kulturalisme. En wat hy op die Kovsie-kampus gesien het – wit eenkant, swart anderkant – was allermins dit. Dit het vir hom soos ‘n slenter gevoel, ‘n skuiwergat waardeur die administrasie hulle verantwoordelikheid kon ontduik.

Sy politiese instink was fyn genoeg gestel om te weet dat die regering boonop nie onbepaald deur die maatreëls op die kampus tevrede gehou kon word nie. Vrede en transformasie sonder integrasie sou nooit genoeg wees nie. Die regering, veral toe Mandela weggesyfer het uit die regering en die openbare oog uit om deur die kil Thabo Mbeki opgevolg te word, het toenemend vanuit die hoogte gebrom. Transformasie is nie afgehandel voordat daar integrasie is nie, en met integrasie word bedoel dat daar nie een staatskoshuis sal wees waarin net blankes woon nie. (‘n Eksklusiewe swart koshuis is integrasie genoeg.)

Frederick Fourie was ‘n ridder wat sy kruistog ontdek het: Die Finale Transformasie en Integrasie van die Universiteit van die Vrystaat. In 2003, na ‘n inisiasie as waarnemend in die rol, word hy die rektor. Hy sou dit vir vyf jaar wees voordat sy ampstermyn stompaf kortgeknip is. Dit sou die mees skouspelagtige verrysenis van enige rektor in die publieke oog wees, en ook die mees verpletterende val en mees beskeie onttrekking.

Die Verrysing en Val van Frederick Fourie is ‘n parabool wat in die pers afgetrek is deur twee onderhoude wat hy met Rapport se Hanlie Retief gevoer het. Die eerste onderhoud het in Rapport verskyn op die 1ste Maart 2003, net nadat hy die septer opgeneem het, en die tweede, presies vyf jaar later, net voordat hy in die politieke nag van ‘n sabbatsjaar wat uitgebrei sou word na sy aftrede, weggesluip het. In die eerste is hy besig om uit te styg na nuwe hoogtes; in die tweede is sy loopbaan ‘n vlammende tuig wat ongekende dieptes inpeil.

Die beeld uit die eerste onderhoud is van ‘n man wat weet hoe om sy verskyning te maak. Sy verskeidenheid gedaantes, veral die paradoksale daarin, word beklemtoon. Hy is die briljante akademikus, die voortreflike ekonoom en administrateur, die tjellis in die simfonieorkes… maar hy is ook die toermotorfietsryer in sy leerpak; ‘n onortodokse Riccardo Semmler-tipe bestuurder, alleenloper, rebel, vraesteller. Hy is intelligent, sensitief, sielvol, maar ook reguit, uitdagend, onkonvensioneel… hy is dit alles, maar Frederick Fourie is nie beskeie nie.

Hierdie is ‘n man wat daarvan hou om in beheer te wees, die dirigent eerder as die instrumentalis. Hy vertel hoe hy grense versit, ‘n bouer is… en oral waar hy kom “verander ek dinge.” Hierdie is die taal van die Transformeerder.

Maar die subteks, nou deur die lense van terugskouing gelees, vertel ook van ‘n man met ‘n behoefte aan aanvaarding, iemand wat bereid is om die pot te roer solank die pap nie op sy hande spat nie; wat sal verstoot en dan benoud sal wees dat hy verwerp sal word. Hierin, sekerlik, lê die swakheid van die held – die messiaanse versugting, of is dit aanmatiging? – om alles vir almal te wees.


Frederick Fourie het nog net altyd met alles wat hy aangepak het, geslaag, en ‘n mens ontleed net jou swakhede wanneer jy misluk. Vir hom sou hierdie kosbare eiekennis te laat kom.

Teen die tyd van sy aanstelling het hy reeds geweet dat die Endlösung van Transformasie sy mandaat van die regering sou wees. Daar is nie te subtiel nie gedreig dat Kovsies sál integreer, of die hand op die regeringsubsidiekraan sou ‘n kramp ontwikkel. Daar was baie op die spel, maar Frederick Fourie het nooit eers mislukking oorweeg nie.

Laat daar Transformasie wees! En let daarop dat hy nie blote transfigurasie – soos Eliza Doolittle s’n – in gedagte gehad het nie. Dít was reeds ‘n afgehandelde proses. Die Nuwe Getransfigureerde Swarte was die hele kampus vol, oorgetrek en toegeknoop en ingesluiter in oorgroot yshokkietruie of stywe T-hemde met logo’s van hulle nuwe lojaliteite daarop, en in die alomteenwoordigende handelsmerk-jeans, die hardloopskoene met die dik gegote sole wat aan gestolde malvalekkers herinner, en agter die Police-donkerbrille, onder die agterstevoor pette, selfoon in die hand, duime wat tekskodes op die toetsbordjies uitroffel. En hulle het die houding gehad, daardie studentepostuur wat ossilleer tussen nors en histeries, tussen verspotheid en koel alwetendheid.

Ja, die swart studente was getransfigureer en het, sover Billabong, Nike en Nokia dit kan doen, soos wit studente gelyk. Maar hulle het so op hulle eie gelyk want, behalwe vir die geleenthede waar kampusformaliteite die rasse in gedwonge bonhomie saamgekraal het, was die getransfigureerde swart studente eenkant, op hulle eie, en die wit studente aan die ander kant op hulle eie.

En dit kon nie wees op die kampus van Frederick Fourie nie.

Hy het voorwaar vir baie kans gesien, want van meet af is hy verstrengel in daardie twee uiteenlopende magte wat so gerem het aan George Bernard Shaw: Die idee van die vrye menslike wil, en die geloof in owerheidsinmenging om die mens vry te maak. Die oorheersing van een ras oor ‘n ander – wit oor swart of swart oor wit – sou vir hom in sy eie gevorderde vraestel ‘n plukpunt beteken het.

Nee, hy wat Frederick Fourie is sóú die universiteit transformeer, en die soutsuurtoets vir transformasie sou die integrasie van die koshuise wees. Wat meer is, na die proses sou die rasse besef het dat dit is hoe hulle dit wíl hê. Hulle sou teen hulle wil gerangeer word, maar hulle vrye wil sou behoue bly. Hy het dit regtig geglo.

Frederick Fourie was van plan om ‘n omelet te bak sonder om die eiers te breek.

Dit was presies wat Stalin se sosialiste se oogmerk was, en waarvoor Shaw hulle so bewonder het. Húlle het geheime polisie, strafkampe, tronke, doringdraad, mure en wolfhonde gehad om dit mee te bereik. Tot Frederick Fourie se beskikking was…

… die Gesprek.

Dis reg. Frederick Fourie en sy administrasie sou doen wat millennia se sosiale wetenskap nie kon regkry nie en wat moderne neuro-wetenskap sê onmoontlik is: Hulle sou ‘n hele gemeenskap vat en die bedrading van hulle almal se breine herlei. En dit met die Gesprek, deur eenvoudig met mekaar te praat.

“Die geheim van dié kampus se sukses, vertel hy, is eenvoudig: hulle praat met mekaar. Nagte om. Skeidsmure is afgebreek, ‘n gemeenskaplike basis geskep vir township-ouens én boerseuns.” (Komende uit Hanlie Retief se eerste onderhoud met hom.)

Dis toe hy nog daardie heerlike, onskuldige vertroue in die liberale idee gehad het dat hoe beter mense uit diverse rasse mekaar se kulture leer ken, hoe gretiger sal hulle wees om tussen mekaar te leer en te woon.


Frederick Fourie se Quijotiese kruistog in diens van die liberale Heilige Graal – integrasie – is vol van daardie verbysterende maar fassinerende liberale paradokse. ‘n Skrander akademikus, met laserskerp analitiese vermoëns, word oornag omgekook na ‘n formuleprewelende, onhandige, struikelende liberalistiese sosiale aktivis.

Die verstommendste van alles is die liberaliste se onvermoë om die noodsaak van integrasie te verduidelik. In sy tweede Hanlie-Retief-onderhoud prewel Fourie onsamehangend daaroor: “Dis in belang van hul lewens en loopbane om gemaklik te wees met swart mense, om pêlle van hulle te maak, om met hulle te netwerk. Wat help dit om jou kind groot te maak om in Orania te gaan bly?”

Hiermee trek hy met die grootste stompsigtigheid ‘n streep deur amper vier eeue se Afrikaner-ervaring met swartmense. Dit is die perpetuering van nóg ‘n stokkerige liberale mite: Dat Afrikaners niks van swartmense en hulle kultuur weet nie. Daarom aanvaar die linkses dat Afrikaners nie die vermoë het om saam met swartes te werk nie. Die ironie is dat hierdie Boerseuns is van wie hy praat, wat van doeketyd af saam met swartmense groot geword het, wat klonkies vir plaaskamerade gehad het, wat saam met hulle op die lande geswoeg het en – les bes – hulle taal kan praat…

Nee, Afrikaners het ‘n instinktiewe manier en gemaklikheid om saam met swartmense te werk. Die onvermoë wat hulle het, is om na werk ‘n blyplek met hulle te deel.

Fourie het duidelik dieselfde onvermoë. Sy transformasiestrategie is nie vanuit ‘n HOP-huisie in Mangaung geloods nie. Sy tuiste was in ‘n onbeskroomde blanke spogdeel van Bloemfontein. Dis hier waar hy sit en Richard Strauss luister in ‘n afgesonderde studeerkamer in ‘n huis met ‘n badkamer vir bykans elke inwoner terwyl hy die mening formuleer dat ‘n koshuis openbare gebied is en die koshuislid se enigste privaatheid agter die vyftig millimeter hout van sy kamerdeur is. Frederick Fourie, getrou aan die Eerste Reël van Transformasie, is nie daar om self te verander nie, maar om toe te sien dat ander aanpas.

Hierdie studeerkamer sal vir hom toenemend ‘n veilige spelonk word wanneer hy vlug van die oerwoud wat die kampus geword het. Want, die waarheid is, anders as sy omdraaistrategie vir die kampusfinansies, het sy transformasiepogings van meet af vasgeval. Vir die eerste keer in sy lewe het hy getas vir ‘n oplossing, ‘n maatreël, ‘n skuif wat die weerstand tot transformasie sou laat verdroog en wegwaai, maar elke keer vat hy mis.

Die blanke studente is nie net ongemaklik oor die idee van integrasie nie, hulle is onthuts daaroor. En boonop het hulle begin om hulle weerstand te koördineer. Doen wat hy wil, praat soos hy wil, die rektor kan hulle net nie beweeg om, anders as hy, leefruimte met swart studente te deel nie.

Goed en wel, alles te verwagte, maar toe word hy geskok met dieselfde afsku in integrasie – afkomstig van die swárt studente.

Boonop het partypolitiek nes geskop op die kampus en ‘n swerm veglustige roofvoëls gebaar. Die swart studente het saamgeswerm onder die vaandel van SASCO en die blankes het gehoor gegee aan die basuin van die VF+.

Dis skielik of die hoogleraar, die man wat alles om hom verander, die briljante ekonoom, sy tydsberekening verloor het. Voorheen het alles waaraan hy geraak het, in goud verander. Nou het dit in muisvalle verander. Elke keer as hy sy hand uitsteek om iets te beweeg, is dit asof hy ‘n muisval afstel. Dit klap, kletter en knal om hom.

In die beste liberale tradisie het hy van die Groot Gebaar gemoduleer na die Oproep tot Redelikheid tot die Ingrype uit die Hoogte in die individuele student se lewe.

Dis asof ‘n mens die twee spoke van George Bernard Shaw kon sien toutrek vir sy siel. Dis Vrye Keuse teen Sentrale Ingryping. En wanneer ‘n maatskaplike transformeerder se pogings in suigsand geklem word, soek hy ‘n sintese tussen dié twee uiteenlopende ideale. Die bevolking, begin hy redeneer, kan net vry wees om te kies as die owerheid hulle elke besluit vir hulle neem.


Vyf jaar in die loop van sy kruistog af, is Frederick Fourie se administratiewe loopbaan in chaos. Praat, praat, praat, het niks gehelp nie. Gestrenge maatreëls is afgekondig. Kwotas is afgekondig: ‘n Persentasie van elke koshuis se kamers sal gereserveer word vir ander rasse. Gevolg: Daardie persentasie beddens bly onbeset. Wit en swart meng eenvoudig nie.

Arme professor Fourie! Arme professor Fourie! Dis die Afrikaanse pers wat soos Higgins se huispersoneel verbouereerd om die rektor van Kovsies neurie. Arme professor Fourie!

Teen die begin van 2008 was Frederick Fourie ‘n dowwe afbeelding van die flambojante, arrogante diepspoortrapper wat vyf jaar tevore met ‘n Basoetoekombers oor sy skoot op die verhoog gesit en luister het na die lofsange tydens sy inhuldiging as rektor. Sy leiersblus was uit. Dis nie soseer dat sy beste pogings, gestu deur sy beste bedoelings, deur ‘n party verwerp is nie – dis dat ál die partye (wit en swart) sy leiershand weggeklap het. Hy het misluk, dis al, en nou was daar net die wag wat oorbly, die wag dat die onvermydelike golf van sy mislukking oor hom en die Kovsie-kampus sou spoel.

En toe – Deus ex Machina – die Reitz-video.

Die bekendmaking van ‘n ironiese, komiese video wat deur vier lede van die blanke Reitz Kamerwonings gemaak is, het vir die Groot Transformeerder ‘n reddingshalm gegee om aan te gryp. Die onvergenoegdheid en weerstand teen integrasie kon gedeflekteer word na die opkomende jong – blanke! – Woody Allens toe. Met onbetaamlike haas is die video gekyk, veroordeel en die makers daarvan sonder die gebruiklike ondersoek, of selfs ‘n eenvoudige gesprek met hulle, met die kampusbanvloek getref.

‘n Media vreetkoors het ontstaan en Frederick Fourie het die kans aangegryp. Sy Groot Transformasie-kruistog was gedoem en sou gedoem bly, maar hy het die kans gehad om bo alle twyfel sy liberale geloofskentekens te demonstreer. Hy het, soos enige linkse administrateur, agter die nuttigste van alle verskonings ingekoets: Dis alles die Afrikaner se skuld, dis alles die Afrikaner se skuld.

Maar as hy aanprysing vir sy sak-en-asvertonings in die openbaar verwag het, is hy gou geskok. Die god-uit-die-masjien het toe as demoon uitgedraai. Dis asof die lug om hom nou self uit muisvalle bestaan het. Klap! Kletter! Knal! Beweeg hy ‘n millimeter, klap dit hom raak; deins hy ‘n aks in die ander rigting, klap ‘n ander hom daar raak.

Uit regse kant is hy veroordeel oor die gelatenheid waarmee hy vier seuns aan ‘n kil lot kon uitlewer. Aan linkse kant is hy verguis omdat hy so misluk het in sy transformasiepoging dat vier wit seuns jou sweerlikwaar hulle reg op vryheid van spraak kon aanwend om presies wat hulle dink uit te druk.

Integrasie, word daar gesê, is die tydperk tussen wanneer die eerste swarte opdaag en die laaste blanke padgee. Seermaakwoorde dié, woorde wat hy so graag sou wou omstoot met sy Groot Transformasie. Maar hulle maak nou veral seer omdat hulle so waar is. Reitz se blankes is uitgeboender en eers sou ‘n “Instituut vir Diversiteit” daarin opgerig word. Tans word dit deur swartes bewoon.

Die rektor, na sy sabbatsjaar en daaropvolgende aftrede, is opgevolg deur ‘n bruin rektor wat ewe koel in ‘n boek vertel hoe hy Afrikaans wil vernietig…


En wat van die studente, daardie Eliza’s wat moet bulk – “Ieee-jaaaa-hoeee-AAAU!” – voor die mikrofoon? Die Afrikaners, eenvoudig genoeg, moes soos tsoenamislagoffers toekyk hoe hulle erfenis wegspoel. Die swart studente wat wel hard wou werk, ernstig wou studeer, wat ambisie gehad het – hoeveel daar van hulle ook al is – moes toesien hoe hulle hoop op ‘n hoëgehalte-opvoeding verwelk. Die Qwa-Qwa kampus is nie opgehef tot tradisionele Kovsie-standaard nie. Kovsies, in die mate wat die een die ander volg, het ‘n satellietkampus van Qwa-Qwa geword.

Frederick Fourie wou geskiedenis maak en geskiedenis maak, dié het hy. Hy sal altyd bekend staan as die rektor wat sy loopbaan gestrand het op die rotse van die onhaalbare. Die transfigurasie van ‘n universiteit – net soos Eliza Doolittle s’n – is moontlik. Dis maklik om ‘n swart universiteit van ‘n witte te maak. Maar rasse-integrasie is onmoontlik. Solank as wat die student enige vryheid het om te kies, sal hy tussen sy eie bly.

Frederick Fourie was die hamer waarmee ‘n vierkantige staalpen in ‘n ronde granietgat moes ingeslaan word. Dit kon nie gebeur nie en die hamer is in die poging vernietig.

Hanlie Retief wys vir ons in haar tweede onderhoud met hom ‘n gebroke man; een wat goedsmoeds aan die huil raak, wat verbysterd prewel oor die skokke wat hy nie verstaan nie, wat voel dat hy deur niks minder as natuurwette verraai is nie. Hy drink sy enkelmout-whiskey, luister na Der Rosenkavalier… So verdwyn hy van die politieke verhoog af, verpletter, verguis, verslae…

In sy mislukte poging het hy die Eerste Reël van die Transformeerder gebreek. Hy het self verander.

Die Transformasie van Frederick Fourie is afgehandel.

вихревой насос дляФильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.