Feloftegees, ekskuus, Geloftefees sonder weerga

Deel op

Pa Jan is lankal nie meer daar om gevra te kan word dat hy op sy Namakwalandse manier opklaar watter storie by watter storie bymekaar hoort nie. Toe Pa Jan ons ontval het was die uwe maar nog baie jonk en dan luister ‘n man mos nie altyd met die nodige aandag nie.

Om seker te maak niks word weggelaat nie, word alles maar bymekaar gehark en in een storie ingeklits.

Toe dominees Hofmeyr sy emeritaat neem en met mev. Dominees see toe versit, was dit eintlik vanselfsprekend dat oom Skjeuns Terblans die nuwe voorsitter van die Buskruitbultgeloftefeeskomitee sou word. Oom Skjeuns is immers die baas van die plaas Skuinskraal waar die Geloftefees elke jaar gehou word.

Alles gaan goed met die reëlings, maar om ‘n gerekende spreker te kry was nou nie al te maklik nie. Maar oom Dwerg Botha se vrou se suster is met ‘n proffie getroud, en ‘n proffie is ‘n proffie en hy moet deug.

So gebeur dit dat ‘n telegram gestuur word, en ‘n telegram terugkom, waarin prof. Josias de V. Koekemoer laat weet hy neem die uitnodiging met nederigheid aan, en sal die komitee hom oor die reis- en hotelreëlings inlig?

Die komitee is nogal uit die veld geslaan. Almal het aanvaar die prof en sy eggenote sal op eie stoom daar kom, en by die familie tuisgaan. Maar niemand weet wat die protokol eintlik is nie, want ou dominees het altoos die reëlings self getref.

Die uiteinde is die proffie kom met die trein, en dat plek vir hom in Buskruitbult se enigste hotel, die Grand Hotel, bespreek is.

“Verbeel jou, watter gerespekteerde mens loop bly nou in daai hotel? Dit raas tot laataand by die buiteverbruik, en daarna uit die kroeg… so het ek verneem. Ta’ Sarie se losieshuis is ‘n veel fatsoenliker plek.”

Toe die trein stoom-stoom Buskruitbult se stasie inkom, wag die hele Geloftefeeskomitee op die perron. Twee passasiers klim af – oom Piet de Necker wat by familie in die stad gaan kuier het, en die prof.

Die prof word ontvang soos ‘n president op staatsbesoek in die buiteland. Oom Piet, ‘n regte platjie en baie gewild, word ook gul gegroet maar dis al of die prof so veel as moontlik mense en afstand tussen hom en oom Piet wil inkry, tot oom Piet saam met tant Hettie daar weg is.

Elkeen stap met ‘n stuk bagasie in die hand, oor die straat na die Grand Hotel. Hier word gou ‘n teetjie saam met die prof in die lounge genuttig.

“Is julle nie bang om aan oom Piet se hand te vat nie?” wil die prof weet.

“Nou hoekom dan?” vra dr. Cornelissen.

“Ek weet min van siektes, maar dit klink my erg as iemand nou net uit die sanatorium kom waar hy vir aansteeklike cactoblastis behandel is.”

Op slag weet almal oom Piet wou seker die kompartement vir homself gehad het vir ‘n privaatheid, en dat hy toe die arme prof die vreeslike klomp bol wol in die kop in loop praat het.

Toe word die prof ‘n rustige nag toegewens, en die Geloftefeeskomitee verkas want daar is nou baie werk om gedoen te word.

Die portier besorg die prof en sy bagasie by sy kamer op die boonste verdieping en in die verste hoek van die kroeg af.

Bedagsame mense, dié Geloftefeeskomitee.

Die volgende dag, toe die Gelofftefeeskomitee die prof by die hotel gaan groet en na die saligheid van sy nagrus verneem, moes hulle tot hul ontsteltenis verneem die prof het dou voor dag uitgeboek, en is sommer so met die melktrein vort. Die portier brom iets van dringende familiesake, maar dit maak g’n niks sin nie, want as ‘n man dringend in die stad wou kom, wag ‘n man vir die Trans Karoo wat tienuur deur Buskruitbult ry, en la-a-a-a-nk voor die melktrein in die stad aankom.

Agterna het die storie wel stuk-stuk uitgekom, en toe alles aanmekaar gelas is, klink dit so:

Die proffie het hom in die basin gewas en tussen die lakens ingeskuif, toe hy skielik grootoog word. Daardie jare was ‘n en suite-badkamer ‘n rariteit, en nog te meer op Buskruitbult. Hy trek sy japon aan, en is gang op, en gang af op soek na die vertrek met die prentjie van die mannetjie op. Maar kry niks.

Dis toe dat hy die klokkie vir die portier lui, en toe dié dikbek opdaag (die proffie het gemeen die fooitjie vir die tasse dra is ook vir die Geloftefeeskomitee se rekening) toe is die portier nie links nie. Of dalk juis links, soos met vandag se politiek.

Dalk, vir al mens weet, nog verlangs aangetroude familie van oorle Dingaan ook nog, dié dat hy nie so ooghare vir die proffie het wat oor Bloedrivier kom praat nie. Dus help hy nie die proffie reg en wys hom die regte deur waar die mannetjie al vervloë afgeval, en niemand gebodder het om dit weer terug te sit nie. In hotelle met sulke reputasies is dit gewoonlik nie nodig nie, omdat almal mos sal onthou.

Maar die portier neem die proffie na die prof se kamer se venster, trek die gordyn effens oop en beduie na die gemakkie wat doer agter in die agterplaas tussen die kerkhof se sipresse skuins in die yl maanverligte nag sy staan gekry het.

Die proffie bedank die porier fooitjieloos, en staan lank na die gedoentejie doer in die agterplaas en tuur.

Toe besluit hy, dit moet maar vir ligdag wag.

Maar skaars het die prof die lakens opgetrek, of hy is weer grootoog, en kort daarna staan hy weer voor die venster.

Seker so met die vierde opslag, tref dit die prof hy gaan mos nie weer die sokkies wat hy die dag op die trein aangehad het weer tydens die ekskursie nodig kry nie, en hy kry ‘n briljante idee.

Kort hierna is die ligte in die kamer uit, en ‘n ruk later die venster opgeskuif, en eers een, en toe nog een, vlieg die kouse by die venster uit in ‘n kakiebosbegroeide bedding in.

En toe hét die prof heerlik geslaap, kon die portier die Geloftefeekomitee met ‘n skoon gewete inlig.

Wat hy versuim het om te vermeld, was dat die proffie die volgende oggend, toe die sonnetjie die kamer helder verlig begin warm bak, nie wakker geword het nie, maar hom wawyd wakker geskrik het. Die een kous, so sien hy dadelik, het ‘n gaatjie by die toon gehad en toe hy dit so in die rondte geslinger het om dit by die venster uit te lanseer, het dit gelol… so sien hy toe dadelik.

Hy smokkel die portier behoorlik die kamer in.

“Kyk, ek gee jou tien pond as jy dit silwerskoon was en vir niemand sê nie.”

Die portier se mond hang oop terwyl hy die nuwerwetse kunswerke teen die muur betrag.

“Mastah, ek gee vir mastah daai tien pond terug en nog tien pond as mastah vir my sê hoe mastah dit reggekry het.”

En dis glo net hier waar die proffie se dringende gesinsake aandag moes geniet.

Die Geloftefeeskomitee sit toe in die pekel. Buskruitbult kon nog nie ‘n nuwe dominees kry wat die beroep aanvaar nie, en vandat die skoolhoof by mev. Pretorius betrap is, sal hy g’n deug as hoofspreker by die Geloftefees nie.

“Oom Skjeuns sal moet instaan,” verklaar Brand van Schalkwyk, die ondervoorsitter en tesourier.

Hiermee het almal konsensus, ook oom Skjeuns wat besef daar is nie tyd vir dwars trek nie, en ook heimlik geëerd voel.

Vandag kry Buskruitbult en omstreke ‘n Geloftefees sonder weerga, besluit oom Skjeuns heimlik, min wetende dat hy profetiese denke had.

Knap voor die verrigtinge moes begin, tref die grootheid van die okkasie vir oom Skeuns. Die oop skuur is volgepak. Die gehoor sit op enige soort sitding wat hulle kon saambring, van riempiesstoele tot kombuisstoele. Ook die skousaal se opslaanstoele wat so ses-ses aanmekaar vas is wat oom Skjeuns geleen en aangery het, is volgepak van mense wat te min sitgoed vir die groot gesinne gebring het.

Buiteom is ‘n groot verskeidenheid treppies en ander rygoed getrek waarin en waarop mense sit vir wie daar nie in die “saal” plek was nie. Oom Skjeuns besef hy sal hard moet praat, en juis toe oorval ‘n benoudheid hom, en sy keel raak droog.

Oom Skjeuns sit om kombuis toe om ‘n watertjie te gaan haal, en kom juis net daar aan toe die bo-deur oopvlieg en die huishulp die skottelgoedwater uitskiet. Oom Skjeuns kry ‘n voltreffer. Hy staan nog bedremmeld toe tannie Skjeuns op hom afkom: “Nee Skjeuns, almal is so ernstig en jy maak nog grappies!”

Kort hierna kan oom Skjeuns egter droog aangetrek agter die baal wat as kateder dien instap.

“Broeders en susters, verleen my ‘n oomblik om namens my gesin u algar hier op Skjeunskraal te verwelkom.

“Namens die skoukomitee, net ‘n ernstige versoek vooraf. Die skoukomitee versoek dat u, as u aan die baklei sou raak, u tog nie die skoustoele moet gebruik om mekaar mee te moker soos wanneer ons Sap- en Natvergaderings hou nie. Die skoukomitee wys daarop dat die heel rye begin min raak.”

En toe val oom Skjeuns weg met ‘n Geloftefeesrede soos nog nie tevore op Buskruitbult of omstreke gehoor is nie.

Oom Skjeuns wy uit oor die volk se hoogtepunte, en laagtepunte deur die geskiedenis. Met elke hoogtepunt, spring oom Skjeuns so ‘n flink sprongetjie die lug in, en die gehoor se koppe knik na bo.

Met elke laagtepunt, sak oom Skjeuns so agter die baal weg, en bly ‘n rukkie daar.

Dan sit die gehoor eerbiedig met geboë hoofde.

Dis tog al so asof oom Skjeuns in die begin so ‘n bietjie senuagtig was, maar later is hy so driftig, hy klink soos die orakel homsigselwers.

Trouens, so geesdriftig – hoewel effe skeef die lug in – is ‘n hoogtepuntsprong, dat die gehoor besonder geesdriftig hul koppe die lug inruk, hul bolywe ruk eintlik agteroor.

Ook twee lywige tantes wat op ‘n treppie gesit het, ruk agteroor – en daar wip die disselboom gat oor kop!

Pa Jan vertel dit was te aardig – die ene niekerbokkers, toe rol die twee tantes deur die stof.

Niemand trek ‘n bek nie, en ‘n klomp jong manne draf nader, help die twee tantes op, stof af, tip die treppie weer reg, en pak ‘n paar swaar plaasimplemente op die disselboom, en die twee tantes kry weer hul sit.

Oom Skjeuns het intussen ‘n liederlike laagtepunt beleef, en die heel tyd agter die baal verkeer. Toe hy hervat, is sy spronge met heelwat minder veerkrag en al skuinser die lug in. Sy laagtepunte agter die baal is ook langer.

Toe bars ‘n jong man in die “saal” kliphard los: “Nou kan julle my skiet, maar nou gaan ek eers lag!”

Toe dawer dit, soos die mense wat die tantes se petalje kon sien, uitbars van die lag.

Oom Skjeuns beleef egter vir die duurte van die lagbui weer ‘n laagtepunt.

Toe sake weer stigtelik is, en oom Skjeuns meen om homself van agter die baal uit te lanseer, lanseer hy hom te skjeuns uit, en slaan lankuit op die stoor se vloer neer. En hy kom nie weer op nie.

‘n Ondersoek ter plaatse deur die lid vir Gesondheid van die Geloftefeeskomitee kondig aan: “Hy is flou, ek dink ons verdaag.” Dr. Cornelissen was nog nooit ‘n man vir lang vergaderings nie, en as hy ‘n kans soos hierdie kry om sake kort te knip, dan benut hy dit.

Een van die jong manne het agter die baal gaan ondersoek instel. In die somers neig giftige slange mos om in bale te gaan skuil, en as mens so raas, kan ‘n giftige slang mos heel befoeterd raak en naderhand iemand pik.

Sy graafwerk in die baal lewer egter ‘n heel ander buit.

“Kyk net hier!” brul hy. “Oom Skjeuns het met elke laagtepunt bietjie versterking kom neem!” en hy lig sy buit – ‘n amper leë brandewynbottel, omhoog.

дитячі іграшки інтернет-магазинДанильченко Юрий Брониславович компромат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.