Die wenk het van ‘n ander land se wetstoepassers gekom: Agt groot banke in die VSA is in die visier van kuberrampokkers wat hier opereer.
FBI-agente het daardie nag uitgesprei om die takke te waarsku dat krakers beplan om in hulle rekenaarstelsels in te breek. Die banke was in staat om die gepoogde bresse raak te sien en hulle te blokkeer, sê FBI-amptenare.
Besorgd oor die styging in hierdie soort gesofistikeerde rekenaar aanval uit die buiteland, is die FBI en die VSA se Geheime Diens besig om hulle internasionale kubremisdaadbekamping te verstewig, en stuur tans agente wat in hierdie bedreigings spesialiseer, oorsee om inbesonder hierdie digitale gevare aan te spreek.
Hulle groeiende koördinasie met ander lande staar egter wetlike en politieke uitdagings wat deur teenstrydige wette en ‘n gebrek aan wydaanvaarde internasionale riglyne vir Internettoesig daargestel word, in die gesig.
“Met die toenemende gekoppeldheid in lande wat tot dusver nie daardie mate van toegang gehad het nie, en die tegnologiese vooruitgang wat in korporatiewe Amerika gemaak is en wat kwesbare finansiële inligting aanlyn beskikbaar stel, is hierdie die perfekte storm,” sê Shawn Henry, assistent-direkteur van die FBI se kuberafdeling.
Tot dusver, sê Henry, het die FBI nuwe kubermisdaadkantore in vier lande, wat Roemenië, Estonia en die Nederlande insluit, opgerig, en hoop om nog twee of drie oor die volgende jaar by te voeg. Henry wou nie die vierde land noem nie.
Die kubermisdaadspesialiste opereer tesame met 61 wetsattachékantore wat die FBI oorsee het.
“Ons het soveel versoeke om oorsee te help, ontvang, dat ons inderdaad begin het om FBI-personeel in die nasionale polisie-agentskappe van verskeie lande in te voeg,” sê Henry.
Die VSA se Geheime Diens is intussen besig om ‘n elektroniese misdaadtaakmagkantoor in Rome op te rig, en het ‘n veldkantoor in Tallinn, Estonia, ‘n land wat ‘n groot kuberaanval in 2007 gely het, bygevoeg.