Volstruispolitiek of sluimer en slaap intelligensiedienste?

Deel op

Een van die belangrikste redes waarom state groot bedrae geld aan Intelligensiedienste bestee is om die regering van behoorlik geëvalueerde inligting te voorsien. Twee opdragte wat intelligensie-beamptes by aanstelling kry is dan ook om slegs die waarheid, maak nie saak hoe ongewild nie, aan die regering te rapporteer en om geen onwettige opdrag uit te voer nie.

Sonder hierdie betroubare inligting is dit nie moontlik om die objektiewe regeringsbesluite te neem wat nodig is om ‘n land stabiel te kan regeer nie. Dié inligting behels ook inligting oor ‘n wye spektrum sosio-ekonomiese sake wat aangespreek moet word om stabiliteit te verseker.

Meer as 80 persent van die inligting wat geëvalueer word kom uit oop bronne soos koerante. ‘n Vrye pers wat nie bang hoef te wees om oor die waarheid te berig nie is dus vir ‘n staat ‘n groot hulpmiddel.

Dit is egter moeilik om nie die vraag te vra oor wat nou aan die gang is nie. Enkele dae gelede het die Vrystaatse Premier nog gesê daar is nie werklik ontevredenheid met vlakke van dienslewering in die Vrystaat nie, en dat mense ook grootliks tevrede is daarmee. In daardie stadium was daar aktiewe munisipale onrus in die provinsie.

Nou, enkele dae later, maak hy grootliks ‘n ommekeer en erken daar is wel probleme, hoofsaaklik met watervoorsiening. Tog maak hy by dieselfde geleentheid die stelling dat die Vrystaat oor die algemeen stabiel met min optogte is. Die werklikheid is dat Municipal IQ se mees onlangse syfers toon dat die Vrystaat ‘n besonder groot persentasie van hierdie optogte, en spesifiek dit wat met oproer gepaard gaan, beleef het, hoewel Mpumalanga en Gauteng nog erger deurgeloop het.

Dit sal Magashule se adviseurs ook loon om na Municipal IQ se tabelle te kyk waar Vrystaatse munisipaliteite afwesig is by diegene wat goed presteer, maar wel op die radarskerm verskyn wanneer dit by die swakstes kom.

Pas het ‘n Suid-Vrystaatse burgemeester die provinsiale regering as swak beskryf weens die toestand van paaie in die platteland.

Die Vrystaat is nie die enigste provinsie waar volstruispolitiek bedryf word nie. Pas het die DA-leier, Helen Zille, tydens ‘n besoek aan riooloorstroomde dorpe in Noordwes verklaar haar party sal na die volgende verkiesing dié provinsie regeer.

In beginsel, in ‘n regstaat, sou dit nie veel verskil maak nie omdat ‘n regering in algemene belang, en nie net in belang van sy ondersteuners nie, moet regeer. Hierdie beginsel is sommer uit die staanspoor nek omgedraai met die kader-ontplooiingsbeleid, en waar die some lostrek of sommer oop bars, die hersirkulering van kaders.

Die werklikheid is egter dat die kiesers in Suid-Afrika in groot getalle nie in hul eie beste belang stem nie.

Die kiesers kan nog in ‘n mate onkunde verskoon word omdat nie almal aan dieselfde inligting blootgestel is nie. Municipal IQ se verslag is byvoorbeeld ruim in al Volksblad se uitgawes gedra en in ‘n hoofartikel onder die loep geneem. Volksblad word egter in hoofsaak deur Afrikaanssprekendes gelees. Volksblad se groot gemeenskapskoerant wat op die swart gemeenskap gerig is, die Express, het dit egter verswyg.

Die persoon wat die Vrystaatse Wetgewer se nuusoorsig opstel, is boonop nie Afrikaans magtig nie en kan dus ook nie die Wetgewerlede inlig oor nuus wat in Volksblad verskyn nie.

‘n Deel van die publiek kan dus nie verkwalik word dat hulle in Kammaland woon nie, maar die Premier en LUR’e behoort hulle nie te kan verweer nie. Maar selfs al sou hulle verkies om intelligensieverslae te ignoreer, sal die geraas wat uit Skoor gaan opstyg wanneer die OG-verslae aan die beurt kom, nie misgekyk word nie.

декоративное ландшафтное освещениелобановский александр жена

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.