Branson stel sy ruimtetuig bekend

Virgin Galactic, ‘n afdeling van miljardêr Richard Branson se Virgin Atlantic Airways, hoop die gevleuelde SpaceShipTwo sal toeriste in die ruimte inskiet om gewigloosheid te kan ervaar binne twee tot drie jaar.

Branson het Maandag sy eerste kommersiële ruimtetuig vir ruimtetoerisme bekendgestel.

“Dit sal die begin wees van kommersiële ruimtevaart,” het hy tydens die geleentheid in die Mojavewoestyn in Kalifornië gesê. “Jy gaan ‘n ruimtevaarder word.”

Die projek, wat beoog om ses kommersiële ruimteskepe te bou, sal passasiers hoog genoeg neem om gewigloosheid te ervaar asook die Aarde se kurwe teen die agtergrond van die ruimte te aanskou.

Die rit sal twee-en-half uur duur en passasiers sal vyf minute lank gewigloos wees.

Sowat 300 aspirant-ruimtevaarders het reeds ‘n deposito van $200 000 inbetaal vir die ervaring wat drie dae se opleiding insluit.

Uiteindelik beoog Virgin Galactic om dmv suborbitale reis die tydsduur van lugreise dramaties in te kort.

“Van kontinent tot kontinent, van Los Angeles na Australië binne twee uur,” het Branson aan Reuters TV gesê.

Ander sakemoontlikhede sluit eksperimente in die ruimte in en die lanseer van klein vragte.

Branson het vliegtuigontwerpingenieur Burt Rutan en sy span by Scaled Composites gekontrakteer om die tuig te bou.

In die Reuters TV-onderhoud sê Branson die vlugte sal veiliger as NASA se pendelvlugte wees. “NASA gebruik tegnologie wat 50, 60 jaar oud is.”

Die impak op die omgewing sal ook glo minimaal wees met geen koolstofvrystelling nie.

Atmosferiese toetsvlugte gaan vir die volgende tien maande onderneem word, waarna uitgebreide ruimtetoetsvlugte sal volg voordat passasiersvlugte in 2011 of 2012 afskop.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.