Herrie se kerrie: Beste van 2009

Deel op

Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer Herrie die name bekend maak van mense wat vir besondere eerbewyse vir hul bydraes in 2009 genomineer is.

Soos gebruiklik begin Herrie by die Poskar (Politieke Oskar) –nominasies.

Heel bo-an die lys is Julius Malema wat deur pres. Jacob Zuma genomineer is vir sy politieke insigte, volwasse leierskap en verantwoordelikheidsin, sodat Zuma hom ook sommer as kroonprins gesalf het. Malema is deur prof. Jonathan Jansen gesekondeer weens sy besondere intelligensie, en ‘n ere-professoraat in drama- en toneelkunde aangebied.

Volgende op die lys is pres. Jacob Zuma, genomineer deur Julius Malema vir sy briljante interpretasie van grondwetlike sake en aanstellings in die juridiese veld. Dié nominasie is gesekondeer deur regter John Hlope.

Die Vrystaatse Premier, Ace Magashule, kom ook aan die beurt weens die uitsonderlike vermoë om munisipale diensleweringsprobleme in sy provinsie so vinnig op te los, onlusmakers is nog besig om klippe te gooi dan is daar nie meer munisipale diensleweringsprobleme nie, aldus Magashule. Hy is genomineer deur mnr. Neels van Rooyen, voorsitter van die Vrystaatse Skoor, en gesekondeer deur mnr. Thabo Manyoni, LUR vir Polisie en Paaie, wie se kop nog onlangs luidens berigte op die spel was. Hy het egter daarin geslaag om die slaggatprobleme sonder ‘n enkele tenderprobleem opgelos te kry.

Die genomineerdes vir die Umbungeisj-medlaje (medalje van die olifant met die baie seer tand) is eerstens mnr. Leonard Chuene, genomineer deur mnr. Buthana Komphela en gesekondeer deur mnr. Hendrik Moganyetsi. Chuene word genomineer weens die buitengewone manier waarop hy Suid-Afrika in die buiteland bekend gestel het en gesorg het dat die oë van die wêreld op die vooraand van die 2010-wêreldsokkerbeker op die land vasgevang sal bly. Onder die lang lys vernaamste mededingers tel verskeie burgemeesters en oud-burgemeesters, soos dr. Gwen, Pappie en sy Granny, en dr. Tjeers.

Die gesogte Eersteklas-soustreinkaartjie gaan aan die uitgetrede Openbare Beskermer, Lawrence Mushwana, wat na hy ‘n R7 miljoen goue handdruk gekry het, weer as voorsitter van die Menseregtekommissie aangestel is. Wat sy prestasie des te merkwaardiger maak is die hofsake wat hy as Openbare Beskermer verloor het, soos die Staatsteatersaak en toe die grote, die Petro SA-saak. Hy word egter sterk geopponeer deur kandidate uit verskeie owerheidsfere, en ‘n Ligte opskudding, as Eskom weer krag vir ligte het, is nie uitgesluit nie.

‘n Laat-inskrywing vir die “Vriende van die kommersiële Landbou”-medalje is adjunk-president Kgalema Motlanthe, vir sy ruim denke oor wie vir plaasmoorde verantwoordelik is. Hy is deur Lawwe Lulu genomineer, en deur pres. Robert Mugabe gesekondeer.

Die Orde van die Flitsende Blou Ligte gaan onbestrede aan mnr. Julius Malema. Dit word betwyfel of ‘n burgerlike ooit sy prestasie op die bangheidskaal sal oortref, wat tot R300 000 per maand se staatsbeskerming aanleiding gee.

Die Snorre-trofee vir vrot keurderwerk gaan aan die Springbokafrigter, Peter de Villiers. Tydens sy toekenning sal WP Nel en Coenie Oosthuizen ‘n duet aanhef getiteld, Skoenmaker, hou jou by jou afrigtingslees.

Die Groen Medalje vir nie-rassigheid word gedeel deur die trippel-M-koor, Malema, Manyi en Maroga. Dit is nie bekend of dit waar is dat hulle op ‘n donker groen medalje aangedring het nie.

 

где купить лестницутопкарго

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.