Kopenhagen – Nie net opofferings maar ook geleenthede

Deel op

Die oë van die wêreld word algaande op Kopenhagen gerig waar wêreldleiers volgende week koppe bymekaar gaan sit oor hoe om die aarde se klimaat so veel as wat menslik moontlik is, te stabiliseer.

Dié keer kom die VSA, die wêreld se kampioen-atmosferiese besoedelaar, volgens aanduidings met konkrete voorstelle. Soos in die verlede kry ‘n welmenende president teenkanting van kongreslede en nyweraars wat bekommerd is oor die impak wat die voorgestelde skedule vir die vermindering van koolstof-vrystellings op die ekonomie en die Amerikaanse huishoudings gaan hê.

Selfs die opkomende reus, China, maak geluide dat dié land sy kant gaan bring. China skaar hom egter saam met Brasilië en Suid-Afrika by die ontwikkelende lande wat aanvoer dat die ontwikkelende wêreld se eiesoortige omstandighede om hul honger massas te voed in gedagte gehou moet word.

Omgewingsbewustes gebruik allerlei maniere om die algemene publiek se simpatie te win, soos plakkate van ysbere wat op stukke ys dryf en waarvan die getalle ernstig bedreig word, of natuurlewe-rolprente wat wys hoe sub-Antarktiese eilande se ekosisteme bedreig word.

Dit is egter op die kommersiële vlak waar dit werklik saak maak. Slegs geringe gemiddelde temparatuurstygings kan soveel poolys laat smelt dat die seevlak betreklik beduidend kan styg, en die woon- en werkplekke van ongeveer 90 % van die wêreld se verstedelikte bevolking onder water laat. Sekere saaigebiede kan woestyne word.

Die Vrystaat het onlangs ‘n bestuursplan gekry wat juis op die veranderende klimaat afgestem is, iets wat broodnoodsaaklik is omdat dit aantoon waar nuwe bevolkingsuitbreidings kan kom, en waar nie, omdat dit baie duur is om water oor lang afstande te neem as die reënvalstreke verskuif.

Daar is ook lande wat voordeel trek uit klimaatsverandering. Nadat die Vikings bykans ‘n duisend jaar gelede hul kolonies in Groenland moes ontruim, en die Noord-Amerikaanse nedersettings dus buite bereik geword het omdat die klimaat te koud geword het, het dit nou so verwarm dat die Groenlanders groter outonomie kon kry, en kan kyk na olie-ontginning in gebiede wat onlangs nog weens dik en bewegende yslae nie moontlik was nie. Selfs die plant van aartappels word nou in die vooruitsig gestel.

Aardverwarmingsgasse wat deur menslike aktiwiteite vrygestel word, is egter nie al wat ‘n kweekhuiseffek tot gevolg het nie. Metaangas doen dit ook, en die sondaars wat dit betref is enigiets van Australië se rysmiere tot Europa se beeskuddes.

Waaraan die mens absoluut niks kan doen nie, is die sonaktiwiteite wat tot die ontstaan van ‘n nuwe vakrigting, kosmoklimatologie, gelei het, wat met paleoklimatoloë saamspan om ooreenkomste tussen tye van hoër of minder sonaktiwiteite in die verlede en warm tydperke, en selfs ystydperke, te vind. Ook die huidige stygende temperatuur hou met die fase van sonaktiwiteit verband, maar die kosmoklimatoloë beklemtoon dat dit net ‘n bydraende faktor is.

Die belangrike is dat die klimaatskrisis ook geleenthede bied wat andersins waarskynlik nie gou aan die bod sou kom nie. Kort na die huidige wêreldekonomiese krisis sy ding begin doen het, het verskeie state hul herstelkprogramme minstens ten dele gekoppel aan die ontwikkeling en uitbouing van skoon energie, soos windkragterbunes, elektriese en hibriede motors, die opwekking van krag uit golfwerking met die sogenaamde Anaconda-tegnologie, en die gebruik van moderne tru-osmosestelsels om drinkwater uit soutwater te herwin.

In Nederland word kragstasies opgerig wat die metaangas van beesmis verbrand, en dan metaanvrye bemesting as neweproduk oplewer.

In hierdie stadium is die ontwikkeling van die alternatiewe, selfs met die beste tegnologie, bykans deurgaans net daardie tikkie duurder as steenkool- en aardgas-kragopwekking, wat lande wat sy industrie op hierdie effens goedkoper krag bou, net daardie klein treetjie voor gee met internasionale mededinging.

Dit gaan nie veel dwarstrekkers kos om die goue planne wat vir Kopenhagen beraam word, soos domino’s te laat kantel nie.

 

портал для камина из гипсокартона фотолобановский александр игоревич харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.