Chris Louw se dood so tragies soos Verwoerd s’n

Deel op

Die nuus dat Chris Louw vandag dood op sy plasie anderkant die Hartebeestpoortdam aangetref is ná ‘n skynbare selfmoord, het vir my persoonlik as ‘n geweldige skok gekom. Nie net omdat ek Louw goed geken het nie, maar omdat ek ‘n spesiale band met hom gevoel het.

In baie opsigte het ons ‘n gedeelde geskiedenis gehad: as rebelle of opstandelinge in die ou Suid-Afrika wat sterk krities teen die destydse Broederbond, Afrikaanse koerante en Nasionale Party was, maar wat toenemend ook deur die huidige bestel ontnugter is. Vandaar die feit dat PRAAG se heel eerste boekpublikasie in 2000 ‘n uitgawe van die volledige “Ope brief aan Willem de Klerk” was wat Louw destyds aan die broer van FW de Klerk gerig het.

Tydens gesprekke oor die afgelope weke was ek en Chris dit ook eens oor die huidige penarie waarin die Afrikaner hom bevind en ek het gevoel dat hy veel nader aan my eie standpunt beweeg het, dat ons as volk teen die geweld en verdrukking moet begin saamstaan. Hoewel hy dit volkome met my eens was, het hy gesê dat hy op die oomblik nie te regstreeks met PRAAG kon assosieer nie omdat sy “laaste bron van inkomste” die vryskutartikels was wat hy vir Rapport en Beeld geskryf het. Omdat hy bekend was met die sensuur en onverdraagsaamheid van Naspers en die verraderlike Afrikanerheersersklas, het hy geweet dat hy in sy woorde, “sy eie keel sou afsny” indien hy te ooglopend tot ons webblad sou bydra.

Ek het ook vir Louw gevra of ek van sy boekpublikasies aanlyn beskikbaar kon stel en hy het geredelik daartoe ingestem. Tesame met Patti Waldmeir, die voormalige Suid-Afrika-korrespondent van die Britse Financial Times, het Louw in Boetman en die swanesang van die verligtes die skryendste onthulling oor die jammerlike oorgawe van FW de Klerk en Roelf Meyer gepubliseer.  Louw, wat die onderhandelings by Kemptonpark bygewoon het, was ‘n persoonlike getuie van die naïwiteit, onbekwaamheid en boosheid van die Afrikanerheersersklas se verteenwoordigers wat ons volk aan die ANC en sy buitelandse prinsipale uitverkoop het.

Die eerste gedagte wat by my opgekom het toe ek van Louw se dood verneem het, was: “Die Afrikanerheersersklas het Louw vermoor.” Louw is geestelik en waarskynlik finansieel geknak deur die huidige bestel waaroor die oorblywende lede van die Afrikanerheersersklas en die ANC se bende korruptes soos aasvoëls waak en alle kritiese denke en dissidensie as bedreigings beskou wat met wortel en tak uitgeroei moet word.

Terwyl Louw by die SAUK as regisseur van die aktualiteitsprogramme Monitor en Spektrum werksaam was, het ons dikwels oor ‘n drankie of koppie koffie in Melville die korrupsie en onbekwaamheid by daardie instelling bespreek. Louw het ‘n persoonlike stryd teen Snuki Zikalala wat destyds nuushoof was, gevoer en was konstant aan die ontvangkant van maatreëls teen hom soos dissiplinêre verhore en allerlei besware wat uit die lug gegryp was. Zikalala was ‘n alkoholis wat onder andere in sy dronkenskap ‘n ongeluk in die parkeergarage van die SAUK gemaak het, iets waaroor geen haan gekraai het nie.

Vandag oor RSG het sy voormalige kollegas van hom ‘n polities korrekte en ‘n linkse probeer maak; watter belediging vir hom. In wese was Louw liberaal in sy uitkyk en daarom het hy geglo dat daar meer as een sy van die waarheid is. Maar Louw was ook ‘n onbeskaamde Afrikaner wat die beste uit ons onderdrukte Afrikaanse tradisie van vrye en onverskrokke denke verpersoonlik het. Hy het ‘n lewendige belangstelling in die Afrikanergeskiedenis gekoester en was lief om uit die dagboek van Louis Trichardt aan te haal.

In die onlangse tyd het Louw hom openlik met die boeregemeenskap van Brits vereenselwig en deelgeneem aan gemeenskapspatrollies teen geweldsmisdaad en plaasaanvalle. In enkele van sy laaste gepubliseerde kommentare in Beeld en Rapport het Louw diplomaties maar ondubbelsinnig sy mede-Afrikaners tot verset opgeroep deur die vraag te vra: “Wat lê anderkant kla?”

Persoonlik het ek gevoel dat Louw juis nou – in die Afrikaner se huidige krisis – soos ‘n verlore seun wat huis toe kom sy beste werk as joernalis en meningsvormer sou kon lewer.

Louw was nie iemand wat ek met selfmoord sou verbind nie; daarvoor was hy te lewenslustig, te moedig en te stoïsyns om ooit deur probleme ondergekry te word. Soos Lamé Ebersohn van Café Riche waar Louw onlangs ‘n filosofiekafee bygewoon het, aan my gevra het: “Watter Boereman wat in die ‘army’ was, skiet homself met ‘n AK-47?”

In alle opsigte is Louw se heengaan ‘n tragedie wat ‘n mens amper met die dood van Verwoerd kan vergelyk. Die moontlikheid van vuilspel, ook deur die staat en sy geheime vertakkings, is sekerlik nie uitgesluit nie. Louw het self besef dat sy beredeneerde aanval op Jonathan Jansen in Rapport een van die belangrikste oomblikke in sy hele loopbaan was en dat hy daarmee eintlik ‘n stuk kettery teen die nuwe orde gepleeg het. As ‘n mens verder dink aan die georkestreerde veldtog rondom die Reitz-vier, wat regstreeks tot Jansen se aanstelling by Kovsies gelei het, dan is hier dalk sprake van ‘n groter anti-Afrikanerkomplot wat agter geslote deure gesmee is. Wie weet of Chris Louw se Rapport-artikel nie ‘n andersins soomlose operasie in gevaar gestel het nie?

Indien dit wel selfmoord was, was dit geen fisieke mes wat deur ‘n Tsafendas gehanteer is nie, maar ‘n geestelike dolk wat die Judasgeslag van die De Klerks in sy siel gesteek en hom uiteindelik geknak het.

Louw was te reguit en te eerlik vir die nuwe Suid-Afrika. Hierdie koninkryk van leuens was sy woning nie; vandaar sy skielike en raaiselagtige dood.

In Louw se heengaan met ‘n AK-47 – teken van die verskrikkings van die Afrikakontinent – was daar iets simbolies, asof hy ook deur die toenemende barbarisme en hopeloosheid van hierdie land verteer is.

Dit sou egter verkeerd wees om sy dood as ‘n oproep tot oorgawe te beskou, want Louw se dissidensie – tóé en nóú – noop ons om sy vraag van onlangs ernstig op te neem: “Wat lê anderkant kla?”

Ons moet sy nagedagtenis eer deur sy borrelende en kritiese denke voort te sit. Persoonlik sal ek sorg dat Louw se geskrifte vir die Afrikaanse leser beskikbaar bly.

Die beweging wat met sy Boetmanbrief begin het, mag nie doodloop nie. Al is sy stem nou stil, sal sy woorde aanhou om by ons te spook en ons te inspireer.

справку пндДанильченео

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.