Bedorwe Proteas gee saggies oor

Deel op

Sou daar ‘n wedstryd op St. George’s Park in Port Elizabeth wees, sal dit die kaptein betaam om te luister na kenners wat dié blad en die omstandighede ken, iemand soos, sê nou maar, Keppler Wessels. Hy het ‘n vrag wedstryde daar gespeel, meeste as kaptein. En hy sal vir die kaptein sê, in die woorde wat hy tydens gister se televisie-uitsending gebruik het, dat as die wind waai, en dis bewolk en dis bedompig, moet jy nie, as jy die loot wen, besluit om te kolf nie.

Smith hét die loot gewen, hy hét nie na Keppler geluister nie en hy hét besluit om te kolf. Fout. Die eerste uur van die wedstryd het die bal weggekaats van die naat en was daar ‘n angel in die blad. Daarna het die wind en die son die blad uitgedroog en was dit so mak soos Roelf Meyer se politiek. Maar na ‘n uur was die Proteas se doppie reeds geklap want die toporde het toe reeds energiedrankies in die paviljoen gesuig.

Nie dat die blad sonder medepligtiges was nie. Die Proteas het gekolf asof hierdie beurt ‘n voortsetting van Vrydag se lopievloed op Nuweland was. Dit was nie en dit was asof dit die Suid-Afrikaanse kolwers so nukkerig gemaak het dat hulle geweier het om vas te byt en te konsentreer. Smith het self ‘n hele twee lopies tot sy span se fortuin bygedra en Amla 11. De Villiers het 99 lopies minder as Vrydag se 121 gekry en Duminy het nóg ‘n rondte teen die kortbal verloor om agter die penne deur Prior van Anderson uitgevang te word.

Die enigste kolwer wat enige toewyding getoon het, was die onbesonge Alviro Petersen met sy derde agtereenvolgende vyftigtal. Hy was laaste uit op 51 met Suid-Afrika op ‘n skandalige 119.

Die verloopte Suid-Afrikaners, Jonathan Trott en Andrew Strauss het 80 persent van die lopies aangeteken voordat Morgan by Trott aangesluit het om die taak af te handel.

Jimmy Anderson was die Man van die Wedstryd met sy beste ontleding ooit van vyf vir 23.

Engeland is nou 2-1 voor in die reeks met nog net een wedstryd, Vrydag, in Durban oor.

free casino gamblingtopcargo развод

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.