AB de Villiers kasty die Engelse

AB de Villiers
Deel op

AB de VilliersSo omtrent twee jaar gelede, toe die gestryery oor sy aanwending op die hewigste was – was hy ‘n spesialiskolwer of ‘n kolwer/paaltjiewagter? – het AB de Villiers aangekondig dat hy nie weer die vangerhandskoene sal aantrek nie. Sy plan, sy vasberade doel, was om die “beste kolwer” in die wêreld te word. Hy is dit miskien nog nie; nie op die ranglyste of in die oë van ander spelers of selfs die publiek nie. Maar gisteraand, vir omtrent twee glorieuse ure, was daar nie ‘n beter toepasser van die kuns en ambag van die kolwer as dieselfde jong De Villiers nie. Hy het ‘n beurt van groot presiesheid, volmaakte tempo en ‘n koelbloedige verwoestheid gespeel. Hy het gedryf, gehaak, getrek, gekap, laat gekerf en, in ‘n oomblik van verblindende genialiteit ‘n volbal van ‘n naatbouler oor die kop van die paaltjiewagter getrek vir ‘n stuitige viertjie.

Graeme Smith het die loot gewen en, omdat dit Nuweland is en om hier onder ligte te kolf altyd moeiliker as in die dagskof is, maar natuurlik besluit dat die Proteas eerste sal kolf. Die Suid-Afrikaanse masjien, wat maar kroeserig geloop het tot dusver hierdie seisoen, het nou wel nog nie glad teen hoë toere geloop nie, maar al die silinders het darem gevuur. Graeme Smith en Hashim Amla wat instaan vir die beseerde Kallis, het ‘n moeitelose honderdtal vir die eerste paaltjie gedeel, met Smith wat in gewone bombastiese styl die bal plat geslaan het aan die een kant en Amla, met sy gewrigte wat so vinnig en sekuur knak soos ‘n spykertafel se flapperspane, wat die bal keer op vloeiende keer om die veldwerkers gekaats het.

Smith is uiteindelik van ‘n speserylose aflewering van Luke Wright uit en Amla het aangehou kolf tot op 86 voordat hy ‘n Broad-aflewering met die onderkant van sy kolf na die handskoene van paaltjiewagter Matt Prior gestuur het. Teen dié tyd was AB reeds voor die penne en hy het enkellopies met die pligsgetrouheid van ‘n saaiboer geoes en, wanneer die losbal aangebied is, dit met ‘n sekere koelbloedigheid toue toe gejaag.

JP Duminy het gekom, gesukkel teen die hoë bal, en vir ses gegaan, maar in Alviro Petersen het De Villiers net die regte vennoot gekry, iemand wat sy eie viere kon slaan, maar wat meestal bereid was om die slag oor te gee aan AB.

De Villiers het sy honderdtal van ‘n inhalige 75 balle geslaan en is tien balle later op 121 uit, die eerste keer wat hy ‘n hou se tyd misreken het – uitgevang op halfby deur Trott van Broad se boulwerk.

Boucher het ingekom en twee lopies van elke bal geslaan voordat hy op 22 uit is. Suid-Afrika se beurt het geëindig op ‘n intimiderende 354 vir ses.

Engeland het vir Luke Wright as verkenner uitgestuur om die beurt te open en hy het die bal lustig rondgeslaan, voordat hy ‘n Parnell-aflewering na regby geloods het om deur Ryan McLaren uitgevang te word. Na ‘n aanvanklike bloeitydperk, het die Engelse kolwers dit moeiliker begin vind om lopies te vind teen die boulwerk van veral Morné Steyn, terug uit die wildernis, en met ‘n nuwe veglustigheid en ‘n gemiddelde boulspoed van meer as 140km/u. Duminy het sy opwagting as toller gemaak en was astrant genoeg om vir Kevin Pietersen om sy bene te boul en toe nog die sakgrootte sloegmeester, Eoin Morgan, gekry om die bal na Johan Botha op diepby te slaan.

Collingwood het weer gekolf asof hy die enigste Spitfire is wat die Engelse Kanaal verdedig maar Parnell, wat intussen sy eie angel gevind het, het hom deur Amla laat uitvang, en van daar was die skrif in neonligte teen die muur aangebring.

Parnell het geëindig met sy beste ontleding van vyf vir 48 en Suid-Afrika wen met 112 lopies.

Almal weet Suid-Afrika is die beter krieketspan, en hierdie oorwinning moes, maar was nie heeltemal nie, roetine gewees het.

Sondag tree die spanne op St. George’s in Port Elizabeth aan. Momentum, talent en veggeestigheid is aan Suid-Afrika se kant. Dis tyd vir wen om weer ‘n gewoonte te word.

что делает пародонтологалександр лобановский класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.