Springbokke se grand finale

'n Selfversekerde Victor Matfield, 'keiser van lynstane'
Deel op

'n Selfversekerde Victor Matfield, 'keiser van lynstane'Die Springbokke het aan die begin van hierdie jaareindetoer rugby gespeel soos wat Ras Dumisani gesing het, maar hulle maak keel skoon om vandag hulle lang seisoen op ‘n hoë noot af te sluit, ‘n hoë-C, glinsterend en glorieryk soos Luciano Pavarotti s’n in “Ah mes amis” uit Donizetti se La fille du regiment. Net soos wat dit vir enige span amper onmoontlik is om elke wedstryd te wen, is dit baie moeilik vir ‘n kampioenspan om in ‘n string wedstryde te ploeter. Net soos wat elke Curriebekerspan ten minste een goeie wedstryd in ‘n seisoen het, so het die Springbokke minstens een goeie wedstryd in ‘n jaareindtoer in hulle. Die Engelse het dít nie verstaan nie en is verlede jaar nie net geklop nie, maar dit met sulke spogrugby en so oortuigend dat Martin Johnson se rooinekke nou nog sukkel om die gevolge daarvan af te skud.

Al is dit so dat die toerorganiseerders die moeilikste vir die laaste gelos het, gaan die Springbokke vandag onoorwinlik wees. Vir ‘n hoogtepunt is dit gepas om teen die beste te speel, en die Iere is die beste wat daar Noord van die ewenaar is. Dit is, kortom,  die Noorde se beste teen die Suide se beste van hierdie jaar – ‘n behoorlike crescendo vir ‘n onvergeetlike Springbok-seisoen.

Dit is meer as net ‘n seisoenale bioritmiese toeval; die Springbokke het uiteindelik die regte personeel om die beroemde pronkende gasel op hulle truie te poleer. Die gedoemde voorryeksperiment van P. De Villiers is (voorlopig) iets van die verlede en John Smit gaan ‘n tweede asem op haker kry met daardie onstuitbare klein domkrag, BJ Botha op vaskopstut en die Ondier Mtawarira op loskop.

Adrian Jacobs het ook een vir die span gevat, as’t ware, en homself genoegsaam beseer om die wedstryd op ‘n gemakstoel by die huis te kan volg. Van die begin van Peter de Villiers se breierstermyn is óf Jaque Fourie, óf Wynand Olivier uitgestoot om vir Jacobs plek te maak – en albei van hulle, van die bestes ter wêreld in hulle posisies, is strate beter as Jacobs op sy beste. Vandag begin Olivier op binnesenter met verlede jaar se Suid-Afrikaanse speler van die jaar, Jean de Villiers, wat die dennehout as reserwe gaan warm sit.

Schalk Burger keer terug op flank en Danie Rossouw skuif diagonaal agtertoe na agsteman wat beteken dat Ryan Kankowski sy plek afstaan, en dit nie net in die beginspan nie, want die losvoorspelers wat ‘n impak moet maak, is Jean Deysel en Dewald Potgieter wat aan sy eerste van ‘n hele hoop toetse behoort deel te neem. Andries Bekker is ook op die bank om vir die keiser van lynstane, Victor Matfield, plek te maak.

Met die Springbokskrum wat soos die regte artikel behoort te lyk, en genoeg lynstaanballe, met Brüssouw vir wie geen opponerende span al ‘n oplossing geproduseer het nie, en met ‘n agterlyn wat venyn op die aanval kan afwissel met ferm verdediging, is dit moeilik om te sien waar die Iere, gehard in die voorpak en met hope slaankrag agterlangs soos wat hulle het, die Springbokke terminaal kan kwes.

Maar wat vertroue in die Springbokke wek, is juis dat hierdie hulle laaste toets van die jaar is. Daar gaan ‘n uitbundigheid, ‘n intuïtiewe dodelikheid, in hulle spel wees wat hulle algeheel onstuitbaar gaan maak.

firestormОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.