Polisie en howe bied SA publiek nie meer beskerming

Deel op
ImageDie tyd het aangebreek dat die Suid-Afrikaanse publiek moet besef dat hulle aan hul eie lot oorgelewer is wat hulle veiligheid betref.  Die fout wat ons maak is om te dink dat die polisie en die staat ons tot hulp sal wees in hierdie anargie van misdaad. Dat die aanpassing vanaf ’n eens Eerstewêreldland na ’n totale Afrikastatuur moeilik is, is verklaarbaar maar ons sal moet wakker word en begryp dat elkeen homself sal moet beskerm totdat daar weer ’n Christen-owerheid in beheer is wat die verskil tussen reg en verkeerd verstaan, wat weet dat korrupsie en orde nie in een bestel saam kan bestaan nie, wat weer hierdie land sal kan opbou tot die selfstandige en korrupsievrye staat wat dit tot in 1966 was, en deur bekwaamheid weer die beskermheer vir die inwoners van Suid-Afrika sal wees.

Alexander Solsjinitsin, Nobelpryswenner van Rusland, beskryf onder meer ’n kommunistiese regering soos volg:

“Die staat verbied ’n burger in sy Strafkode om vuurwapens en ander wapens te besit, maar onderneem nie self om hom te beskerm nie. Die staat oorhandig sy burgers aan die mag van die rowers.”

Hy kon net sowel Suid-Afrika hier beskryf het. Ons moet daaruit finaal besef dat ons geen beskerming van die ANC-regime, die polisie of vanuit die verdraaide regstelsel sal ontvang nie. Daarom moet ons dringend leer om self elke oomblik paraat te wees. Wie dit nie doen nie, sal die prys daarvoor betaal.

Deel op

Om te verstaan waarom ons geen hulp van die polisie kan verwag nie, hoef mens net na ’n paar feite te kyk. Behalwe die 2 535 vakante poste wat in die jaar 2000 in die SAPS ontstaan het en steeds ’n groterwordende probleem is, maak die statistiek van die Medical Research Council (MCR) van daardie jaar, (by gebrek aan korrekte nuwe statistiek) die saak reeds duidelik. Sowat 14 600 SAPS-lede het daardie jaar ernstige kriminele aanklagte teen hulle gehad, dit is 1 uit elke 4;   20 000 het toe reeds kriminele rekords gehad;   25% SAPS-lede het nie motorbestuurlisensies gehad nie;   32 482 moorde is daardie jaar gepleeg (nie 21 683 soos volgens die polisiestatistiek nie) maar slegs 21,9% moorde is ondersoek en slegs 12,8% gewapende rooftogte en 6,4% motordiefstalgevalle is opgelos. En wanneer Interpol konstateer dat daar 54 298 moorde in die jaar 1995/1996 plaasgevind het, dan beweer die SAPS daar het slegs 26 883 plaasgevind. 

As die polisie in 1996 dan ook nog erken dat hulle nie ’n enkele een van die 700 misdaad-sindikate wat in Suid-Afrika aktief is, aangekeer het nie, dit terwyl ons land volgens die Wêreld Ekonomiese Forum bestempel word as die tweede hoogste ter wêreld in georganiseerde misdaad (slegs Colombia oortref ons), kan ons maar seker wees dat daar in 2007 veel meer korrupsie en misdaad as óóit in Suid-Afrika plaasvind. Daarom dan seker die gekookte misdaadstatistiek van 2006/2007?

Die korrupsie en geweld wat nou alledaags in die polisiekantore en -selle plaasvind, is ’n verdere bewys van die onmoontlikheid dat hulle ons sal beveilig.  Volgens ouditte klop die aantal vuurwapens in polisieregisters geensins met die aantal in die bergingstore nie.  En wanneer vuurwapens “weg, gesteel of misplaas” is, word dit nie in die registers aangeteken nie.  Gerugte lui ook dat polisielede vuurwapens uit die stoor teen R900 per aand uitverhuur, en vir nog R10 per patroon word dit ’n winsgewende handelstransaksie!

As daar gekyk word na die aantal sterftes van gevangenes in polisie-aanhouding, is dit ook duidelik dat ’n groot aantal van die polisiemag nie meer poog om wet en orde te handhaaf nie.  Die sogenaamde daling van 5% sterftes in 2005/2006 tot 68,8% per provinsie, maak dit duidelik waarom mnr Peter Wheeler onlangs in die Wes-Kaap tot die dood toe aangerand is in ’n sel waarin hy met voorbedagte rade saam met anti-wit rassehaters geplaas is.  Die moordklag in verband daarmee wat tans deur die onafhanklike klagtedirektoraat ondersoek word, sal sekerlik nie tot veel antwoorde lei nie.

Sara-Lee Nel, ’n agtienjarige meisie wat op 23 Maart 200 meter van haar huis in Rustenburg deur drie barbare verkrag is, is ook een van die miljoene slagoffers wat kan vertel hoe die polisie afwesig en moedswillig was. Haar ouers beweer dat die polisie nooit behoorlik ondersoek ingestel het nie.  Die polisielid wat wel die aand uitgekom het, was onder die invloed van drank en die misdaadtoneel is nie ondersoek nie. Haar jonger boetie het haar onderklere ’n week later daar opgetel terwyl ’n vrou haar bos huissleutels later daar gekry het. Sara-Lee is nooit gekontak vir ’n uitkenningsparade nie alhoewel die verdagtes aangekeer is, maar hulle is nou op 13 Junie na ses weke aanhouding vrygelaat weens onvoldoende getuienis.

Daarby moet ons weet dat 90% van misdadigers herhaaldelik misdaad pleeg omdat hulle sonder meer vrygelaat word soos Sara-Lee se verkagters, moedswillig of verkeerdelik, omdat geen beheer oor lasbriewe, hofdokumente en vonnisbriewe uitgevoer word nie. Selfs die meerderheid opnamemasjiene van howe is gesteel of stukkend, dus kan daar dikwels nie voldoende getuienis wees nie, soos ook in Sara-Lee se geval.

Prof Tom Coetzee, voorste strafregkenner, het die publiek op 15 Julie 2007 gewaarsku dat die chaos in die landdroshowe aan volslae wanorde grens wat gaan lei tot groot anargie. Wanneer onskuldige mense in tronke sit as gevolg van onbevoegde, nalatige en moedswillige amptenare, dui dit ook op die ineenstorting van die strafregstelsel. Geen wonder dat 15 gevaarlike langtermyngevangenes op grond van vals lasbriewe wat hulle vrystel, hierdie maand weer op die niksvermoedende publiek losgelaat is nie. Die omkoopgeld daarmee gepaard sowel as die miljoene rande wat gesteel word uit intestate boedels, geld wat na die naasbestaandes moes gaan, dui daadwerklik op ’n reeds ineengestorte regstelsel. ’n Hooflanddros in Johannesburg, mnr Gert Jonker, het daarom op 13 Julie sy hande in die lug gegooi met die woorde “Genoeg is genoeg! Dit kan nie so aangaan nie”.

As ’n inwoner van Hongseong in Suid-Korea ’n brief aan Beeld stuur met die woorde: “Die volgende boodskap het Woensdag die 13e Julie 2007 op ‘Arirang’ – die Engelse TV-stasie in Suid-Korea – geflits: ‘Travelers to South Africa are advised to be extra vigilant in the aftermath of frequent burglaries in South Africa’”, dan weet ons die horlosie het duidelik geslaan en sal ons onsself moet beveilig teen alle misdadigers, ook die polisie en die staat wat nie net geen beveiliging vir ons bied nie, maar met groot omsigtigheid bejeën moet word weens hulle aandeel in die bevordering van misdaad.

штукатурная смесьтопкарго отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.