Klein maar getryn!

Die Daihatsu Terios skuins van voor
Deel op

Die Daihatsu Terios skuins van voorEk het nog nooit eintlik oor die Terios gedroom nie. Dit is nie eintlik die tipe voertuig waarvan ‘n mens en veral ‘n man, droom om te besit nie. As daar nou een voertuig is wat werklik waar ‘n afgetrede onderwyseres se ryding is dan is dit die Terios. Moenie my verkeerd verstaan nie, die voertuig het baie mooi lyne en is sommer heelwat groter as die eerste generasie, maar dit is nou maar net een maal nie ‘n ryding vir ‘n man nie. Nou vir wie is die ryding dan gemaak?

Die motor het sagte lyne wat mooi en vroulik vertoon. Die feit dat hy eintlik ‘n buksie is, help ook nou nie eintlik nie. Alles is net te mooi om werklik goed te wees. Daihatsu het by sy moedermaatskappy Toyota gaan aanklop toe hulle die Terios II ontwerp het. Daar is baie van die vorige generasie RAV 4 in die voertuig. Een ding wat sommer stukke beter is as die eerste Terios’e, is die spasie in die binneruim. Daar is baie meer plek, nie net vir passasiers nie, maar ook vir bagasie. Die model waarmee ons rondgery het, was die 4×4-weergawe.

Stuurkolom van die TeriosDie Terios-reeks bestaan uit twee bakvorms  en twee aandrywingsweergawes. Jy kry die 4×2 en 4×4 in die kortasafstand- en langasafstandweergawe. Die kortasafstand-Terios het plek vir vyf insittendes en bagasie. Die sewesitplek- langasafstandweergawe is so ‘n aks of wat langer om die ekstra twee sitplekke te akkommodeer. Daardie sitplekke is ook net eintlik vir baie klein kindertjies of outjies met baie kort bene. Die binneruim is uitgedos in pikswart materiaalsitplekke en goeiekwaliteit- swart plastiek op die instrumentepaneel. Die middelste konsole is gemaak van silwer metaalagtige plastiek, redelik goeie kwaliteit wat ‘n sportiewe beeld skep. Daar is ook van dieselfde materiaal gebruik by al vier die deurhandvatsels aan die binnekant. Die instrumente is duidelik uiteengesit en mens kan alles mooi raaksien. Al die kontroles is op die regte plekke waar jy hulle nie sommer sal mis vat nie. Die Terios is redelik toegerus, met elektriese ruite, lugversorging, elektriese kantspieëls en ‘n voorlaai- kompakskyfspeler. Dit alles is na my mening heel standardtoerusting en hoort in alle voertuie wat nie ‘n intreevlakbegrotingskarretjie is nie. Persoonlik sou ek ‘n ritrekenaar, temperatuurmeter, outomatiese hoofligverstelling en banddrukmeter in hierdie tipe voertuig wou sien.

Op die pad

Die Daihatsu Terios van die kant afDie Terios is ‘n kompakte sportnutsvoertuig. Maar wag ‘n bietjie. Is dit presies nie wat BMW hulle X3 en Audi hulle Q5 noem nie? Wel, ja, so eintlik is die Terios ‘n trappie onder hulle. Eintlik ‘n minisportnutsvoertuig. Nou wonder ek wat is die RAV4 en Hyundai Tucson dan? Wel, hulle is nou weer ‘n trappie hoër as die Terios op die leer, en val onder die kompakte sportnutsvoertuie of sypaadjieklimmers. Die Terios het eintlik net een regte mededinger in Suid-Afrika en dit is die Suzuki Grand Vitara. Let wel, nie die Suzuki Jimni nie, want dié is heelwat kleiner en het net twee deure. Die Grand Vitara is nou wel effens langer maar al die ander syfers is omtrent identies aan dié van die Terios. Nou kan ‘n mens ook sê die Grand Vitara is toegerus met ‘n veel groter enjin (2 liter) en is dan ook baie duurder. Dit is so, maar dit is die voertuig wat die naaste aan die Terios kom, wat sy afmetings en binneruim aanbetref. Op ons rit van Pretoria na Bloemfontein en terug het die Terios hom goed gedra. Dit neem ‘n rukkie om die vierwielaandrywing gewoond te raak want die hele voertuig voel asof elke wiel sy eie rigting wil inslaan. Die ry-stopverkeer deur Johannesburg was ook nie een van die gemaklikste ervarings met ‘n Terios nie en alhoewel hy maklik hanteer en veral parkeer, is hy nie regtig vir hoëdrukspitsverkeer gebou nie. Ons toetsmodel is die handrat- 4×4-weergawe wat ‘n kort ratverhouding het; op die langpad is dit bietjie ongemaklik. Die 1,5 liter-brandstofinspuitingenjin ontwikkel 77 KW en ‘n heel respektabele 140 Nm. Die wringkrag was vir my nogal baie goed op die oop pad. Verbygaan by stadiger verkeer, veral by ‘n togspoed van 140km/h was verbasend goed as jy die klein verplasing van die enjin in ag neem. Gepraat van die enjin, om tot by ‘n gemaklike toerspoed van 130km/h te kom, het nogal baie toere geverg en die Terios moes nogal werk om dit te handhaaf. Met ons spoedtoetse kon ek nie meer as 155km/h haal nie wat heel skaflik vir dié tipe voertuig is. In Bloemfontein aangekom, het ek bietjie grondpad gery en dit is waar die Terios nou eintlik tot sy reg kom. Die voertuig het baie goeie vastrapvermoë en kan ook lag-lag met die meeste modderplasse en sandpaaie klaarspeel wanneer die ewenaarslot geaktiveer word. Die permanente vierwielaandrywing van die Terios versprei die krag so 60/40 na die voorwiele en dit help natuurlik met die trekkrag van die buksie.

Gevolgtrekking

Nou kom ons by die oorspronklike vraag: wie koop nou eintlik die Daihatsu Terios? Ek weet dit is nie mans met ‘n familie nie; dit is ook nie jong enkellopende mans nie. Enkellopende vroue soek eerder iets meer sportiefs. Die ouer garde koop hom nie want hy is te hoog om in te klim. Nou wie dan? Wel die Terios is die perfekte tweede voertuig vir Ma met die kinders, dis nou om hulle skool toe aan te ry. Hy is lekker hoog, so sy kan mooi om haar sien; sy ry nie lang afstande met hom nie; dit is meestal van huis na skool en ballet toe, ens. Daar is genoeg pakplek vir al die skooltasse en hokkiegoeters. Hy is kort en smal, dus parkeer hy maklik en kan op die sypaadjie klim as dit moet. Brandstofverbruik is redelik goed teen 8,7 l/100km vir ‘n 4×4-voertuig en Pa het sy Fortuner vir die naweke weg. Teen R230 000 is die Terios nie goedkoop nie, veral nie in die lig van die standaardtoerusting nie, maar vergeleke met sy naaste mededinging (die Grand Vitara teen R316 000) is die Terios nie sleg geprys nie. Daar is wel die GWM Hover 4×4; teen R213 000 is dit wat prys aanbetref die naaste teenstander en die spesifikasievlak is baie beter, maar dit is ‘n Sjinees en hy is heelwat groter. Dit is net die Suzuki Jimni 1,3 (R180 000) en die Fiat Panda Climbing 1,2 (R177 000) wat jou ‘n goedkoper 4×4-ervaring kan gee. So as jou vrou ‘n gemaklike kinderkarweier soek wat baie mooi lyk en op amper enige sypaadjie kan klim, is die Daihatsu Terios II 4×4 dalk net die regte voertuig vir haar.

casino gamedФільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.