Die skandaal rondom die ‘inligtingskandaal’

Deel op

Voor die uittrede van minister “Pik” Botha as destydse minister van buitelandse sake, het hy met groot sorg die geskiedenis van buitelandse sake laat skryf. Groot was my verbasing dat daar in hierdie belangrike stuk werk nie ‘n woord gerep word oor twee hoofdirektorate onder mnr. Botha wat koverte projekte bedryf het nie. Hierdie stand van sake het die hele inligting-”skandaal” in herinnering geroep.

Die inligtingtragedie van die tagtigerjare het die direkte gevolg gehad om die befaamde generaal Hendrik van den Berg (hoof van die nasionale intelligensiediens) en die belasterde drs. Connie Mulder (minister van inligting) en Eschel Rhoodie (direkteurgeneraal van inligting) te onttroon. Die verdere gevolge van die “skandaal” was dat president John Vorster in oneer deur die staatsgreep uit die mag gestel is. Minister Connie Mulder moes bedank. Voor dit was hy die kroonprins van die Nasionale Party. Dr. Eschel Rhoodie het eers landuit gevlug, is in Frankryk gearresteer (sonder om sy vrou in te lig wat iewers in ‘n hotel tevergeefs op hom sit en wag het), hier in Potgieterstraat in die tronk gesmyt, later onskuldig bevind en is per eersteklasvliegkaartjie terug na Europa. Veel later het hy weens ‘n hartaanval op ‘n tennisbaan in Amerika gesterf, ver van die land waarvoor hy op ‘n stadium alles gegee het.

Die Vorster/Van den Berg/Mulder-era is opgevolg deur P.W. Botha en R.F. Botha. Dit het bekend gestaan as “die coup van die Bothas” en wraak van Robert Charles Barry, die toenmalige ouditeur, kontroleurgeneraal en voorganger van Rhoodie by inligting. Een militêre vuis, die vuis van Vorster se veiligheidspolisie, is vervang deur die sekurikrate (die weermag en sekretariaat van die staatsveiligheidsraad). Hierdie omruiling van die mag het ook uiteindelik sy logiese uiteinde in die politieke kapitulasie van F.W. de Klerk, die vrylating van Nelson Mandela en oorname deur die ANC gevind.

Die beweegrede vir die oorname van die Bothas en die vernietiging van Vorster en Mulder deur die Bothas het rondom die geheime projekte van Eschel Rhoodie en sy inligtingsdepartement gedraai. Suid-Afrika was die skyf van die kommunisme in die Koue Oorlog tussen Oos en Wes. “Pik” Botha se buitelandsesakedepartement – of die streepbroekbrigades, soos hulle geheet het, is nie vertrou om die politieke boodskap van afsonderlike vryhede effektief te bemark nie. Daarom is die departement van inligting in die binne- en buiteland ontplooi, om as propaganda-arm die politieke boodskap van afsonderlike vryhede te verwoord. Die department van inligting se werksaamhede is egter nie deur die Wet op amptelike geheime gedek nie en om dit deur wetgewing te doen, sou slapende honde wakker maak. Daarom moes ‘n ander weg gevind word. Hierdie weg was die geheime rekening van die Weermag. Die ambisieuse P.W. Botha en opponent van Connie Mulder was die betrokke minister.

Die hooftaak van die inligtingsmanne by buitelandse missies was die bemarking van die politiek van afsonderlike ontwikkeling. Bemarking moes met konvensionele asook onkonvensionele metodes geskied. Politieke fronte is wêreldwyd tot stand gebing. Agente is onplooi en miljoene rande is in ‘n veldtog, wat op sielkundige oorlogvoering neergekom het, geïnvesteer.

Met R.F. Botha aan die politieke stuur van buitelandse sake is die inligtingsmanne teen wil en dank by missies aanvaar, maar altyd as tweederangse diplomate hanteer. Inligtingsmanne is as attachés, of aangelaptes, ontvang. Hier en daar was daar ‘n raad en in ander gevalle ‘n residentminister (‘n diplomatieke titel hoër as dié van ‘n raadgewer) op die diensstaat van ‘n ambassade aangestel, maar die tweede-in-bevel was deurgaans ‘n streepbroekdiplomaat van buitelandse sake. Die teenkant van die munt was natuurlik dat hoofde van missies grootliks in die duister was oor die “politieke” doen en late van inligtingsmanne. Dit is aan die diskresie van inligtingshoofde oorgelaat om die hoofde van missies in te lig, as en wanneer nodig.

Onder die leiding van die dinamiese Eschel Rhoodie het die departement van inligting, ondersteun deur generaal Hendrik van den Berg se nasionale intelligensiediens, as ‘n effektiewe propaganda-instrument ontwikkel. Die moreel onder die amptenare was hoog. Die departement is uitgebou as ‘n alternatiewe “departement van buitelandse sake”. As en wanneer B.J. Vorster die mag sou oorgee aan Connie Mulder, waarna Connie Mulder vir Eschel Rhoodie sy minister van buitelandse sake sou maak, is wyd en syd gespekuleer.

Onder die leiding van die Rhoodie-broers en onder aansporing van Connie Mulder is gesoek na ‘n alternatiewe politieke beleid, wat konsosiatiewe demokrasie, Lijphart se model, geheet het.

Die wêreldwye aanslag teen SA het natuurlik in die guns van die departement van inligting getel. Die ANC het inmiddels geslaag, om met die hulp van Westerse moondhede apartheid tot ‘n “misdaad teen die mensdom” te verklaar. Die boodskap wat menige ambassadeur deur minister Botha na die kabinet gestuur het, was dat die wêreldwye aanslag teen SA kan lei tot internasionale sanksies en selfs die blokkade van Suid-Afrikaanse vliegtuie en skepe. Dus ‘n totale isolasie van die land.

Die departement van inligting was egter die voorstander van ‘n idee dat SA net deur onkonvensionele metodes gered kon word. Dit het behels:

  • Die skepping van geheime frontorganisasies in die belangrikste Westerse lande.
  • Die geheime ontplooiing van agente, wat politici en joernaliste, in die buiteland ingesluit het.
  • ‘n Uitgebreide gasteprogram om buitelandse meningsvormers te toon welke projekte in die binneland van stapel gestuur is om swartes vanuit hul armoede en onderontwikkeling op te hef.

Soos te verstaan, is agente en medewerkers in harde kontant betaal, maar is kwitansies nie gevra nie. Watter buitelanders sou dan meewerk as dit ‘n vereiste was?

Die swak skakel of Achilleshiel in die operasionele raamwerk van die inligtingsdepartment was dat die geheime fondse deur die Weermag gekanaliseer is. Die politieke vyande van Vorster, Mulder en Rhoodie sou hierdie swakte in die politieke magspel tot eie voordeel uitbuit. Na bewering is projekte en dokumente na die media gelek. Op hierdie stadium is dit miskien ongewens om nadere besonderhede oor die personalia en taktiek van die politieke oorname te gee. Feit is dat die Bothas oorgeneem het en dat die buitelandse komponent van die voormalige departement van inligting deur die departement van buitelandse sake opgeneem is.

Die logiese verwagting is natuurlik dat alle voormalige geheime projekte gesluit sou word. Nee, inteendeel, die ambisieuse “Pik” Botha het genoeg politieke slinksheid en diepte gehad om te weet dat hy nou die alleenverantwoordelikheid vir die politieke oorlewing van SA in die buiteland dra. Derhalwe moes die koverte projekte gewoon voortgaan en in intensiteit verhoog! In die reorganisasie van buitelandse sake is die volgende koverte hoofdirektorate tot stand gebring:

  • Hoofdirektoraat strategiese beplanning met as opdrag die diskreditering van die ANC en van bevrydingsteoloë; en
  • hoofdirektoraat ekonomiese projekte, om desinvestering teen te werk.

Hierdie hoofdirektorate is stelselmatig mee weggedoen toe die klok vir die Nasionale Party in die onderhandelingspolitiek gelui en die grafskrif ook vir buitelandse sake geskryf is. Hier rondom 1992 is die dokumente van beide hoofdirektorate op groot skaal vernietig en het politieke geheueverlies oorgeneem. Derhalwe is die dokumente nie tot die beskikking gestel van diegene wat die geskiedenis van buitelandse sake geskryf het nie.

Om puntjie by paaltjie te plaas: die vermeende inligting-”skandaal” van die tagtigerjare is deur ‘n ware skandaal in die negentigerjare opgevolg. Tot dusver het geen haan daarna gekraai nie.

для девочек игриФільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.