Polisie roer nie vinger om sakeman te beskerm

Deel op

‘n Sakeman van Ermelo, Hendrik Celliers, word nou genoodsaak om hom in die komende week (Dinsdag, 24 November 2009) tot die Hooggeregshof in Pretoria te wend in ‘n poging om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te dwing om verskeie hofbevele uit te voer ter beskerming van Celliers se dieselverspreidingsonderneming en personeel. Die SAPD in Ermelo het tot dusver geweier om op te tree, ten spyte van Celliers se versoeke daartoe, asook bindende hofbevele. Celliers word tans deur AfriForum ondersteun.

Die drama het begin toe Celliers se dieselonderneming op 26 Februarie 2008 deur ene Percy Masinga en ses ander mans beset is. Masinga, ‘n aandeelhouer van die onderneming van wie Celliers die perseel wettig huur, het R180 000 van Celliers se diesel tydens die besetting vir sy eie gewin verkoop, voordat die besetting gestaak is. Celliers het ‘n hofbevel bekom wat Masinga verhoed om in te meng in die dieselonderneming se bedrywighede en het ‘n diefstalklag teen Masinga aanhangig gemaak.

Masinga en sy meelopers het die hofbevel geminag deur toegang tot die onderneming te versper. Die SAPD het versuim om teen hulle op te tree. Nog ‘n hofbevel is bekom, wat weer deur Masinga geïgnoreer is, terwyl die SAPD steeds nie opgetree het nie. Na ‘n verdere hofsaak is Masinga op 27 Oktober 2008 weens minagting van die hof tot 30 dae aanhouding gevonnis. Die SAPD het ten spyte hiervan tot op hede nog nie vir Masinga gearresteer nie en ook nie die diefstalsaak teen hom verder hanteer nie.

Masinga het volgens Celliers aangedui dat hy “baie kontakte op hoë plekke het” en “bo die wet verhewe is”.

Celliers se dieselonderneming is op 25 September vanjaar weer deur Masinga beset, sonder dat die SAPD ‘n vinger verroer het om dit te verhoed.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, hou die SAPD se weiering en versuim om hofbevele uit te voer, ‘n ernstige bedreiging vir wet en orde in die land in. “AfriForum sal daarom aanhou om druk toe te pas, sodat diegene wat hiervoor verantwoordelik is, tot orde geroep word,” het Kriel bygevoeg.

 

итальянские люстрыФильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.